Lees: Deuteronomium 32: 10 – 12
“Soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here … sy volk gelei.” (11)
Henry Moorhouse was in sy gemeente gewikkel in ’n taak, wat vir hom te groot was om uit te voer. Hy was so neerslagtig oor sy swakheid en die grootte van die probleem dat hy nie vrugbaar en gelowig met sy werk kon voortgaan nie. Hy het een aand tuisgekom met ’n swaar pak vir sy vrou. Sy invalide dogtertjie het hom by die deur verwelkom. “Laat ek dit vir mamma gee!” het sy gretig uitgeroep en haar hande uitgesteek om die pak by hom te neem. “Ag, my Kindjie,” het Moorhouse hartseer geantwoord, “jy kan dan nie eers loop nie, hoe sal jy die swaar pak tog kan dra?” “As Pappa my dra, kan ek mos die pak dra en dit vir mamma gee,” het sy onversteurd geantwoord. In ’n oomblik het sy swaarmoedigheid plek gemaak vir hoop en nuwe moed. Hy het heel tyd so vasgekyk teen die grootte van sy probleem aan die een kant en sy swakheid en onvermoë aan die anderkant, dat hy God nie meer kon raaksien nie. Hy het sy hemelse Vader se sorg en krag buite rekening gelaat.
Het u ’n probleem wat vir u té groot is? Bid Dawid se gebed (Ps.71:9,12): “ … moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie …kom my tog gou te hulp, my God!”
“Here, ek wil vandag my groot probleem in u hande plaas.”