Wo 9 Des: Hou Die Vuur Brandende

Lees 2 Timoteus 1: 3 – 11

“…(onthou) dat jy die genade­gawe wat God jou gegee het…soos ‘n vuur weer moet aanblaas” (6)

Genl. William Booth, stigter en leier van die heils­­leër (beter bekend as die Salvation Army), het vir sy offisiere en manskappe gesê: “Jong­man­ne, pas die vuur in julle harte op, want dit is geneig om dood te gaan.” Toe maak hy ‘n paar vergelykings, hoe hulle met die gees­te­like vuur in hulle harte moet werk, soos ‘n mens ‘n vuur op die vuurherd brandend sal hou. Eerstens moet vuur genoeg lug kry. Die vensters moet oop wees, sodat daar ‘n trek kan wees. “Windstilte laat vuur smoor en dood­gaan. ’n Hemelse lug, die werking van die Hei­­lige Gees, moet gedurig deur die venster van ge­bed invloei.” Jesus het die werk van die Heilige Gees vergelyk met die wind wat waai: “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaankom en waar hy heen gaan nie. So ge­beur dit met…die Gees…” (Joh.3:8). In Han­delinge word die werk van die Heilige Gees met wind en vuur vergelyk: “Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige storm­wind… “Hulle het iets soos vuur gesien wat…op elkeen van hu­lle gekom het.” (Hand.2:2,3). Ons weet wind wakker vuur aan, maar die wind kan net deur oop ven­sters in die huis inkom. Ge­bed is die vensters vir die inkom van die Gees in ons harte.

Tweedens moet die ou as gereeld verwyder word, anders smoor die vuur. “Deur selfonder­soek en belydenis van sondeskuld, moet die vuurherd van die hart skoon gehou word, anders sal die vuur doodsmoor.” “… as ons ons sondes bely – Hy is getrou…Hy vergewe ons ons son­des en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh.1:9).

Derdens moet daar gereeld nuwe brandhout op ‘n vuur gesit word. “Deur die Woord van God te lees en te oordink word die geestelike vuur in ons harte gevoed en brandend gehou.”

“Here, vandag wil ek sorg vir U vuur in my hart.”