Lees 2 Korintiërs 4 : 1 – 6
“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis, het ook in ons harte ’n lig laat skyn, om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6).
’n Jong meisie, uit ’n gegoede huis, glip een aand weg uit ’n jongmensejolyt. Uitgeput klouter sy in haar bed, sakel die lig af en wou haar net aan die slaap oorgee, toe ’n helder lig, van buite af in die kamer, inskyn. Die lig val op ’n afdruk van Plockhorst se treffende skildery: Die Goeie Herder. Dit is `n prent van Jesus, met `n lammetjie in sy arms. Die meisie lig haar op, kyk deur die venster, om te sien waarvandaan die lig so skielik kom. Dit is die kombuislig, in ’n dagloner se klein huisie, oorkant die tuin. Daarna merk die meisie elke aand op, hoe die lig daardie prent, van die ontfermende Verlosser, teen die muur van haar kamer, in haar ouers se deftige woning, belig en beklemtoon. Die lamp se eienaar het dit nie geweet nie. Gospel Herald eindig die storie so: ”So do many lives, following the humble, daily routine in the spirit of their Master, often send a revelation of the Saviour … without knowing it.”
Die evangelie word in die Bybel lig genoem. “Ek bid ook dat die Gees sy lig so duidelik in julle harte sal laat skyn, dat julle sal verstaan watter vooruitsig daar vir julle is noudat God julle geroep het” (Ef.1:18 – Lew.Byb.). Ons weet, lig het ’n draer nodig. Sonlig het die son nodig, huislig het gloeilampe nodig. God gee die lig van geloof en redding in Jesus Christus in ons harte, maar Hy het draers van sy lig nodig. Dié wat getuig, of evangelieleesstof versprei, of ’n ligdraende voorbeeld uitleef, is die draers van God se evangelielig. Lampolie laat lampe brand, kragstasies laat gloeilampe brand, so is die Heilige Gees in ons die kragbron van God se lig, wat ons moet uitstraal na ander toe.
“Here, vandag wil ek, deur u Gees, U lig na iemand uitdra.”