Mense het Hom verag en wou niks met hom te doen hê nie. Hy is iemand wat bittere lyding ken en goed weet wat pyn is. – In die ongelowige wêreld sal julle swaarkry, maar moenie bang wees nie, want Ek het die wêreld oorwin. – Die jakkalse in die veld het gate om in te bly en die voëls het neste, maar Ek, die Redder, het nie eers ’n plek van my eie waar Ek my kop kan neerlê nie. – Want ons vaste woonplek is nie hier op die aarde nie. Ons sien uit na ‘n permanente tuiste wat kom. – Ons is soos atlete wat op die atletiekbaan hardloop in die wedloop wat God vir ons bepaal het. Hou julle oë altyd op Jesus, want Hy lei ons om op God te vertrou en Hy sal ons leier bly tot die einde toe. Hy was gewillig om die skandelike dood op die kruis te sterf ter wille van die vreugde wat voorgelê het. Nou sit Hy in die ereplek in die hemel aan die regterkant van God. – Maar ons broers het (Satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die boodskap wat hulle aan ander vertel. – God het ons vir Homself uitgekies. Wie sal nog kan aankla? Niemand nie, want dit is God self wat ons skuld weggeneem het. Wie sal ’n vonnis oor ons kan vel? Daar is niemand wat dit kan doen nie, want Christus Jesus het vir ons gesterf. – As iemand aan Jesus Christus verbind is, sal God hom nie veroordeel nie. Dit is Hy wat ons so liefgehad het, dat Hy ons sondes met sy bloed afgewas het…aan Jesus Christus behoort die Goddelike eer en die krag tot in die oneindige ewigheid.
“Here, vandag lees ek u Woord en ek luister.”