Wo 30 Des: Eerste Liefde

LEES: 1 Johannes 4: 10 – 19

“Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

'n Klein dogtertjie het in die sitkamer, op die vloer, met haar pop gesit en speel, vertel Indian Christian, terwyl die ma by die tafel druk met haar agterstallige korres­pon­den­sie besig was. Uitein­de­lik is die ma klaar en sit haar pen neer. “Jy kan nou kom, Alice, ek is klaar met wat ek vanoggend wou doen.” Die kind hardloop na haar ma toe, klouter op haar skoot, ter­wyl sy uitroep: “Ek is so bly, want ek wou heel môre al Ma so lief hê.” Die ma antwoord, in die hart geraak: “Maar dit het vir my gelyk jy is so te vrede met jou klein Dolly.” ”Ja, Ma, maar ek het moeg geword. Sy kan my nie terugl iefhê nie.” “Is dit hoekom jy my liefhet, omdat ek jou terug­ liefhet,” sê die ma terderlik en druk haar teen haar vas. “Dit die een hoekom, maar nie die eerste en beste hoekom ek Ma so liefhet nie.” “Wat is dan die eerste en beste hoekom?” Die dogtertjie ant­woord met `n sag­te stemmetjie: “Omdat Ma my liefgehad het, toe ek te klein was om Ma lief te hê.” Die ma se oë word vol trane en sy fluister: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

As die Here ons nie eerste liefgehad het nie,  terwyl ons met ons rug na Hom toe lewe en met ons eie dinge aangegaan het, sou ons nooit by die Here uitgekom het nie. “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons lief­gehad het en sy Seun gestuuur het as `n versoe­ning vir ons sondes.” (1 Joh.4:10). Gelukkig het die evangelie na ons toe gekom en Johannes kan skryf: “En ons het die liefde wat God tot ons het leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom…”

“Here, vandag dank ek U, dat U my eerste liefgehad het.”

Di 29 Des: Krag in Sy Werk

LEES : Kolossense 4: 2 – 14

“Epafras wat een van julle is, `n dienskneg van Chrtistus …. stry altyd vir julle in die gebede..” (12).

Die sendeling David Brainerd het sy groot­ste werk deur gebed gedoen, skryf S. D. Gordon sy storie. Hy was in die diepte van die woud, onbe­voeg om die Indiane se taal te praat. Hy het volle dae in gebed deurgebring. Hy het gebid vir `n be­voeg­de tolk. Hy het gebid vir die krag van die Hei­lige Gees, sodat hy baie vrugbaar sal preek in­dien hy `n tolk kan kry. Hy kan die mense nie vir Chris­tus wen as hy nie verstaanbaar met hulle kan kom­mu­nikeer nie. `n Tolk het vir hom te voor­skyn ge­kom. S. D. Gordon skryf hieroor: “On­ce he preach­ed through a drunken interpeter, a man so intoxi­cated that  he could hardly stand up.That was the best he could do. Yet scores were con­verted through that sermon. We cannot account for it only that is was the tremendous power of God be­hind him.” So het David Brai­nerd, biddend sy groot werk onder die Indiane in daardie woud ge­doen. Die groot vrug op sy werk, wat die krag van ge­bed in `n mens se werk vir die Here beklem­toon, het egter eers later, na sy dood, ge­kom. William Carey het `n boek oor sy lewe en sen­dingwerk gelees en hy het Indië toe gegaan. Ro­bert McCheney het sy dag­boek gelees en onder die Jode gaan werk. Henry Martyn het sy joernaal gelees en ook Indié toe ge­gaan.

S. D. Gordon probeer die geheim van die krag wat van David Brainerd uitgegaan het so ver­klaar. “The hidden life in communion with God in trying to reach the source of power, is the life that moves the world.

In al sy briewe in die Bybel, lê Paulus gedu­rig klem op die noodsaaklikheid en krag van ge­bed. “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuit­spreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deur­soek weet wat die bedoeling van die Gees is… (Rom.8:26).” Aan die Ëfesiërs skryf Paulus: “..terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges en vir my, sodat `n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenehid van die evangelie bekend te maak…” (Ef.6:18,19). Aan die Kolossense skryf hy: “Volhard in die ge­bed en waak daarin met dank­segging; en bid tege­lyker­tyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus…” (Kol.4:2,3). Hy skryf in v.12 “Éprafas wat een van julle is, `n dienskneg van Chris­­­tus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede …”.

Wanneer `n lid van `n gemeenskap, of`n gemeente, of `n huisgesin, `n voorbidder vir sy mense word, is dit vir daardie groep `n bate en vir homself `n onbeskryflike seën. Kom ons dra die koninkryk van die Here Jesus op ons knieë verder.

Here, vandag neem ek u koninkryk en verlore siele op my hart en dra hulle op my knieë verder.”

Ma 28 Des: 'n Lamp Waarsku

LEES : Matthéüs 5: 13 – 16

“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle ….. Vader wat in die hemele is, verheerlik”

Een donker nag, sien die wag by `n spoor­oor­gang, `n motor teen hoë spoed die trein­oorgang nader. `n Trein is ook vinnig aan die kom. Hy gryp sy lamp en hardloop na die oorgang toe. Heel tyd skreeu hy en swaai sy lamp. Die motoris vermin­der nie spoed nie. Die trein jaag oor die motor en die motoris word gedood. Die hekwag word voor die hof gedaag. Die eerste direkte vraag is: “Het jy, of het jy nie, die lamp geswaai vir die motoris nie?” Met bewende lippe antwoord die hekwag: “Meneer, voor God, sweer ek en ver­klaar, ek het die hele tyd aanmekaar die lamp geswaai.” Hy is ontslaan. Na die saak verby is, vra een van sy beste vriende hom: “George, hoekom het jy so hewig gebewe toe jy jou getuienis gegee het?” George ant­woord: “Ek hét die lamp geswaai soos ek getuig het, maar mag God my vergewe, daar was nie lig in die lamp nie.” Dalk was die lampolie ge­daan, dalk het die pit te kort geword. Maar die feit bly staan, die swaaiende lamp in sy hande kon nie waarsku nie. Die lig was dood.

A. Naismith waarsku: “…in many places of worsh­ip, where the glad tidings and warning notes of the gospel should be sounded out, there is no light in the lamp.” Die aktiwiteite gaan voluit aan, maar die lig wat moet waarsku brand nie. “…and multitudes dash on to eternity and destruction…”

“Here, hou deur u Gees ons lamp brandend.”

Do 24 Des: 'n Vervulde Kersdag

Lees Matteus 2:9-12

“Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys” (10,11).

Die Kersfees van 1950 het die lidmate van ‘n klein gemeente in Noord Ierland, tot aksie aangespoor. Hulle kerk was in ‘n verwaarloosde toestand en Kerfees was net om die draai. Hulle het besluit om vir Kersfees hul kerkie skoon te maak en op te knap. Twee dae voor Kers­fees tref ‘n storm die dorpie en maak hulle hande­werk feitlik tot niet. In die muur, voor in die kerk, het die storm die nuwe pleistering, wat ‘n kraak moes bedek, weggestroop. Die volgende dag, die dag voor Kersfees, het die gemeentelede hul besems en borsels gebring, en probeer om die kerkie so goed moontlik reg te kry vir die Kersdiens dié Oukersaand.

Op pad kerk toe daardie oggend, het die predikant by ‘n veiling verby gestap. Hy het vir ‘n klein bedraggie ‘n pragtige geborduurde, vyf meter lange, tafelkleed ge­koop. Dit was net die regte ding om die kraak in die muur mee te bedek. By die kerk gekom, word sy aandag getrek deur ‘n vreemde, eensame vrou wat met hang skouers voor die kerk staan. Hy nooi haar saam met hom in die kerk in en laat haar solank op ‘n bank sit, terwyl hy, wankelend op ‘n leer, gou die kleed wat hy gekoop het, voor die kraak probeer drapeer. Toe hy die kleed oopvou en laat afhang, kom die vrou met ‘n kreet regop. “Dit is myne!” roep sy uit. “Kyk in die hoek  my drie voorletters. Dit was ‘n geskenk van my man.”

Daarop vertel sy vir die predikant  sy en haar man het in Viënna gewoon. Met die oorlog het hy in ‘n kon­sen­trasie­kamp beland. Sy het Engeland toe gevlug. Haar man is in die kamp dood, het sy verneem. Sy wou die tafelkleed nie  terug neem nie. Hy het haar gehelp om op die stasie te kom.

‘n Groot aantal gemeentelede en besoekers het die aand die Kersdiens bygewoon. Na die diens het ‘n man met die predikant kom praat. Hy het na die tafelkleed gewys en aangedaan gesê: “Ek het daardie tafelkleed in Viënna vir my vrou as ‘n geskenk gegee. In die oorlog is ons geskei. Ek het verneem sy het in ‘n kon­sen­trasie­kamp beland waar sy dood is. Ek woon nou in hierdie dorp. Ek is so bly ek het vanaand na die Kersdiens in hierdie kerk toe gekom.”

Die predikant het met groeiende opgewondenheid na die man geluister en hom van die vrou vertel. Hulle wou dadelik met haar in aanraking kom. Die predikant kon gelukkig die welge­stel­de gesin se naam onthou. Hulle het gewillig haar adres ver­strek. Die predikant en die man is sommer nog dieselfde nag na die dorp toe waar die vrou gewoon het. Dit was ‘n vreugdevolle ontmoeting en vir hulle twee die beste Kersfees ooit. Die man en vrou was albei Christene. Sy het dadelik by haar man kom woon en hulle het toegewyde lidmate van daardie gemeente geword. Die tafelkleed het vir ‘n lang tyd teen die muur bly hang. Die kerkie het die naam gekry van “Die Tafelkleedkerk.”

Vir die man en sy vrou én vir die predikant was dit ‘n vervulde Kersfees van geloof en dankbaarheid en liefde.


“Here, ek wil vandag met blydskap Kersfees vier.

Wo 23 Des: Die Ruwe Ou Kruis

Lees 1 Petrus 2: 18 – 25

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” (24).

George Bennard het sy werk as evan­gelieprediker by die Heilsleër begin. Agt jaar later is hy in die Metodiste­kerk as leraar georden. Sy toegewyde bedie­ning as evan­gelis in die kerk was vir baie jare hoog aan­ge­skryf. Een keer het Bennard met ’n bedrukte hart, weens persoon­li­ke beproewing, na sy huis in Albion, Michi­gan terugge­keer. Hy het die beteke­nis van die kruis van Christus ernstig oordink en wat Pau­lus in Filippense 3:10 bedoel het, waar hy praat van ge­meenskap met die lyding van Christus: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy ly­ding deur aan Hom gelyk te word…”. Hy het lang ure be­gin deurbring met Bybelstudie, gebed en oordenking. Op ’n dag het die lig vir hom deurgebreek. Hy skryf daarvan: “I saw the Christ of the cross as if I were seeing John 3:16 leave the printed page, take form and act out the mea­ning of redemption. The more I contemplated these truths the more convinced I became that the cross was far more than just a religious symbol but rather the very heart of the gospel.” Tydens hierdie geestelike stryd in sy hart het die tema van “The Old Rugged Cross” in sy ge­dagte begin vorm. Op ’n dag begin die woorde en die melodie van die lied in sy gemoed oopgaan. Die Heilige Gees maak die kruis vir ’n mens ’n groter en gro­ter werk­likheid, as ons deur gebed en Bybelstudie ons har­­te vir Hom open: “Die Gees staan ons ook in ons swak­heid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woor­de gesê word nie. En God, wat die harte deur­grond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God vir die gelowiges” (Rom.8:26). Binne ’n kort tyd het hy die woorde en die melodie geskryf en dit vir Charles Gabriel, ’n leidende liedskrywer, ge­stuur. Gabriel het vir hom, in eie woorde, terug laat weet: “You will centainly hear from this song, Mr. Bennard.” Dit was profetiese woorde, want hierdie lied het een van die be­kendste geestelike liedere geword.

Daar’s ’n dierbare kruis, waar my Heiland bewys

Di 22 Des: Die Lewende Woord

Mense het Hom verag en wou niks met hom te doen hê nie. Hy is iemand wat bittere lyding ken en goed weet wat pyn is. – In die ongelowige wêreld sal julle swaarkry, maar moenie bang wees nie, want Ek het die wêreld oorwin. – Die jakkalse in die veld het gate om in te bly en die voëls het neste, maar Ek, die Redder, het nie eers ’n plek van my eie waar Ek my kop kan neerlê nie. – Want ons vaste woonplek is nie hier op die aarde nie. Ons sien uit na ‘n permanente tuiste wat kom. – Ons is soos atlete wat op die atletiekbaan hardloop in die wedloop wat God vir ons bepaal het. Hou julle oë altyd op Jesus, want Hy lei ons om op  God te vertrou en Hy sal ons leier bly tot die einde toe. Hy was gewillig om die skandelike dood op die kruis te sterf ter wille van die vreugde wat voorgelê het. Nou sit Hy in die ereplek in die hemel aan die regterkant van God. –  Maar ons broers het (Satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die boodskap wat hulle aan ander vertel. – God het ons vir Homself uitgekies. Wie sal nog kan aankla? Niemand nie, want dit is God self wat ons skuld weggeneem het. Wie sal ’n vonnis oor ons kan vel? Daar is niemand wat dit kan doen nie, want Christus Jesus het vir ons gesterf. – As iemand aan Jesus Christus verbind is, sal God hom nie veroordeel nie. Dit is Hy wat ons so liefgehad het, dat Hy ons sondes met sy bloed afgewas het…aan Jesus Chris­tus behoort die Goddelike eer en die krag tot in die oneindige ewigheid.

 “Here, vandag lees ek u Woord en ek luister.”

Ma 21 Des: Betyds Gereed

Lees 1 Tessalonisense 4: 13 – 18

“Wanneer… die trom­­­pet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Chris­tus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weg­ge­voer word, die lug in, die Here tegemoet” (16,17)

James Black was ’n ywerige en aktiewe wer­ker en prediker in die Metodiste kerk, ’n sogenaamde Me­thodist layman, ’n musiekonderwyser en kom­ponis en uitgewer van talle evangeliese liedere, gospel songs. Hy het ook as Sondagskoolonder­wyser en leier van ’n jeuggroep onder kinders en jongmense gewerk. Eendag loop hy ‘n 14-jarige dog­ter raak. Sy was armoedig geklee en die kind van ’n dranksugtige man. Op Black se aandrang het sy Sondagskool begin bywoon en by die jeug­groep aan­ge­sluit. Een aand, by ’n toewydings­ver­ga­­de­ring van die jeuggroep, moes die jongmense met ’n teksvers ant­woord as hulle name uitgelees word, die sogenaamde roll call. Toe die dogter se naam ge­­lees word, is daar net stilte. Sy was nie daar nie! James Black gebruik toe die ge­leent­heid om te praat oor hoe hartseer dit sal wees as iemand se naam die dag met die opening van die Lam se Boek van die Lewe uit­ge­lees word en die persoon is nie daar nie. Black skryf: “When I reached my home, my wife saw that I was deeply troubled. Then the words in the first stanza came to me in full. In fifteen minutes more, I had com­posed the other two verses. Going to the piano, I played the music as it is found today in the hymnbooks:

When the trumpet of the Lord shall sound and time shall be no more

And the morning breaks eternal, bright and fair –

When the saved of earth shall gather over on the other shore,

And the roll is called up yonder, I ‘ll be there.

                Die volgende dag moes Black uitvind, sy was nie daar nie omdat sy siek lê aan longontsteking. Hy skryf: “The subsequent death of the missing girl from pheumonia, after an illness of just ten days, furnished the dramatic finale to this account and gives a poiqnancy to the ‘roll call’ song”. Na hierdie lied in 1894 verskyn het, word mense daar­deur aangegryp. Ons het dit in Afrikaans: “As die boeke oopgemaak word, is ek daar.”

“Here, vandag weet ek my naam is in u Boek van die Lewe geskryf, want U is my Saligmaker.”

Vry 18 Des: Die Pêrel Verloor

Lees 2 Timoteus 3:1-9

 “…mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (5).

’n Jong predikant het een oggend ’n een­vou­dige, maar treffende en verstaanbare boodskap ge­bring. Sy teks was Jesus se woorde aan die gemeente Efese in Openbaring 2: 4: “Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.” Die predikant hou ’n skulp op. “Pê­rels word in skulpe gevind,” sê hy ernstig. “Hierdie is ’n egte skulp.” Hy klop teen die skulp. “Hoor, hy klink soos ‘n skulp. Kyk, hy lyk soos ‘n skulp. Want hy is ‘n skulp.” Hy skud die skulp. Hy draai hom om en krap met sy vinger in die skulp. “Maar hierdie skulp het sy pêrel verloor. Nou is dit net ‘n dop.” Toe gaan hy aan om die toepassing te verduidelik. So was die gemeente van Efese. Hulle het ‘n won­der­like struktuur gehad. Hulle was ywerig. Hulle leer was suiwer. Maar hulle het die Here Jesus verloor. Hulle het Hom nie meer liefgehad nie.

In ons geestelike lewe kan ons die pêrel verloor. Ons doen nog alles wat van ‘n Christen verwag word - lees By­bel, bid, gaan kerk toe, gee bydraes - maar die om­gang en gemeenskap met Jesus het ver­lore geraak. Die Heilige Gees verheerlik die Here Jesus in die hart. In ‘n hart vervul met die Heilige Gees is daar ‘n sterk liefde vir Je­sus. “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom.5:4). Hy is die pêrel van die geestelik lewe, want die Heilige Gees maak Jesus ‘n werklikheid in die hart. “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy…My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig”

Die Christen se stiltetyd, of binnekamer, is baie belangrik. Wanneer ons so by onsself in ons binne­kamer, afgesluit van ander dinge wat ons aandag vra, die Here se Woord lees en oordink, sy aan­ge­sig in gebed soek, dalk ‘n geestelike boek lees, maak die Heilige Gees Hom vir ons ‘n werklikheid en leef die Persoon van die Here Jesus in harte. Iemand het gesê vir al ons daag­likse belange het ons tyd: tyd om te eet, tyd om te werk, winkel toe te gaan, iemand te bel, TV te kyk, maar vir Bybel­lees en bid moet ‘n mens tyd maak. “…maar dié wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jes.40: 31)

“Here, vandag soek ek Uaangesig.”

Do 17 Des: Red wat Verlore Is

Lees Lukas 19: 1 – 10

“Daarop sê Jesus: ‘Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (10).

Die beroemde prediker, George Whitefield, het ’n broer gehad wat in sy geestelike lewe afvallig geraak het. Onder een van George Whitefield se preke is die broer se hart aangegryp en het hy tot besef van sy afvallige toetand gekom. Hy het eg­ter in ’n toestand van diepe bedruktheid verval. Een van sy kennisse, die gravin van Hun­­tington wat self ’n blymoedige Christin was, het pro­beer om hom tot gelowige vertroue in Christus aan te spoor. Maar alles tevergeefs;. “Ek weet wat u sê is waar, die genade van God is ewig,” het hy bedruk geantwoord. “Ek sien dit duidelik. Maar, ag! Daar is geen genade vir my nie. Ek is ’n ellendeling, vir ewig verlore.” “Ek is bly om dit te hoor”, het Lady Huntington geantwoord. “Ek is bly jy is ’n verlore man.” “Bly?” vra hy verbaas. “U is bly ek is verlo­re?”  “Ja, mnr. Whitefield,” het sy bevestig, “regtig bly, want Jesus Christus het in die wêreld gekom om te red wat verlore is. Dit gee my hoop.” “Dank God!” roep hy met verhelderende gesig uit. “Dan­kie vir daardie woorde. Ek voel daar is krag in daardie woorde! Jesus Christus het in die wêreld gekom om te red wat verlore is. Dit gee my hoop.  Baie hoop. Ek glo dit!” Skielik voel hy benoud. Hy gaan uit om lug te skep. Na ’n rukkie kom hy in die vertrek teruggestrompel. “Ek voel skielik baie siek,” kreun hy. Hy sak inmekaar en sterf daar voor Lady Huntington se oë. God se genade het hom gespaar totdat hy sy geloof in Christus gevestig het. Die Here wil nie hê ons moet verlore gaan nie, maar gee vir ons geleentheid op geleentheid om vir ons redding in Hom te vetrou.

“Here, vandag glo ek U vir my redding.”

Wo 16 Des: Geloof in Aksie

Lees Lukas 5:18-26

“Toe … laat (hulle) hom met die draagbaar en al … tussen die dakteëls afsak … vlak voor Jesus.Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: ‘Mens jou sondes is jou vergewe” (19,20).

Die outydse seilskip waarmee die sendeling, Hud­son Taylor, na Sjina gereis het, het in ’n windstilte be­land. Die seestroom het die skip onverbiddelik na die rotsagtige strand meegevoer. Die gevaar was nie net die rotse nie, maar die inboorlinge was kannibale. Die passasiers kon die barbare op die strand om hul vure sien dans. Die kaptein het benoud vir Taylor gevra om te bid dat die Here wind stuur. “Ek sal bid,” het Taylor geantwoord, “maar dan moet die seile eers gehys word.” Hiervoor het die kaptein nie kans gesien nie. “Dan bid ek nie,” het Taylor beslis gesê. Die seile is gehys en Taylor het in sy kajuit tot God geroep om hulle te help. Skaars het hy begin bid, of die kaptein klop aan die deur. “Hou op bid, mnr. Taylor, “ skreeu hy opgewonde. “Ons het al meer wind as wat ons kan hanteer!”

Die jongman se vriende se geloof het Jesus groot vreugde verskaf en hulle geloof is beloon. Die dissipels se paniek tydens die storm op see weer (Luk.8:22-25), was vir Jesus ’n teleurstelling, tog het Hy die storm stilgemaak. Geloof wat so bewus kan word van God se almag, dat dit in ons verwagtende gedrag gesien kan word, is geloof wat God behaag, vir onsself ’n groot seën is en ’n goeie getuienis na ander toe uitdra. Waag om die Almagtige en Getroue God se beloftes te glo!

“Here, vandag kom ek om van U te vra wat ek nodig het.”

Di 15 Des: Die Beste Vriend

Lees Johannes 15: 9 – 17

“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê… So sal die Va­der aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra” (13,16).

Joseph Scriven was ‘n ryk en geleerde jong­man in Ierland. Die nag voor sy troue het sy ver­loof­­de in ‘n rivierongeluk verdrink. “In his deep sor­row, Jo­seph realized that he could find the so­lace and sup­port he needed only in his dearest friend, Jesus”, skryf Osbeck. Kort na die tragedie het Scriven in 1845 geëmigreer Kanada toe, waar hy in Port Hope gaan woon het. Sy voorneme was om sy lewe aan Christus toe te wy deur ander te help, soos Jesus sy dis­sipels geleer het: “Gee en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol…met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word” (Luk.6:42). Hy het geld en klere aan mense wat dit nodig ge­had het gegee, vir an­der het hy sonder vergoeding ta­ke verrig, en bekend geword as die Goeie Samari­taan van Port Hope. Sy moe­der in Ierland het siek geword. Hy het vir haar ‘n ver­troostende brief ge­skryf en die woorde van die nuwe gedig wat hy ge­skryf vir haar ingesluit. Hy het haar aangemoe­dig om nie te twy­fel in haar beste vriend, die Here Jesus, nie. Hy het eenkeer self siek geword. ‘n Vriend het hom besoek en die gedig se woorde op ‘n los vel papier, langs die bed, geskryf ge­sien. “Wie het dit geskryf?” wou die verbaasde vriend weet. “Ek en die Here het dit saam geskryf,” het Scriven geantwoord. Hy is op 66-jarige ouderdom dood. Sy graf, met die lied se woorde op die graf­steen, is te sien naby Peterborough, Ontario. Die gedig is later deur Charles C. Converse getoon­set. So sing ons die lied: “Wat ‘n vriend het ons Jesus.”

Die rykste aardse vrug van Joseph Scriven se be­proewing en toewyding daarna, is die waarde wat hier­die lied die afgelope byna ‘n eeu en ‘n half vir gelowi­ges ge­had het. Dit inspireer geloof en bring vrede vir die hart. Die lied vertel van die grootste beskutting wat ons in hier­die lewe het: om Jesus as vriend te ken.

Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan;

Wat ‘n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan!

Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart,

Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!    

“Here, vandag ken ek U as my beste Vriend.”

Ma 14 Des: 'n Rusplek vir 'n Seer Hart

Lees Romeine 8: 31 – 39

”Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?…in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons lief het” (35,37)

 George Matheson was ’n blinde Skotse predikant. Die Vrydagnag van 6 Junie 1882 was hy, op 40-jarige ouder­dom, alleen in sy pastorie by In­ne­lan. Die volgende dag sou dit sy suster se troudag wees. Die hele familie was weg Glasgow toe waar die huwelik sou plaasvind en waar hulle sou oornag. Weens sy blindheid kon hy nie saamgaan nie. Hy was nog ’n jong teologiese student toe hy deur sy geneesheer ge­ waar­­sku is, dat hy besig is om blind te word en dat dit nie ver­­hoed of genees kan word nie. Hy was verloof aan ’n ander kollegestudent. Hy het gevoel dit is sy plig om haar van sy naderende blindheid te vertel. Na sy oor die skok van sy bekentenis aan haar gekom het, het sy vir hom gesê: “Ek wil nie die vrou van ’n blinde prediker wees nie.” Die nag so al­leen in sy wo­ning, terwyl die opwinding van sy suster se troue oor hom en by hom verby gegaan het, het ’n diep neerslagtigheid Matheson oorval. Dit kon die her­in­­nering van sy eie lief­des­ teleurstelling gewees het wat met ge­weld na hom toe teruggekom het. Oor sy belewenis die nag skryf hy: “Something happened to me, which was known only to myself, and which caused me the most severe mental suffering. The hymn was the fruit of that suffering. It was the quickest bit of work I ever did in my life. I had the impression of having it dictated to me by some inward voice rather than of working it out myself. I am quite sure that the whole work was completed in five minutes.” Hy het geskryf:
 “O Love that wilt not let me go, I rest my weary soul in Thee; I give Thee back the life I owe, that in Thine ocean depths its flow may richer, fuller be. Die lied wat ons ken en sing en wat getoonset is deur Albert L. Peace klink so:

O Liefde, diep oor my begaan, neem my met al wat my vermoei!
Sien my tog in genade aan – en laat, o Bron van my bestaan,
U krag in my ook vloei.
O Vreugde, selfs in leed en pyn, vir U ontsluit ek nou my hart;
Die reën laat die boog verskyn, gewis daag, na die nag verdwyn.
Die môre sonder smart!

 “Here, vandag leun ek met my hartseer teen u bors.”

Vry 11: Die Totale Straf

Lees TITUS 2: 11-15

“Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen” (14)

Zeleucus, koning van die outydse Locri, het ’n nuwe wet uitgevaardig. Die straf vir oortreding sou wees, altwee oë van die oor­treder moes uitgesteek word. Een van sy eie seuns het die wet oortree. Die ernstige misdaad moes nou volgens die eis van die wet gestraf word. Die koning was diep geskok en ontroer, oor wat nou met sy kind gaan gebeur. Die jongman sou vir die res van sy le­we blind wees. Hoe graag sou hy hom wou vryspreek. Die eis van die gereg het hom egter gebind en verplig om die straf toe te pas. Hy het beveel die straf moet, soos die wet eis, volvoer word, maar hy het ook beveel, dat één van die seun se oë en één van sy eie oë, uitge­steek moet word. Die reg van die wet is, volgens sy be­skou­ing, uitgevoer, maar sy liefde vir sy seun het ook ge­seë­vier, want die seun sou nie blind wees nie. Dit het die koning ’n persoonlike prys ge­kos om sy seun te beskerm. Dit is gedeeltelik ’n beeld van die verlos­sings­weg wat God uit liefde vir die sondaar be­­werk het. Het Zeleucus albei sy eie oë laat uitsteek, en sy seun geheel ongedeerd laat gaan, het hy gedoen wat God gedoen het.

Sonde moet met die dood gestraf word, maar om­dat God ons lief het, het Hy die straf ook vir Hom­self ’n eie saak gemaak. In Christus het God self ons sondestraf gedra. “God het die wêreld so lief ge­had dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Christus het nie die helfte van die straf gedra, en die sondaar dra self die ander helfte nie. God se liefde is, Hy het in sy Seun die hele straf van die son­daar gedra, sodat die sondaar geheel vryge­spreek word.

Christus wat in goddelike heerlikheid in die hemel ge­woon het, het soos ons ’n mens geword. Hy het in ar­moe­di­ge omstan­dig­hede kom woon. Hy het haat, ver­vloe­king en verwerping kom beleef. “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Hom­self verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens ver­skyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was ge­hoor­saam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (Fil.2:6-8). Hy is tussen twee misdadigers gekruisig en sy bloed het tot in die stof van Golgota gedrup. Hy het die ly­ding van die verdoemenis beleef toe Hy deur God verlaat is en moes uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat.” Hy is dood in ’n graf gelê en sy gees het die om­gewing van die doderyk self gesmaak “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skul­di­ges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig” (1 Pet.3:18,19).

Na Hy die volle prys vir sonde betaal het, het Hy uit die dood opge­staan, want Hy was sterflike mens, maar ook lewende God. Deur sy opstanding het Hy aan ons ook die nuwe le­we gebring, sodat ons nie op die ou end tog maar ’n deel van ons straf moet dra om te sterf en die ewige dood in te gaan nie. In Christus se kruisdood is ons sondeskuld ten volle be­taal, en uit sy opstanding ontvang ons deur God se liefde die ewige lewe. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Chrstus Jesus ons Here” (Rom.6:23).

“Here, vandag is ek vry, want U het my straf geheel gedra.”

Do 10 Des: Verdiende Reaksie

Lees 1 Petrus 3: 8 – 12

“Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, daartoe is julle geroep…” (9).

In die Benoni gemeente se maandblad van Fe­bruarie 1973, het ek destyds ‘n kinderlike storietjie geskryf, wat ek nou die dag weer gelees het en wat my besonder getref het. In Spreuke skryf Sa­lo­mo presies wat in die storietjie gebeur.

Martie se ouers het op ‘n plaas, wat met berge om­ring is, gaan woon, begin die storie met `n goeie bood­skap. Sy het die werf en verder gaan ver­ken en in ‘n kloof afgekyk. Bruisend van le­wens­lus, gooi sy haar arms in die lug en roep: “Haai!” Tot haar groot ver­ras­sing hoor sy ‘n dogter­tjie roep te­rug: “Haai!” “Wat is jou naam?” skreeu Martie. “Wat is jou naam,” kom die stem terug. “Ek het eeeerste gevra,” skreeu Martie weer. “Ek het eeeer­ste gevra,” antwoord die stem. “Jy’s ‘n nare kind!” roep Martie boos. “Jy’s ‘n nare kind,” kom die stem boos terug. Martie huil van woede. Sy hard­loop huis toe om by haar ma te gaan kla. Haar ma besef da­delik dit is die ego (weerklank) in die kloof. Martie hoor haar eie stem. “Gaan nou weer,” sê haar ma. “Praat vriendelik en jy sal hoor hoe vriendelik antwoord sy jou terug.”

Salomo skryf in Spreuke: “Haat verwek twis; lief­de kan enige aanstoot oorsien” (10:12). “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam” (15:1). “Kalmerende woorde bring lewe, skyn­heilige woorde breek mense” (15:4). “’n Humeurige mens soek skoor; ‘n ver­draag­­same mens maak rusies uit die wêreld” (15:18). Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens” (16:24).

“Here, vandag wil ek aangenaam met ander praat.”

Wo 9 Des: Hou Die Vuur Brandende

Lees 2 Timoteus 1: 3 – 11

“…(onthou) dat jy die genade­gawe wat God jou gegee het…soos ‘n vuur weer moet aanblaas” (6)

Genl. William Booth, stigter en leier van die heils­­leër (beter bekend as die Salvation Army), het vir sy offisiere en manskappe gesê: “Jong­man­ne, pas die vuur in julle harte op, want dit is geneig om dood te gaan.” Toe maak hy ‘n paar vergelykings, hoe hulle met die gees­te­like vuur in hulle harte moet werk, soos ‘n mens ‘n vuur op die vuurherd brandend sal hou. Eerstens moet vuur genoeg lug kry. Die vensters moet oop wees, sodat daar ‘n trek kan wees. “Windstilte laat vuur smoor en dood­gaan. ’n Hemelse lug, die werking van die Hei­­lige Gees, moet gedurig deur die venster van ge­bed invloei.” Jesus het die werk van die Heilige Gees vergelyk met die wind wat waai: “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaankom en waar hy heen gaan nie. So ge­beur dit met…die Gees…” (Joh.3:8). In Han­delinge word die werk van die Heilige Gees met wind en vuur vergelyk: “Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige storm­wind… “Hulle het iets soos vuur gesien wat…op elkeen van hu­lle gekom het.” (Hand.2:2,3). Ons weet wind wakker vuur aan, maar die wind kan net deur oop ven­sters in die huis inkom. Ge­bed is die vensters vir die inkom van die Gees in ons harte.

Tweedens moet die ou as gereeld verwyder word, anders smoor die vuur. “Deur selfonder­soek en belydenis van sondeskuld, moet die vuurherd van die hart skoon gehou word, anders sal die vuur doodsmoor.” “… as ons ons sondes bely – Hy is getrou…Hy vergewe ons ons son­des en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh.1:9).

Derdens moet daar gereeld nuwe brandhout op ‘n vuur gesit word. “Deur die Woord van God te lees en te oordink word die geestelike vuur in ons harte gevoed en brandend gehou.”

“Here, vandag wil ek sorg vir U vuur in my hart.”

Di 8 Des: As ek net geweet het

Lees Lukas 10: 30 – 35

“…en toe hy hom sien het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind” (33,34).

Stephen Covey, skrywer van die gewilde Seven Habits of Highly Effective People, skryf dat hy een Sondagoggend in New York die bus haal. Die passasiers sit tydens die rit rustig en stil. Party lees, ander sluimer bietjie in, an­­der sit net by die vensters en uitkyk. Alles ver­ander toe ’n man, met kinders by hom, opklim. Die kinders is luidrugtig en is die he­le bus vol ru­moe­rig,. Die man lyk onbewus van wat om hom aangaan. Hy het langs Co­vey kom sit. Die kinders skree op mekaar, gooi goed rond, gryp selfs sommige mense se koeran­te. Nog doen die man niks. Eers pro­beer Co­vey sy toenemende ergerlikheid beheer, maar toe die man steeds die kin­ders se oproerigheid ignoreer, raak dinge vir Co­vey te erg. Hy draai na die man toe: “Me­neer, jou kinders is regtig steurend vir die mense. Kan jy hulle nie asseblief beheer nie.” Dit lyk of die man uit ’n beswyming bykom. “Ag, ekskuus tog, jy is reg, ek moet regtig iets doen. Ons kom nou net van die hospitaal af. Hulle ma, my vrou, is ’n uur ge­lede dood. Ek weet nog nie mooi wat om te maak nie. Ek dink hulle weet ook nie hoe om dit te hanteer nie.” Covey het later ge­skryf: Can you imagine what I felt at that mo­ment? Suddenly I saw things dif­ferently, and because I saw diffe­rently, I thought dif­fe­rently, I felt differently, I behaved different­ly. My irritation vanished…my heart was fil­led with the man’s pain. Feelings of sympa­thy and compassion flowed freely…every­thing changed in an instant. I said: “Oh, I’m so sorry! What can I do to help?”

As ek net kon weet wat in iemand se le­we aangaan, wat hom laat optree soos hy op­tree, hoe an­ders sou ék dalk gevoel en teenoor hom gehandel het?

Ons betree die Kerstyd. Kom ons maak ons kers­ge­skenke gelyk aan die meegevoel van Hom wat aarde toe gekom het vir ons. “Jesus het innig jammer gevoel vir hom … “ (Mark.1:41). “En…Jesus…sien `n groot menigte, en Hy het innig jammer geoel, omdat hulle soos skape sonder herder was…(Mark.6:34)

“Here, vandag wil ek stadig wees om te veroordeel.”

Ma 7 Des: Red die ander een ook

Lees Johannes 1: 35 – 51

“Andreas…was een…wat Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek…hy het hom na Jesus toe gelei” (40).

Die bekende prediker, D. L. Moody, vertel van ’n baie mooi prent wat hy gesien het en ook gekoop het. Iemand word uit die donker water getrek, terwyl hy aan die kruis vas­klem. Dit was vir hom ’n duidelike uit­druk­­king van die evangelie­bood­skap: redding deur die kruis van Jesus. ’n Rukkie later, loop hy ’n soortgelyke prent raak, wat vir hom ’n beter uitdrukking van die evangelie was. Dit toon ook iemand wat uit die donker water getrek word. Met een arm klem hy aan die kruis vas en met die ander arm klem hy ’n ander drenkeling vas, wat hy saambring. Dit is hoe ons die evangelie moet be­leef en uit­leef: self gered, maar gedurig besig om ook ander na Christus toe te bring. “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Mat.4:19). “…weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red…” (Jak.5:20).

“Here, vandag wil ek soek om iemand na U toe te lei.”

Vry 4 Des: Soos Die Oorspronklike

Lees Johannes 14: 15 – 25

“…die Vader…sal vir julle…stuur…die Gees van die waarheid…Hy sal by julle bly en in julle wees…” (16,17).

In die St.Peter’s Church in Cologne hang twee een­derse skilderye van Petrus se kruisiging. Ons weet uit oorlewering Petrus is onderstebo gekruisig, omdat hy homself nie waardig geag het om soos Christus, in ’n regop posisie, aan die kruis te hang nie. Die bestaan van die tweede skildery, wat ’n kopie van die eerste een is, word deur Herbert Lockyer in The Heritage of Saints soos volg verklaar. In die begin van die 19de eeu het Napoleon die stad Co­logne in sy seevierende optog geplunder. Hy het die kerk ook geplunder en die oor­spronklike skildery van Petrus se kruisiging saamge­neem. Nadat die kerk herstel is, het dieselfde kunste­naar, wat die eer­ste Peterusskildery geskilder het, weer ’n skildery, so na as moontlik aan die eerste een, ge­skil­der. Die oor­­spronklike skildery is later gevind en aan die kerk te­rug besorg en langs die kopie van die skil­dery opgehang. Kunskenners sê daar is so min verskil tussen die twee skilderye dat die oorspronklike nie van die kopie onderskei kan word nie. Herbert Lockyer maak van hierdie insident gebruik om aan ons ’n gees­telike waarheid tuis te bring. “Jesus is in heaven. But the Holy Spirit is here, and He is die master Artist and in die absence of the Original, He is painting the likeness of Jesus, upon the unworthy canvas of your life and mine.”

God se bedoeling met sy kinders op aarde, die ge­lo­wiges, is om die Here Jesus Christus se beelddraers te wees: “…dié wat Hom lief het, dié wat volgens sy besluit geroep is…het Hy ook be­stem om gelykvorming te wees aan die beeld van sy Seun…(Rom.8:28,29). Uit onsself het ons nie krag om Jesus se voorbeeld te volg en deur ons lewe Hom aan die wêreld bekend te maak nie. “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle” (Rom.8:8,9). Dit is hoe Jesus sy dissipels kort voor sy kruisdood bemoedig het: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur…om by julle te wees…die Gees van die waarheid…julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees….daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle”(Joh.14:16-20). Deur die Heilige Gees woon Christus in ons en deur ons verhouding en gemeenskap met Hom, kleur die Heilige Gees, soos ’n kunsskilder, ons lewe in, met Christus se lewe en dit verskyn in ons gedrag, ons houding, ons woorde, ons gesindhede.

“Here, vandag leef ek my Christen lewe uit U krag in my.”

Do 3 Des: Die Versoeking

Lees Jakobus 1:12-18

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly…” (12,14)

In Sunday School Times vertel dr. Francis E. Clark van ’n vriend wat as seun graag sirkus toe wou gaan. Die toegang was 50c. Hy het 35c ge­had. Elke dag het sy ouers vir hom 15c vir sy bus­geld skool toe gegee. Die dag voor die sirkus het die buskondukteur nagelaat om sy kaartjie te vra. Nou was dit die versoeking om dieselfde kaartjie die volgende dag te gebruik en die 15c wat hy dáár­­die oggend vir ’n buskaartjie sou kry, by sy 35c te voeg en dan sirkus toe te gaan. Heeldag het hy teen die versoeking gestry. Dr. Clark be­skryf sy versoeking so: “All day the elephant sta­red at him out of the pages of his Latin grammar, and the giraffes craned their long necks over the tough problems in algebra. All day and all night he fought his battle.” Die volgende dag skeur hy egter sy buskaartjie op, en koop met sy pa se 15c ’n an­der kaartjie en verbeur sy geleentheid om sir­kus toe te gaan. Dr. Clark eindig die storie met die op­merking. “Now as he looks back over a long and honoured life, he tells his friends, that that was the day of his greatest battle and his greatest victory”,.

Ons ken ook ons plekke en momente van ver-soeking. Dit was vir ons ’n moment van neerlaag wat ons geestelike lewe skade berokken het en waar­aan ons met skaamte terugdink, of dit was vir ons ’n moment van oorwinning wat ons geestelike le­we sterker gemaak het en wat ons vrymoe­digheid gee in ons omgang met die Here. ’n Neerlaag in versoeking kan egter in oorwinning omskep word, as dit openhartig aan die Here bely word, soos met Dawid gebeur het toe hy met Batseba owerspel gepleeg het. Psalm 51 is Dawid se belydenis van vernedering en neerlaag en sonde. In die moment van versoeking het ons met Satan te doen wat ons wil vernietig, maar ons het die Here ook naby wat ons help: “Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Kor.10:13).

“Here, vandag wil ek waak en bid om nie in versoeking te kom nie.”

Wo 2 Des: Ons word Gedra

Lees: Deuteronomium 32: 10 – 12

“Soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here … sy volk gelei.” (11)

Henry Moorhouse was in sy gemeente gewikkel in ’n taak, wat vir hom te groot was om uit te voer. Hy was so neerslagtig oor sy swakheid en die grootte van die probleem dat hy nie vrugbaar en gelowig met sy werk kon voortgaan nie. Hy het een aand tuisgekom met ’n swaar pak vir sy vrou. Sy invalide dogtertjie het hom by die deur verwelkom. “Laat ek dit vir mamma gee!” het sy gretig uitgeroep en haar hande uitgesteek om die pak by hom te neem. “Ag, my Kindjie,” het Moorhouse hartseer geantwoord, “jy kan dan nie eers loop nie, hoe sal jy die swaar pak tog kan dra?” “As Pappa my dra, kan ek mos die pak dra en dit vir mamma gee,” het sy onver­steurd geantwoord. In ’n oomblik het sy swaarmoe­digheid plek gemaak vir hoop en nuwe moed. Hy het heel tyd so vasgekyk teen die grootte van sy pro­bleem aan die een kant en sy swakheid en on­ver­moë aan die anderkant, dat hy God nie meer kon raaksien nie. Hy het sy hemelse Vader se sorg en krag buite rekening gelaat.

Het u ’n probleem wat vir u té groot is? Bid Dawid se gebed (Ps.71:9,12): “ … moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie …kom my tog gou te hulp, my God!”

“Here, ek wil vandag my groot probleem in u hande plaas.”

Di 1 Des: Lampe Wat Skyn

Lees 2 Korintiërs 4 : 1 – 6

“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis, het ook in ons harte ’n lig laat skyn, om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6).

’n Jong meisie, uit ’n gegoede huis, glip een aand weg uit ’n jongmensejolyt. Uitgeput klouter sy in haar bed, sakel die lig af en wou haar net aan die slaap oorgee, toe ’n helder lig, van buite af in die ka­mer, inskyn. Die lig val op ’n afdruk van Plock­horst se tref­fende skildery: Die Goeie Her­der. Dit is `n prent van Jesus, met `n lammetjie in sy arms. Die meisie lig haar op, kyk deur die ven­ster, om te sien waar­vandaan die lig so skielik kom. Dit is die kom­buislig, in ’n dagloner se klein huisie, oor­kant die tuin. Daarna merk die meisie elke aand op, hoe die lig daardie prent, van die ontfermende Ver­losser, teen die muur van haar ka­mer, in haar ouers se deftige woning, be­lig en be­klem­toon. Die lamp se eienaar het dit nie geweet nie. Gospel He­rald ein­dig die storie so: ”So do many lives, follow­ing the hum­ble, daily routine in the spirit of their Master, often send a revelation of the Saviour … without knowing it.”

Die evangelie word in die Bybel lig genoem. “Ek bid ook dat die Gees sy lig so duidelik in julle harte sal laat skyn, dat julle sal verstaan watter vooruitsig daar vir julle is noudat God julle geroep het” (Ef.1:18 – Lew.Byb.). Ons weet, lig het ’n draer no­dig. Sonlig het die son no­dig, huislig het gloeilampe nodig. God gee die lig van geloof en red­ding in Je­sus Christus in ons har­te, maar Hy het draers van sy lig nodig. Dié wat ge­tuig, of evangelielees­stof versprei, of ’n ligdraende voor­­beeld uitleef, is die draers van God se evange­lie­lig. Lampolie laat lam­pe brand, krag­stasies laat gloeilampe brand, so is die Heilige Gees in ons die krag­bron van God se lig, wat ons moet uitstraal na ander toe.

“Here, vandag wil ek, deur u Gees, U lig na iemand uitdra.”

Ma 30 Nov: Kyk Reg

Lees Lukas 11: 33 – 36

“Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.”

By die Narita lughawe in Japan, is ’n elektro­niese pas­poortstelsel in werking gestel, wat immigrasieprosedures vereenvoudig, deur biometriese identifikasie, wat die iris van die paspoorthouer se oë toets, skryf Neil Verwey, sendeling in Japan, na aanleiding van ’n berig in die Yomiuri-dag­blad van 7 Februarie 2005. Passa­siers maak gebruik van ’n vereenvoudigde reiskaart, wat die inligting bevat, waarmee die persoon se ken­mer­ke van die gesig en irisse van die oë, vergelyk kan word. Pas­sasiers plaas die kaart in ‘n masjien en kyk na ’n kamera. Die masjien vergelyk die inligting op die kaart, met die besonderhede wat weerkaats word deur die iris van die persoon se oog.

Die absolute individualiteit van elke mens op aarde word opnuut deur hierdie ontdekking be­klemtoon. Elkeen van ons se oë lyk anders as ’n an­der s’n en kyk ook anders as ’n ander s’n. Die grootheid van ons God se Almag word daardeur opnuut aan ons openbaar! Die He­re Jesus het ’n groot waarde toegeken aan, ’n mens se manier, van kyk, na die dinge. ’n Mens kan stiksienig wees – net raaksien wat dadelik voor oë is, of versiende wees, ander horisonne en geestelike waardes raaksien. Paulus skryf aan die Efesiërs: “ …ek bid…dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (Ef.1:17-19). Moses het sulke oë gehad: “Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van Christus het hy groter rykdom geag as die skatte van Egip­te, omdat hy na die beloning uitgesien het” (Heb.11:25,26).

“Here, vandag vra ek verligte oë van my verstand.”

Vry 27 Nov: Die Helende Middel

Lees 1 Petrus 5:5-7.

“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (7).

Eerw.F.H.Pickering vertel van ’n man wat so deur  angs en bekommernis oorweldig is, dat hy verlam is. Snags kon hy nie slaap nie. Op ’n dag vra ’n Christenvriend of hy ooit oor sy probleme bid. Hy het in jare nie gebid nie, antwoord hy. Het hy ’n Bybel? Ja, iewers in sy huis moet daar ’n Bybel wees. Die vriend skryf ’n teks op ’n strokie papier. “Gaan lees dit en doen dan so,” sê sy vriend. Moeg na siel en liggaam was hy ge-reed vir enige raad. Hy het sy Bybel gekry, die stof afgeskud en die teksvers, Hebreërs 4:14-16, opgespoor: “Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” Hy het by sy bed gaan kniel en eers sukkelend, maar later met vrymoedigheid, sy probleme vir die Here vertel. Terwyl hy bid het hy aan die slaap geraak. Ure later het hy wakker geword. Verkwik in sy gees het hy geweet hy het sielsgenesing gevind. Sy vriend het hom gehelp om Christus as sy verlosser te leer ken. Sy dokter was verstom oor die verandering wat in hom gekom het. “Ek vertel nou al my bekommernisse vir Jesus en laat dit in sy hande,” het hy verduidelik. Die dokter het geantwoord: “As meer van my pasiënte dit wou doen, sal ek gou sonder werk sit.”

Dit was Hanna se geheim toe sy (1 Sam.1) met haar hartseer tempel toe gegaan het. “Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.”  Haar verduideliking aan priester Eli was: “’Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is…Ek het my hart uitgestort voor die Here…dit is oor my groot leed dat ek so lank bly praat het…’ en sy was nie meer bedruk nie.” Die Here Jesus het vir ons die weg oopgemaak na ons hemelse Vader toe. God self het ons lief en ken ons sake. Ons kan met groot vrymoedigheid en verwagting al ons proble­me vir Hom vertel. Die Heilige Gees help ons om te bid: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met ver­sugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is…”(Rom.8:26).

  “Here, vandag kom ek met al my probleme na U toe.”

Do 26 Nov: Die Skuilplek

Lees Psalm 17: 1 – 9

“Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels… (8).

Charles Wesley, een van die leiers in die 19de eeu se herlewing, was eenkeer baie depressief. Hy sit bedruk en neerslagtig by sy lessenaar voor ’n oop venster. ’n Klein voëltjie vlieg opgewonde by die venster in, kom sit op Charles Wesley en kruip onder sy baadjiekraag in. Wesley sit sy hand oor die bewende voëltjie. Hy sien hoe die voëltjie se hart pols. Hy kyk by die venster uit om te sien wat die voël­tjie so bang maak. Laag oor die bome sirkel ’n groot valk. Met sy hand steeds beskermend oor die voëltjie word die toneel vir hom ’n weerspiëling van sy eie vrees en soeke na beskerming by God. Die woorde van   ’n lied, wat vir meer as honderd jaar vir ander ook tot bemoediging en troos was en as lied 578 ook in Die Liedboek is, wel warm op in sy hart:

Jesus, Lover of my soul, let me to thy bosom fly,

While the nearer waters roll, while the tempest still is high

Hide me, O my, Saviour, hide – till the storm of life is past;

Safe into the haven guide; O receive my soul at last!

 “Here, vandag vlug ek ook na U toe vir hulp.”

Wo 25 Nov: Die Gids se Hande

Lees Matteus 14: 22 – 32

“Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy geroep: ‘Here, red my!’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?’” (Mat.14:30,31).

‘n Gids het ’n groepie toeriste langs ‘n steil pad na ’n waterval toe gelei. Die laaste endjie moes hulle oor ’n nou, wankelrige hangbrug oor ‘n diep af­grond loop. Een vrou het net halfpad ge­kom. Toe sy afkyk en die diep afgrond sien en die beweging van die brug onder haar voete voel, kon sy nie ‘n tree verder gaan nie. Die gids het gesien sy word pa­niekerig. Sy het met albei hande die bruggie se re­ling vasgegryp en vir lewe en dood daaraan ge­klou. Met ’n rustige glimlag steek hy sy hand na haar toe uit. “Jou hand in die gids se hand,” sê hy vriendelik. Met een hand los sy die reling en sit dit bewerig in die gids se hand. Met die ander hand bly sy steeds styf aan die reling vasklou. Sy wil nie ‘n voet versit nie. Die gids sien hulle sal nie vorder nie. Steeds glimlaggend, rus­tig, maar ferm sê hy vir haar: “Al­bei jou hande in die gids se hand.” Stadig laat sy met die ander hand die reling los en sit dit ook in die gids se sterk hand. Tree vir tree lei hy haar oor die wiegende bruggie na die an­derkant toe.

Dikwels vorder ons nie in ons geestelike lewe nie. Soveel vrese in ons hart, die afgrond van ons sondigheid ontmoedig ons, soveel onsekere be­weging onder ons geloofsvoete. Ons sit ons een hand in Jesus se hand, maar ons klou nog aan die reling van ons gevoelens en struikelinge en omge­wings­­be­drei­ginge vas. Albei ons hande moet in sy hand ge­plaas word. Volle oorgawe, volle vertroue. Die Hei­li­ge Gees help ons om met volle vertroue albei ons hande in Jesus se hand te plaas. Stadig word ons be­wus van sy krag. Stappie vir stappie vorder ons op die weg van geestelike groei, geestelike krag, geestelike sekerheid. Ons bemoediging is die Here Jesus se groot liefde vir ons: ”…Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar…As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê. En Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, skryf: “No one knows the love of Christ at all if he does not know it to be real, and no one has felt it in his soul at all, unless it becomes so real as to constrain him and move him into actual activity. The word ‘realise’ has been forced into the language of Christian experience, and can never be forced out again; we must realise, or make real to our hearts the love of Christ. We should know the inmost secrets of the Redeemers’s love; its doings and sacrifices which are the apparent part of it…” As ons in die Skrif Hom van na­by aanskou, maak die Heilige Gees sy liefde vir ons ‘n werklikheid, en dan het ons ons hande in sy hand geplaas en vrede en gerustheid neem van ons hart besit. 

 “Here  vandag plaas ek albei my hande in u hande.”

Di 24 Nov: Die Bekende Raaisel

Lees Jesaja 46: 3 – 5

“…julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook in die ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra.

’n Ou Griekse legende vertel van die Sfinks by The­bes, wat die lyf van ’n leeu, maar die bolyf en kop van ’n vrou gehad het. Hierdie Sfinks het buite die stad langs die hoofweg op ’n rots gelê, gereed om enigeen wat verbykom te bespring. Voor die Sfinks gespring en ’n reisiger opgevreet het, het die Sfinks die reisiger ’n kans gegee om sy reis lewend voort te sit. Die verbyganger moes ’n raai­sel be­antwoord. Niemand het reggekry om die raai­sel reg te beantwoord nie, totdat Oedipus ver­by­­ge­kom het en die Sfinks se raaisel reg kon antwoord nie. Die Sfinks het vir Oedipus ge­vra: “Wat loop in die oggend op vier bene, in die middag op twee en in die aand op drie?” Oedipus het geantwoord: ”Die mens. As kind kruip hy op  han­de en knieë; as volwassene loop hy met sy twee bene; as ou mens loop hy met ’n kierie.” Verpletter oor hierdie regte antwoord op die raai­sel spring die Sfinks van die rots af en sterf.

Vir eeue lank lê die Sfinks van die dood langs die mensdom se hoofweg van die lewe vir sy prooi en wag en verteer almal wat verbykom met sy raai­sel van die onoplosbaarheid van die proses van veroudering en sterwe. Niemand kon dit nog beantwoord nie, en almal het deur die mag van die dood vergaan. Maar Christus het die raai­sel van die dood beantwoord en die mag van die dood deur sy opstanding uit die dood gebreek. Op aarde het Jesus mense uit die dood lewendig ge­maak en met sy wederkoms sal die dood heel­te­maal vernietig word. “God…wou baie mense in die hemel inbring…daarom het Jesus ook mens ge­word sodat Hy kon sterwe…So kon Hy die mens vrymaak…op die ma­nier kon ons sondes vergewe word”

“Here, vandag skuil ek by U teen die mag van die dood.”

Ma 23 Nov: Beleggingsterreine

Lees Filippense 2:1-4

…moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (3,4)

In Parys staan twee standbeelde, skryf die Be­rean Senior Quarterly. Die twee manne het die­self­de naam gehad: Louis. Die een was die vors van Frankryk, Louis XIV, die absolute monarg. Die ander een was die weldoener aan die mens­dom, Louis Pasteur, ontdekker van die werking van kieme in die menslike liggaam en teen­mid­dels teen kieme. Hy het ook ander we­tenskap­li­kes geïnspireer om teenmiddels teen kieme te ont­wikkel. Louis XIV word vandag onthou vir sy self­verheffende uitroep: “Ek is die staat.” Oor hom skryf die Berean Senior Quarterly “His philoso­phy of life was that the whole nation and the world, in so far as he could compel it, should serve him.” Oor Louis Pasteur skryf die Berean Senior Quar­terly “…the servant of humanity and servant of God…his life of unselfish, devoted research con­fer­red immeasurable benefits upon all humanity in all the years to come through overcoming di­sea­se and suffering.” Die twee standbeelde weer­spie­ël die twee manne se lewensbeleggings­terreine: Louis XIV – homself;  Louis Pasteur – sy me­demens. Louis XIV se standbeeld, met indrukwekkende uniform, swaard en kroon, is volgens die tydskrif “…nothing more than a piece of sculpture”,  Pasteur se baie eenvoudiger stand­beeld, ’n paar blokke weg van Louis XIV s’n af, is volgens die tydskrif “…a shrine, where pil­grims from all over the world bow in grateful ho­mage”. Dan maak die Berean Senior Quarterly die slotopmerking: “It is the uncrowned servant of man­kind who wears the real crown of men’s love and honor.”

Van die begin van die skepping af is dit vir die mens die groot versoeking: om sy eie grootsheid na te streef. Selfs onder Jesus se dissipels was dit elkeen se strewe om die belangrikste te wees. Met die laaste avondmaal, lees ons in Lukas 22:24 “…het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie as die belangrikste beskou moet word.” Uit Johannes 13 weet ons dit het eintlik gegaan oor wie die voetewaswerk moet doen. Jesus het hier­die gesindheid beantwoord deur te sê: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas… maar by julle moet dit nie so wees nie…die be­langrikste onder julle moet soos die geringste wees, en  die een wat die leier is, soos die een wat dien…Ek is in julle kring soos die een wat dien.” Daarna het Jesus, volgens Johannes 13, om­dat Hy geweet het “…dat die Vader alles in sy han­de gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan…van die tafel af opgestaan, sy bo­kleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak…en begin om sy dissipels se voete te was…”

 “Here, vandag wil ek ander se belange my doelwit maak.”

Vry 20 Nov: Geloofsgroei

Lees Hebreërs 5: 11 – 6: 3

“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)

Wanneer geloof in die siel begin, is dit klein soos ’n mosterdsaadjie, waarvan Christus gesê het dat dit die kleinste van alle soorte saad is. Maar die Heilige Gees bedou dit met sy genade en dit ontkiem en groei en word soos ’n groot boom. Só groei ons geestelike lewe:

In die begin kan geloof net na Jesus KYK. Selfs dan is daar so baie wolke van twyfel en dofheid van oë, dat ons die Heilige Gees nodig het om sy lig op die kruis te skyn, voordat ons dit kan sien. Dan kry geloof  krag om na Jesus te KOM.

   Na ’n mens na Jesus gekom het, vorder geloof ’n bie­tjie verder en KLEM aan Christus vas. Geloof begin Chris­tus aansien in sy voortreflikheid en aanvaar Hom en neem Hom aan en beskou Hom as ’n ware Ver­losser en is oortuig van sy volkome vermoë om te red.

Nou gaan geloof nog verder en dit LEUN op Chris­tus. Die laste van sorge, droefheid en kwelling word op sy geseënde skouers gelê.

Geloof kan nou nederig, maar vasbeslote, alles wat Christus is en alles wat Hy bewerk het, TOEëIEN.

Eindelik, terwyl dit slegs vertrou in Christus en sy verlossingswerk, styg geloof op tot ’n VOLLE SE­KER­HEID. Dit is ’n geseënde toestand van die geloofs­le­we.

“Deur Christus het julle … die evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom … In Christus het die Heilige Gees … julle as die eiendom van God beseël” (Ef.1:13). “Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid …Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb.10:22). “En  verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei …”(1Pet.2:2 Ou Vertaling).

“Here, vandag verlang ek na die werking van die Heilige Gees in my hart om my te laat groei tot die volle sekerheid van geloof.”

Do 19 Nov: 'n Soort Skool

Lees Markus 10: 13 – 16.

“Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (14).

’n Jong koerantuitgewer, Robert Raikes, stap op ’n dag deur een van Gloucester, Engeland, se ag­­terbuurtes, om ’n nuwe tuinier te soek, vertel Ro­bert J. Morgan.  Baie kinders woel om hom rond. Hy is geskok om te hoor hoe hulle op me­kaar skreeu en vloek. Selfs as hulle speel vloek hul­le en gebruik die Here se Naam as vloekwoor. Ro­bert Raikes is diep ontroer in sy binneste toe hy dié dag teruggaan na sy mooi en rustige tuis­te. Hy neem hom voor om iets aan die saak te doen. En hy hét iets gedoen. Hy het ’n nuwe soort skool begin, ’n nuwe bediening. Hy het skool in die kerk op ’n Sondag begin. Op Sondae lok hy die kinders op allerlei maniere na sy nuwe skool. Daar het hy hulle van die Here geleer en hoe om vir die Here te lewe. Dit was die begin van die ge­seënde instelling wat ons tot vandag toe Sondag­skool noem. In ons kerke het die naam Sondag­skool plek gemaak vir die kerk se kategese, en ons praat van kategeseskool. Die kinders word van die Here, sy Woord en die ge­loofsleer van die kerk geleer.

Die vrug en seën wat gevolg het op Robert Rai­kes se besorgdheid oor die geestelike wel­vaart van die kinders sal nooit bepaal kan word nie. Sommige kinders groei op in ‘n huis soos dié van Ti­moteus oor wie Paulus skryf: “Ek dink aan jou op­reg­te geloof wat al in jou ouma Loïs  en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is” (2 Tim.1:5). Ander kinders het nie so ’n voorreg nie en hierin vervul die Sondagskool ’n ge­­seënde bediening. Die opdrag van die Here Je­sus: “Laat die kindertjies na My toe kom,” word hier­­in nagekom. Laat ons bid vir ons kinders en  vir ons kerke se werk onder die kinders.

“Here, vandag bid ek vir my eie kinders en klein­kinders en ook vir die baie kinders om ons en in die wêreld.”

Wo 18 Nov: Gestuur

Lees Handelinge 26: 12 – 18

“Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het…(vir) die heidennasies na wie toe Ek jou stuur…jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle…tot God kan bekeer…” (16,17,18)

William Carey was ‘n sieklike kind en as tiender­ja­rige het hy hom aan ‘n onverskillige lewe oor­ge­gee. Weens sy swak geleerdheid kon hy nie ander werk kry as om vak­leerling in ‘n skoenmakerswin­kel te word nie. ‘n An­der vakleerling, John Warr, wat reeds daar gewerk het, was ‘n Christen en vasbe­slote om waar hy kon vir Christus te getuig. Aan die begin kon hy met die skraal, los­bandige Wil­liam Carey geen hond haaraf maak nie. Op ‘n dag word Carey betrap waar hy ‘n nagemaakte munt­­stuk in die geldlaai vir ‘n egte muntstuk probeer om­­ruil. In sy vernedering wend hy hom tot John Warr om vir hom te bid dat hy nie afgedank of ver­volg sal word nie. John Warr se getroue getuienis vir Christus het op Carey indruk gemaak.

Op die Sondag, 10 Februarie 1779, oorreed John Warr vir Carey om saam met hom kerk toe te gaan. Die prediker se teks is Hebreërs 13:12-14: “Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en (sy) smaad dra…want ons het in hierdie wê­reld geen vaste ver­blyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” Na die diens het John Warr vir Carey, toe sewentien jaar oud, gehelp om die Here Je­sus as sy Sa­ligmaker aan te neem en hy het Christus se vu­ri­ge dis­sipel ge­word. John Warr sou daardie dag nie kon besef watter groot be­legging hy in Christus se koninkryk gemaak het nie.

‘n Tyd daarna lees Carey ‘n boek: Captain Cooke’s Voy­ages. Dit maak hom bewus van die groot hei­den­wêreld daar buite. In daardie jare het net die Hernhut Morawiërs sendingwerk gedoen. Ca­­rey het intussen le­ke­prediker en Chris­­ten­wer­ker in die omliggende ge­meen­­tes ge­word. Hy be­gin ernstig by die predikante en ge­meentes pleit om iemand na die heidenlande te stuur. Daar­die tyd het die Protestante kerke geglo Chris­tus het sy sendingopdrag slegs aan sy apostels ge­gee. Ca­rey skryf ‘n boek, Obligations of Christians for the Conversion of the Heathens. Dit verskyn op 12 Mei 1792. Op 31 Mei 1792 spreek hy ‘n predikante­sa­me­­koms in Not­ting­ham toe oor die kerk se roeping om die evan­­gelie na die wêreldnasies te neem. Op 2 Ok­to­­ber 1792 word ‘n Sendingraad deur die ker­­ke gevorm. Uiteindelik hét Carey Indië toe gegaan. Hy het nooit verlof geneem nie en nooit weer na Engeland toe te­rug­­gekeer nie. Hy het 41 jaar in Indië gewerk. Hy is daar op 73-jarige ouderdom dood. Hy het die he­le Bybel in 6 ta­le en dele van die Bybel in 29 an­der tale vertaal. Mense moet die Bybel kan lees, het hy geglo. Hy het meer as 100 skole in die In­diese platteland opgerig. Hy het die Seram­po­re College, waar daar nog steeds predikante op­gelei word, gestig. Hy het woordeboeke en taalboeke in 5 verskillende tale opgestel. Onder sy invloed is die ge­bruik, om ‘n man se weduwee na sy dood te ver­brand, afgeskaf.

Die kort geskiedenis van hierdie vrugbare diens­kneg van die Here se lewe word met die volgende woorde afgesluit: Most impor­tant, he launch­ed the modern era of missions and laid the foundation for the modern science of missiology. One biogra­pher, Mary Drewery, wrote: “The num­ber of actual conversions attributed to him is pa­the­­tically small; the number indirectly attribu­table to him must be legion.”

 “Here, vandag wil ek u getroue getuie wees.”

Di 17 Nov: Oorwinning

Lees Johannes 20: 19 – 25

“Alhoewel die deure gesluit was omdat die dis­sipels bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’” (19)

’n Interessante verhaal word vertel hoe die nuus, van die afloop van die geveg by Waterloo, tus­sen die Engelse, onder Wellington, en die Fran­­se, onder Napoleon, in Londen bekend ge­maak is. ’n Skip het tot naby die Engelse kus gekom en met vlae die boodskap na die Win­ches­ter Katedraal toe begin sein. Die letters van die boodskap, soos die vlae dit gesein het, is een-een neergeskryf:  W-E-L-I-N-G-T-O-N  D-E-F-E-A-T-E-D…. en toe sak die mis oor die skip toe en die res van die boodskap kon nie gesien word nie. Geheel Londen was geskok oor genl. Wel­ling­ton se neerlaag teen keiser Napoleon. ’n Neer­slagtigheid het oor die Engelse neergesak. Toe lig die mis weer op en die res van die bood­skap word gesein: N-A-P-O-L-E-O-N. Dus: Wellington defeated Napoleon. Dít was ’n an­der sto­rie. Hierdie wonder­li­ke nuus het soos ’n huppelende lied geheel Engeland deurgalm.

Die heerlike nuus van die Here Jesus se opstanding en sy oorwinning oor Satan en die dood, het amper dieselfde proses deurloop. Die aanvanklike nuus van sy opstanding was somber en dubbelsinnig. Oor die twee Emmausgangers se gesprek met Je­sus, wat na sy opstanding by hulle aangesluit het, lees ons in Lukas 24:13-24: “Je­sus vra hulle toe: ‘Wat is dit wat julle so ernstig met me­kaar loop en bespreek?’ Met somber gesigte gaan hulle staan…en antwoord Hom: ‘Die dinge in ver­band met Jesus…en hoe ons Raad Hom…gekruisig het…’n paar vroue…het ons ook nog ont­stel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf …hulle het…engele gesien wat sê dat Hy lewe. Sommige van ons mense het graf toe gegaan…maar Hom het hulle nie gesien nie.” Selfs toe Jesus tussen die dissipels verskyn het, lees ons in Luk.24:36: “Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees…”

Leef ons in die oorwinning en blydskap van Jesus se opstanding uit die dood. Die Heilige Gees kan deur die Here se woord dit vir ons werk­likheid maak. “Ons het dieselfde Gees wat die ge­loof wek, en ons glo…ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon stel” (2 Kor.4:13,14). Wanneer Je­sus in sy opstandingsheerlikheid vir ons ’n werk­lik­heid geword het, word sy kruisdood vir ons ’n nu­we werklikheid. Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het, het hy vir hulle sy wonde gewys. “Jesus het gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle’…nadat Hy dit gesê het wys Hy sy hande en sy sy vir hulle…” (Joh.20:19,20). Tomas het selfs gesê hy sal nie glo voor hy nie sy vinger in die merke van die wonde gesteek het nie. “Jesus sê vir Tomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy…” (Joh.20:24,25,27).


“Here, vandag verheug ek my in u kruisdood en u opstanding vir my.”

Ma 16 Nov: Vir Sy Behoud

Lees Hebreërs 12: 4 – 12

“Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug).

In sy boek, A View from the Zoo, vertel Gary Richmond hoe ’n kameelperdvulletjie hierdie wê­reld binnekom. Eers verskyn die voorpote en dan die kop. Dan kom die nek redelik vinnig en die res van die lyf val af grond toe. Die ka­meel­perdkoei se agterstewe is hoog van die grond af! Die kalfie beland op sy rug. Feitlik dadelik rol hy om en lê met die bene onder hom ingetrek. In hier­die posi­sie kyk hy na die wêreld om hom en skud die laaste geboortevog uit sy oë en ore. Die kameel­perdkoei laat haar kop sak tot sy hoogte en bekyk hom met groot oë. Sy gaan staan oor hom. Dan voer sy as kameelperdma ’n verstommende han­de­­ling uit. Gary Richmond beskryf dit so: “She swings her long, pendulous leg outward and kicks her baby, so that it is sent sprawling head over heels. When he does’nt get up, the violent process is repeated over and over again….untill finally, the calf stands for the first time on its wobbly legs.” Dan doen die ma weer ’n eien­aar­di­ge ding. Sy skop hom weer van sy voete af. Hoe­kom. Hy moet ont­hou hoe hy op gekom het. In sy nuwe wêreld moet die kameelperdbaba leer om vin­nig op die been te kom, sodat hy by die trop kan bly as hulle vir ’n roofdief moet vlug en die agterblykalfie dus nie sommer gou-gou deur ’n leeu, luiperd of wildehond gevang kan word nie. Dit is die kalfie se behoud om altyd tus­sen die trop te bly en saam met die trop te beweeg.

Gary Richmond maak ’n belangrike geestelike toe­passing: There have been many times when it seem­ed that I had just stood up after a trial, only to be knocked down again by the next. It was God helping me to remember how it was that I got up last time, urging me always to walk with Him, in his shadow, under his care – the only safe place.”

“Here, vandag laat ek my deur U leer om by U te bly.”

Vry 13 Nov: Die Name in die Boek

Lees Openbaring 20 : 11 – 15

“Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe….As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (12,15).

In die Kapel van St. George, in die Westmin­ster A­bdy, is ’n gedenkboek oor die Tweede Wêreld­oor­log, wat uit vier volu­mes bestaan, word in Our Hope vertel. Die name van die 60 000 burger­likes, mans, vroue en kinders, wat in Londen, as gevolg van die oorlog, omgekom het, is in hierdie gedenk­boek se vier volumes geskryf. Om die beurt lê een van die volumes op die gebeds­altaar oop en ’n lig skyn op die bladsy neer. Elke dag word een bladsy omge­blaai. Die na­me is in datumvolgorde, van die per­sone se dood, neerge­skryf. So verskyn die na­me van die rykes en die armes, getiteldes en ge­wo­ne mense, oud en jonk, gesond of sieklik, be­roemd of onbekend, almal daar saam op die blad­sy wat omgeblaai is, vir almal om dit te sien, en dit te respekteer. Hierdie boek is ’n boek van die dood.

Daar is ’n ander boek, die Boek van die Lewe. Daardie boek is in die hemel. In dáárdie Boek staan die name van die mense wat op aar­de ge­leef het, óók sonder inagneming van klas, kul­tuur, stand of rykdom. Die lig van die hemel skyn daarop neer. Dit is die name van men­se, wat in die bestek van hul aardse lewe, deur hul geloof in Christus Jesus, God se eiendom geword het en deur die Heilige Gees, die nuwe lewe uit Chris­tus, deelagtig geword het.

Iewers in ons lewe, moet ’n dag wees, waar die kennismaking tussen ons en Christus, as verlore sondaar en ewige Verlosser, plaasgevind het. Dalk het dit gebeur toe u nog klein was. U ouers het hul doopbelofte goed nagekom en u het, baie vroeg in u lewe, Jesus as Saligmaker leer ken. U weet nie van die dag nie, maar u weet: Jesus Christus is my Verlosser, omdat Hy ook my sonde aan die kruis gedra het en ook in my hart, sy nuwe lewe ge­gee het. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vryge­maak van die wet van sonde en dood…Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God…julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom.8:1,2,14,15,16). Die Heilige Gees gee ons in ons hart die se­kerheid, ons behoort, op grond van Jesus se verlossingswerk, aan Hom. Dit is `n ondersteuning van geloof, as ’n mens ’n dag beleef het, toe hy kragdadig, dalk dramaties, tot bekering gekom het! Die van ons wat nie so ’n besondere bekeringsdag ken nie, en in ons hart ook nog twyfel of ék regtig ’n kind van God is, want die Gees se getuienis in my hart is nie so helder nie, moet dit in ons binne­kamer met die Here uitmaak, of by iemand daarvoor hulp soek. Anders mag met ons gebeur waar­oor Jesus ons in Mat­teus 7:21-23 waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die he­mel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie…?’ dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af…”

“Here, vandag wil ek seker maak my naam is u Boek van die Lewe geskryf.”

Wo 11 Nov: Die Veilige Plek (2)

Lees Deuteronomium 33: 26 – 29

“Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou” (27).

In die Bible Expositor and Illuminator vertel die skrywer van sy vriend, wat ‘n pragtige vrou en lieflike 3-jarige dogtertjie gehad het. Donker hartseer het skielik oor die huisgesin gekom, toe die vrou een middag in ‘n motorongeluk dood is. Die aand na die begrafnis, sit die jong pa sy dogtertjie in die bed en terwyl hy met onhan­dige vingers sukkel om die nagklere se knope vas te maak, gaan die hele huis se ligte dood. Dadelik ver­moed hy ‘n sekering het uitgebrand. Die skakelbord is in die kelder, en hy wil gaan kyk wat verkeerd is. Hy sê vir sy dogtertjie: “Lê net so stil in jou bedjie. Pappa gaan net gou die lig regmaak. Ek is nou weer terug by jou.” Verskrik wil sy begin huil, oor die gedagte om so alleen, in die donker agtergelaat te word. “Saamgaan, Pappa! Saamgaan!” begin sy kerm. Hy tel haar op in sy arms en so in die donker, begin hy deur die huis loop, versigtig af met die trappe. Sy dogtertjie wikkel haar dieper in sy arms in en druk haar gesiggie in sy nek. “Donker, Pappa,” sug sy. “Ek nie bang nie. Pappa by my.” ‘n Snik skeur uit sy hart uit en hy druk sy gesig in haar hare. “Ja, liefstetjie,” snik hy sag, “dit is baie donker, maar ek is ook nie meer bang nie. My Vader is by my en Hy hou my ook vas in sy arms, ek weet!”

Het ons ook al so ‘n pikdonker in ons lewe ervaar? Is dit nou dalk so donker? Daar is net een seker, vei­lige, troostende toevlug en dit is ‘n bewussyn van God en sy liefde. “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here God gekies as my toevlug” (Ps.73:28). “…my God gee lig as dit donker is om my”(Ps.18:29). Die Here Jesus Christus, as ons Hoëpriester, het vir ons die weg groot oopgemaak na God se genadetroon toe, waar ons troos en krag en vrede kan vind. “Terwyl ons dan nou `n groot Hoë­priester het…Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp…Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb.4:15,16).

“Here, vandag is dit om my donker en ek soek U lig en nabyheid.”

Di 10 Nov: Die Veilige Plek (1)

Lees Psalm 34: 1 – 11

“Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. Kom ondervind en sien dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil” (8,9).

Ernest Gordon vertel in The Sunday School Times, hoe William Hacquist en die werkers van die Evange­lical Al­liance Mis­sion, gedurende die Boxerop­stand in Sjina, van die moorda­dige Sjinese­ opstandeling ont­snap het. Ses dae lank het hulle voor die bendes uitge­vlug, maar toe bereik hulle ’n punt, waar hulle moes kies, of hulle sal voortgaan om oor land, tussen die ber­ge deur, te vlug en of hulle met bote met die rivier sal afvaar. Weens die droogte was die Hanrivier droog. Die vlug oor land het die aangewese roete ge­blyk te wees, want hulle draers en wagte, wat hulle moes beskerm, het geweier om anders, as oor land, tussen die berge deur, te vlug. Hulle het besluit om bid­uur te hou en tyd te neem, om te weet, wat God se leiding is. Tydens die biduur, het daar in William Hacquist en die ander wer­kers se harte, ’n bewussyn ont­­waak om rivierlangs te vlug. Maar die rivier was droog! Hulle het egter in die ge­loof twee platboomskuite bekom. Hulle het kos ge­koop en dit saam met hul baga­sie in die bote geplaas. William Hacquist skryf: The place where we stayed was surrounded by high hills. As we prayed and waited, in about midafternoon, heavy dark clouds came over the hilltops, and from them came pouring down, the hea­viest rain I have ever seen. It really looked like a cloudburst. In a very short time the river bed was filled with water, so we could release the boats and nicely float down the rivier. Later moes hulle verneem, ’n paar honderd “Boxerbandits”, het hulle in ’n bergpas, ’n entjie ver­der die berge in, inge­wag om hulle dood te maak. Hieroor sê William Hacquist: “God sent us the safe way”.

Ons omgewing: strate en wonings, sakepersele, plase, paaie, het deesdae onveilige plekke vir ons, en almal wat vir ons kosbaar is, geword. Die belofte en versekering in Psalm 91:1-5 (Ou Vertaling) het vir ons kosbare en gerusstellende woorde geword: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skadu­wee van die Almagtige. Ek sal tot die Here sê: ‘My toevlug en my bergvesting, my God op Wie ek vertrou’….Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie…”. Dit is nie ’n beveiliging wat maar sommer net vir almal is nie. Dit is ’n geloofs­posisie wat ons moet inneem en deur gehoorsame lewe aan die Here moet handhaaf. Die belofte is: Hy wat sit…en vir die Here sê: My Toevlug en My Bergvesting en My God op Wie ek vertrou. So ’n geloofshouding en gemoedsvertroue kom, wanneer ons God se woord lees en ter harte neem, en die Heilige Gees dan die Woord gebruik, om in ons harte geloof te laat ontwaak. Ons weet die Here Jesus Chris­tus gee ons die vrymoedigheid, om God se beskerming en hulp te vra.

“Here, vandag neem ek my plek in in U as my Skuilplek.”

Ma 9 Nov: Die Onmoontlike Gebed

Lees Markus 11: 20 – 25

“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge vergewe” (25).

Aan die einde van ’n Bybelkonferensie, skryf dr. R. C. McQuilkin in sy boek Studying Our Lord”s Parables, kom ’n meisie van 17 jaar oud na haar Bybelonder­wyser toe en vra om met hom te praat. Met ’n onvaste stem begin sy: “U het ook gehoor dat ’n meisie in haar getuienis vanog­­gend vertel het, dat daar ’n meisie is met wie sy vir ses weke nie gepraat het nie. Ek is daardie meisie.” ”Het jy nou besluit om met haar te praat en die saak tussen julle reg te maak?” ”Ek voel nie om dit te doen nie. Hoekom moet ek gaan regmaak. Kan ek nie ook reg wees nie? Alle ander dinge het ek aan die Here oorgegee.” ”Kom sit hier, dan praat ons,” sê haar onderwyser vir haar. ”Maar kom ons bid eers saam. Bid jy.” Vir ’n rukkie is dit stil. “Bid die Onse Vader,” moedig hy haar aan. Sy begin bid, maar sy bid met ’n ontevrede, opstandige klank in haar stem. “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredinge soos ons….(Mat.6:9)” Sy bly stil. “Wat makeer?” vra die onderwyser. Geen antwoord nie. “Hoekom gaan jy nie aan nie?” Stilte. “Hoe het jy die afgelope ses weke gebid?” ”Ek het nie gebid nie.” Deur die Here se Woord bring die Heilige Gees oortuiging van sonde in haar hart in. Sy bid toe spontaan en bely haar vy­andigheid teen die ander meisie. Sy het haar lewe aan die Here oorgegee en die vyandskap gaan regmaak.

Iets kan in ons Christelike lewe skeef lê sonder dat ons daarop agslaan, of omdat ons dit goed­praat. Deur die Here se Woord wek die Heilige Gees in ons sondeoortuiging op en ons maak die saak reg. Dit begin by ons kop. Ons lees of hoor die Here se Woord en ons begryp dit met ons ver­stand. Dan gaan dit na ons hart toe. Die Heilige Gees bring oortuiging in ons hart in. Die Woord wat ons verstaan het, begin vir ons saakmaak, raak ons, maak ons bekommerd. Dan gaan dit knieë toe. Ons luister na die Woord, neem die oortuiging van die Heilige Gees aan, buig ons knieë en bid dan daaroor. Dan bereik die Woord ons voete. Ons handel. Ons gaan maak ’n saak reg, ons doen die ding waaroor die Here met ons praat. Hierdie proses bring verdieping en oorwinning in ons Christelike lewe in.

“Here, vandag hoor ek, voel ek, bid ek en gehoorsaam ek u Woord.”

Vry 6 Nov: Kom Net So

Lees Jesaja 57: 14 – 21 – Ou Vertaling

“Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes (15).

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, vertel die storie van die groot en geliefde vors, wat by se­­ke­­re geleenthede, die bedelaars en armes van die stad in sy paleis onthaal het. Rondom hom by die feestafel het sy howelinge gesit, geklee in fyn, spier­­wit hofklere. Aan dieselfde tafel het die bede­laars ge­sit, geklee in verflenterde, vuil klere. Dit was altyd ’n feestelike geleentheid en almal was bly, want hulle was lief vir hulle goeie koning. Hy het geen onderskeid gemaak tussen die ryk howe­linge en die verarmde bedelaars nie.

Eendag op pad na so ’n maaltyd toe, kom een van die koning se howe­linge ’n ongeluk oor en smeer sy wit kleed vuil. Met skok bekyk hy homself Hy kon on­moontlik só sy plek tussen al die wit en ryk ge­klede howelinge gaan inneem. Maar hy kon die gedagte nie verdra om van die maaltyd uitge­sluit te wees en vir ’n volgende keer te wag nie. Toe kom die gedagte by hom op: As die koning sy fees­­maal hou, sal sommige as wit geklede howe­linge kom en met hulle pragtige klere, hul geëerde plekke inneem. Ander gaan met vuil klere en vod­de opdaag, maar hulle gaan by die koning net so welkom wees. Hy besluit: “Solank ek net my koning kan sien, gaan ek vandag my plek tussen die bedelaars en armes inneem, en net só met vuil klere en al aansit, en ek weet ek sal net so welkom wees, asof ek die witste klere aan het.”

Nou skryf Spur­geon: “Wanneer my vrymoedig­heid en die kentekens van my verlossing dof was, het ek dit ook al dikwels gedoen,. Ek raai u aan: Doen dit ook. As u nie as heilige na Jesus toe kan kom nie, kom dan net só, met vuil klere as son­daar. Kom vrymoedig, met ver­oot­moe­dig­ing en ge­loof. Baie gou sal u weer sy vrede en vreugde, sy vergif­nis en reiniging, in u hart ervaar.”

Jo­han­nes moedig ons ook aan: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met me­kaar deel aan die­self­de gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle onge­reg­tigheid” (1 Joh.1:7-9). Jesaja moedig ons nog verder aan: “So sê die Here: ‘Ek slaan ag op die mens in nood, op die een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord’” (Jes.66:2).

“Here, vandag kom ek na U toe net soos ek is.”

Do 5 Nov: Die Lampaansteker

Lees 2 Korintiërs 4: 1 – 6

“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom” (9,10)

In die dae voor elektriese straatligte, moes die gas- of parafien­lam­pe, met sononder een vir een, deur ‘n lamp­aan­steker aan­ge­steek word, en die volgende og­gend, weer ge­doof word.

Die Sunday School Times vertel van so ‘n lamp­aan­steker, ‘n onverskillige jongman, wat een aand, op sy rond­te om die lampe aan te steek, by die heilsleër (sal­vation army) se opelugdiens ver­by­­loop, die evangelie hoor en tot bekering kom. Sy geestelike lig is dié aand deur God aan­ge­steek. Een van sy vriende, ‘n drinking pal, het hy hom ge­noem, spot later met hom, omdat hy nou so gods­dienstig geword het, dat hy nie meer met die gang wil uitgaan en jolyt hou nie.

“Jy weet wat my werk is,” sê Jesus se nuwe volge­ling vir sy vorige maat. “Soggens voor sonop, begin ek straat­op gaan om lampe dood te maak. Dan lê die straat, soos ek vorder, donker ag­ter my. Dit is hoe my lewe eers was, ‘n donker ver­lede. Kyk ek vorentoe, sien ek ‘n lang ry skynende ligte voor my. Dit is hoe my toekoms nou lyk, na ek Jesus in my lewe laat inkom het.” “Dis goed en wel,” antwoord die vorige maat, “maar dis nie lank nie of jy maak die laaste lamp ook dood en dan is dit ook maar weer don­ker. Waar is jy dan met jou danige Jesus?” “Dis waar,” antwoord die lampwerker, “maar dan kom die son op en ek het nie meer lampe nodig om vir my lig te maak nie. Jesus is nou die lig in my lewe en na my laaste dag, op aarde, gaan ek na Hom toe in sy ewige hemel.”

Die Nuwe Testament beklemtoon hierdie be­moe­­di­gende waarheid. “Die volk wat in duisternis woon, het ‘n groot lig gesien…vir hulle het die lig opgegaan” (Mat.4:13-16). “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is” (Ef.5:8). Dit is elke geredde mens se ver­wagting van die ewige hemel: “Die stad het nie die son en maan nodig om hom te verlig nie, want die heer­likheid van God het hom verlig en die Lam is sy lamp” (Op.21:23). Op `n dag, doof elkeen van ons, se le­wens­lig. Vir elkeen in wie se lewe die Here Jesus as Verlosser ingekom het, kom die son van ewige lig dan op.

“Here, vandag kyk ek weg van die aardse donker en ek verlang na Jesus se lig in my lewe en my toekoms.”

Wo 4 Nov: Die Rooskweker

Lees Romeine 6: 1 – 11

“Ons het saam met Christus gesterwe….onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (8,11).

Dr. A. S. Gumbart se Hollandse vriend se meto­de om goeie rose te kweek, het vir dr. Gumbart ’n waardevolle geestelike les geleer. Die kweker se metode was om ‘n minderwaardige roossoort, langs ’n kosbare roosvariteit te plant. Hy hou die minder-waardige roos goed dop en sodra die meeldrade verskyn, knip hy dit kort, sodat die minderwaardige roos hom nie self bestuif nie. Die bestuiwing van die minderwaardige roos moet van die goeie roos af kom. Gaandeweg ontwikkel die swak roos die goeie eienskappe van die meerderwaardige roos en nie te lank nie, of dit lyk en ruik, soos daardie goeie roos waarlangs hy groei.

Dr. Gumbart sê: This is indeed a beautiful illustration of the blessing that comes to the life that knows the com­pa­nion­ship of Jesus. If our lifes are pollenized, as it were, by his righteousness; if his life transforming truth is received into the heart, and self be sacrified to make room for the incoming of his superior life, it cannot be other than that gradually the life loses its own inferior cha­racteristics and develops the cha­rac­teristics of the blessed life of Him who is Himself the Rose of Sharon.

So ’n proses vra tyd van omgang met Jesus, luister na sy Woord en sy stem deur die Heilige Gees in ons hart, belydenis en aflegging van ons slegte meeldrade van selfsug, oneerlikheid, wellus en ongehoorsaamheid. Dit is die lonende, lieflike groeiproses in die lewe van die dissipels van Jesus wat stadigaan soos hulle Meester begin word.

“Here, vandag bly ek naby U en wil met U verkeer.”

Di 3 Nov: Beproef tot ons Voordeel

Lees 1 Petrus 1: 1 – 10

“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word…selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets…” (6,7).

Die Christenskrywer Baxter, deur wie se boeke baie van ons al in ons geestelike lewe aange­moe­dig is, skryf oor homself, dat hy, toe hy gesond was, geen gedagte ge­­had het om boeke te skryf nie. Sy diens aan God, as pre­diker van die evan­gelie, het hom heeltemaal bevredig. Toe doen hy ’n kwaal van ernstige, inwendige bloe­ding op. Hy skryf: “When I was left solitary in my cham­ber at Sir John Cook’s, in Derbyshire, without any acquain­tance, but my servant about me, and was sen­­tenc­ed to death by the physicians, I began to contemplate most seriously on the everlasting rest, which I apprehended myself to be just on the borders of … I began to write something on that subject … and it enlarged to the bulk in which it is published.”

So ’n skrywer se skryfwerk het ’n diep loop in die leser se hart. Sulke manne se boeke is ge­seën­de leesstof. Dit is tot ons voordeel dat die Here oor hom so ’n beproewing gebring het. Dit is dieselfde met Dawid. Die Here het hom deur pyn­­like erva­ringe en beproewinge gelei en hy het vir ons, deur die Heilige Gees, die Psalms geskryf wat van­dag vir ons so baie werd is. Met Paulus was dit die­­self­de. As Paulus nie in die tronke van Sesarea en Ro­me beland het nie, het ons nie sy send­briewe ge­had nie. Die toetse en beproewinge wat vir ons dik­wels teleurstellend en swaar is, is baie keer die He­re se manier om ons juis skerp te maak, om vir Hom bruik­bare instru­mente tot seën vir ander te maak. “Wan­neer ons getug word, lyk die tug op daardie oom­blik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daar­deur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hul­le gehoorsaam is aan die wil van God” (Heb.12:11).

“Here, vandag wil ek verstaan dat U my met ’n doel tugtig.”

Ma 2 Nov: Die Rooskweker

Lees Romeine 6: 1 – 11

“Ons het saam met Christus gesterwe….onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (8,11).

Dr. A. S. Gumbart se Hollandse vriend se meto­de om goeie rose te kweek, het vir dr. Gumbart ’n waardevolle geestelike les geleer. Die kweker se metode was om ‘n minderwaardige roossoort, langs ’n kosbare roosvariteit te plant. Hy hou die minder-waardige roos goed dop en sodra die meeldrade verskyn, knip hy dit kort, sodat die minderwaardige roos hom nie self bestuif nie. Die bestuiwing van die minderwaardige roos moet van die goeie roos af kom. Gaandeweg ontwikkel die swak roos die goeie eienskappe van die meerderwaardige roos en nie te lank nie, of dit lyk en ruik, soos daardie goeie roos waarlangs hy groei.

Dr. Gumbart sê: This is indeed a beautiful illustration of the blessing that comes to the life that knows the com­pa­nion­ship of Jesus. If our lifes are pollenized, as it were, by his righteousness; if his life transforming truth is received into the heart, and self be sacrified to make room for the incoming of his superior life, it cannot be other than that gradually the life loses its own inferior cha­racteristics and develops the cha­rac­teristics of the blessed life of Him who is Himself the Rose of Sharon.

So ’n proses vra tyd van omgang met Jesus, luister na sy Woord en sy stem deur die Heilige Gees in ons hart, belydenis en aflegging van ons slegte meeldrade van selfsug, oneerlikheid, wellus en ongehoorsaamheid. Dit is die lonende, lieflike groeiproses in die lewe van die dissipels van Jesus wat stadigaan soos hulle Meester begin word.

“Here, vandag bly ek naby U en wil met U verkeer.”

Vry 30 Okt: Verlengde Preektema

Lees Jesaja 40: 9 – 11

“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms… Hy sorg vir die lammerooie” (11).

Eerw. R. I. Williams het sy plaaslike koerant, die Norfolk Ledger Dispatch, gebel om die tema van sy preek, vir die komende Sondag, te verstrek. “Die tema is ‘Die Here is my Herder’,” sê hy vir operateur in die koerantkantoor. Die man vra: “Is dit al?” Eerw. Williams antwoord: “Dit is genoeg.” Die Saterdagoggend kondig die koerant eerw. Williams se preektema toe ook so aan: “Die Here is my Herder – dit is genoeg.” Die leraar was so in sy skik met die verlengde tema van sy preek, dat hy dit in die Sondagoggenddiens in die Fairmount Park Methodist Church net so gebruik het. Die kern van sy preek was: As die Here ons Herder is, is dit genoeg. Ons het nie ander hulp nodig nie!

Jesus het Homself, in Johannes 10, die Goeie Herder genoem. “Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit…(hulle) sal in en uit gaan en weiding kry…Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape…Ek ken my skape, en my skape ken My.” Ons het nie méér beskerming en versorging as dít nodig nie! Dit is vir ons waarlik genoeg!

“Here, vandag soek ek by U my versorging.”

Do 29 Okt: Daardie Uitroep

Lees Jakobus 3: 5 – 12 – Lewende Bybel

“Uit dieselfde mond stroom … lofliedere en vloeke” (10)

’n Jongman was ’n groot vloeker, maar dit het hom nie gehinder nie, skryf Keith L. Brooks. Hy trou toe met ’n pragtige Christenmeisie. Daarna begin hy sy vloekgewoonte in ’n ander lig sien en probeer hy om dit af te leer. Een Sondagoggend, voor hulle sou kerk toe gaan, staan hy en skeer. Hy sny hom raak. Voor hy homself kon keer roep hy ergerlik uit: ”God!” Toe eers sien hy hoe sy vierjarige dogtertjie, pop in die arms, vir hom staan en kyk. Sy sit haar pop neer en kyk met vonkelende ogies rond in die badkamer. “Is God hier?” vra sy opgewonde. Die man word rooi in die gesig en skaam vra hy: “Hoe­kom vra jy so?” “Ek het gedink God is hier want ek het gehoor Pappa praat met Hom.” Sy sien die ont­nugterde uitdrukking op sy gesig. “Roep Hom weer, Pappa. Ek weet Hy sal kom as Pappa Hom roep.” Die kindjie se woorde sny diep in sy hart in. Hy tel haar op in sy arms en met ’n snik druk hy haar teen hom vas en vir die eerste keer roep hy regtig tot God, om hom te vergewe en hom sy kind te maak en hom te help om soos ’n Chris­ten te lewe. In daar­die oomblik het hy vry geword van sy vloek­ge­woonte. Saam met sy vrou het hy ’n toegewyde Christen geword.

As ’n vloekwoord in ’n gesprek uitglip, is dit soos wanneer ’n mens ’n brief skryf en elke nou en dan is daar ’n klad. Die ergste vloekwoorde is seker wanneer ons die ewige en almagtige God se Naam vir ’n vloekwoord gebruik; of die Naam van die Here Jesus Christus, wat vir ons gely en gesterf het om ons te red, vir ’n vloekwoord gebruik.Die Here se woord praat met ons oor die vloekgewoonte. Dit lyk of dit onder die vroeë Christene ook ’n probleem was. In meer as een sendbrief praat die apostels oor die probleem van kwaadword en vloek: “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie…” (Ef.4:31). “Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie…” (Kol.3:8). Gelukkig gebruik Jakobus bemoedigende woorde, (vir ons) as hy oor die tong se onbedwingbaarheid skryf: “Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak…” (Jak.3:2). Ons verdere bemoediging in ons struikelinge kom uit 1 Johannes 1:9: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

“Here, vandag wil ek versigtig wees met wat ek sê en uitroep.”

Wo 28 Okt: Koning of Eerste Minister

Lees Markus 12: 35 – 37

“Die Here het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand…’ Dawid self noem Hom Here…” (36)

Eerw. G. W. Moore vertel in een van sy boeke van ’n man, wat aan die einde van een van die jaar­likse, geestelike Keswick-konferensies in Engeland, getuig het van die groot geestelike seën wat hy ont­vang het. Die leier van die getuienis­diens wou hê die man moet meer spesifiek wees en sê hoe­danige seën hy ontvang het. Hierop het die man dit soos volg verduidelik: “Ek was reeds ’n Christen voor ek na Keswick toe gekom het. Christus was my koning. Maar hy was net ’n konstitusionele koning en ek was steeds die eerste minister in my lewe. Ek het besluit wat ek doen en hoe ek lewe. Christus was die koning op die agtergrond en moes net sy stempel van seën op my doen en late plaas. Hier het ek na die predikers geluister wat, soos die Nuwe Testament dit leer, oor volkome oorgawe aan Christus gepreek het. Ek het ’n nuwe ontmoeting met die Here gehad. Deur die krag van die Heilige Gees het ek Hom nou absolute koning in my lewe gemaak. Hy regeer nou oor my en ek dien Hom. Dít is die seën wat in my lewe ingekom het.”

In Markus 12 (bo) wys Jesus die skrif­geleerdes daarop dat koning Dawid die Messias, Christus, Here noem. Dawid het Christus se gesag bo sy eie koningskap verhef. As gelowiges behoort ons aan die Here en ons glo in Hom en dien Hom. Daar is egter ’n Christenskap wat dieper loop as net geloof. Dit is oorgawe aan die Here. So ’n Christenskap word dissipelskap genoem. In Calvary Church News word ’n onderskeiding tussen gelowig wees en dissipel wees, gemaak:

Om ’n gelowige te wees, kos niks. Om ’n dis­si­pel te wees is duur. “’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle:… ’Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie’”(Luk.14:25-27). Christenskap beteken ge­loof in Christus, maar dis­si­pelskap is die uit­leef van hierdie geloof. Ek glo in Christus se verlossingswerk aan die kruis vir my, maar dis­sipelskap is die resultaat van sy verlossing in my lewe.

Gelowiges stel hulleself eerste, dissipels stel Christus eerste. Gelowiges word aan hulle woorde geken, dis­sipels word aan hulle vrugte geken. Geloof red my siel, maar dis­si­pelskap verheerlik Christus. Gelowiges word soms weens hulle gedrag en taal nie as Christene geken nie, maar dissippels is as Christene bekend. Gelowiges gaan hemel toe; dissipels ontvang daar beloning. “Julle moet baie versigtig wees sodat julle die hele beloning kan ontvang wat God beloof het. (2 Joh. vrs 8 Lew.Byb).

“Here, vandag wil ek u dissipel wees.”