Lees Openbaring 20 : 11 – 15
“Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe….As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (12,15).
In die Kapel van St. George, in die Westminster Abdy, is ’n gedenkboek oor die Tweede Wêreldoorlog, wat uit vier volumes bestaan, word in Our Hope vertel. Die name van die 60 000 burgerlikes, mans, vroue en kinders, wat in Londen, as gevolg van die oorlog, omgekom het, is in hierdie gedenkboek se vier volumes geskryf. Om die beurt lê een van die volumes op die gebedsaltaar oop en ’n lig skyn op die bladsy neer. Elke dag word een bladsy omgeblaai. Die name is in datumvolgorde, van die persone se dood, neergeskryf. So verskyn die name van die rykes en die armes, getiteldes en gewone mense, oud en jonk, gesond of sieklik, beroemd of onbekend, almal daar saam op die bladsy wat omgeblaai is, vir almal om dit te sien, en dit te respekteer. Hierdie boek is ’n boek van die dood.
Daar is ’n ander boek, die Boek van die Lewe. Daardie boek is in die hemel. In dáárdie Boek staan die name van die mense wat op aarde geleef het, óók sonder inagneming van klas, kultuur, stand of rykdom. Die lig van die hemel skyn daarop neer. Dit is die name van mense, wat in die bestek van hul aardse lewe, deur hul geloof in Christus Jesus, God se eiendom geword het en deur die Heilige Gees, die nuwe lewe uit Christus, deelagtig geword het.
Iewers in ons lewe, moet ’n dag wees, waar die kennismaking tussen ons en Christus, as verlore sondaar en ewige Verlosser, plaasgevind het. Dalk het dit gebeur toe u nog klein was. U ouers het hul doopbelofte goed nagekom en u het, baie vroeg in u lewe, Jesus as Saligmaker leer ken. U weet nie van die dag nie, maar u weet: Jesus Christus is my Verlosser, omdat Hy ook my sonde aan die kruis gedra het en ook in my hart, sy nuwe lewe gegee het. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood…Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God…julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom.8:1,2,14,15,16). Die Heilige Gees gee ons in ons hart die sekerheid, ons behoort, op grond van Jesus se verlossingswerk, aan Hom. Dit is `n ondersteuning van geloof, as ’n mens ’n dag beleef het, toe hy kragdadig, dalk dramaties, tot bekering gekom het! Die van ons wat nie so ’n besondere bekeringsdag ken nie, en in ons hart ook nog twyfel of ék regtig ’n kind van God is, want die Gees se getuienis in my hart is nie so helder nie, moet dit in ons binnekamer met die Here uitmaak, of by iemand daarvoor hulp soek. Anders mag met ons gebeur waaroor Jesus ons in Matteus 7:21-23 waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie…?’ dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af…”
“Here, vandag wil ek seker maak my naam is u Boek van die Lewe geskryf.”