Wo 18 Nov: Gestuur

Lees Handelinge 26: 12 – 18

“Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het…(vir) die heidennasies na wie toe Ek jou stuur…jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle…tot God kan bekeer…” (16,17,18)

William Carey was ‘n sieklike kind en as tiender­ja­rige het hy hom aan ‘n onverskillige lewe oor­ge­gee. Weens sy swak geleerdheid kon hy nie ander werk kry as om vak­leerling in ‘n skoenmakerswin­kel te word nie. ‘n An­der vakleerling, John Warr, wat reeds daar gewerk het, was ‘n Christen en vasbe­slote om waar hy kon vir Christus te getuig. Aan die begin kon hy met die skraal, los­bandige Wil­liam Carey geen hond haaraf maak nie. Op ‘n dag word Carey betrap waar hy ‘n nagemaakte munt­­stuk in die geldlaai vir ‘n egte muntstuk probeer om­­ruil. In sy vernedering wend hy hom tot John Warr om vir hom te bid dat hy nie afgedank of ver­volg sal word nie. John Warr se getroue getuienis vir Christus het op Carey indruk gemaak.

Op die Sondag, 10 Februarie 1779, oorreed John Warr vir Carey om saam met hom kerk toe te gaan. Die prediker se teks is Hebreërs 13:12-14: “Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en (sy) smaad dra…want ons het in hierdie wê­reld geen vaste ver­blyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” Na die diens het John Warr vir Carey, toe sewentien jaar oud, gehelp om die Here Je­sus as sy Sa­ligmaker aan te neem en hy het Christus se vu­ri­ge dis­sipel ge­word. John Warr sou daardie dag nie kon besef watter groot be­legging hy in Christus se koninkryk gemaak het nie.

‘n Tyd daarna lees Carey ‘n boek: Captain Cooke’s Voy­ages. Dit maak hom bewus van die groot hei­den­wêreld daar buite. In daardie jare het net die Hernhut Morawiërs sendingwerk gedoen. Ca­­rey het intussen le­ke­prediker en Chris­­ten­wer­ker in die omliggende ge­meen­­tes ge­word. Hy be­gin ernstig by die predikante en ge­meentes pleit om iemand na die heidenlande te stuur. Daar­die tyd het die Protestante kerke geglo Chris­tus het sy sendingopdrag slegs aan sy apostels ge­gee. Ca­rey skryf ‘n boek, Obligations of Christians for the Conversion of the Heathens. Dit verskyn op 12 Mei 1792. Op 31 Mei 1792 spreek hy ‘n predikante­sa­me­­koms in Not­ting­ham toe oor die kerk se roeping om die evan­­gelie na die wêreldnasies te neem. Op 2 Ok­to­­ber 1792 word ‘n Sendingraad deur die ker­­ke gevorm. Uiteindelik hét Carey Indië toe gegaan. Hy het nooit verlof geneem nie en nooit weer na Engeland toe te­rug­­gekeer nie. Hy het 41 jaar in Indië gewerk. Hy is daar op 73-jarige ouderdom dood. Hy het die he­le Bybel in 6 ta­le en dele van die Bybel in 29 an­der tale vertaal. Mense moet die Bybel kan lees, het hy geglo. Hy het meer as 100 skole in die In­diese platteland opgerig. Hy het die Seram­po­re College, waar daar nog steeds predikante op­gelei word, gestig. Hy het woordeboeke en taalboeke in 5 verskillende tale opgestel. Onder sy invloed is die ge­bruik, om ‘n man se weduwee na sy dood te ver­brand, afgeskaf.

Die kort geskiedenis van hierdie vrugbare diens­kneg van die Here se lewe word met die volgende woorde afgesluit: Most impor­tant, he launch­ed the modern era of missions and laid the foundation for the modern science of missiology. One biogra­pher, Mary Drewery, wrote: “The num­ber of actual conversions attributed to him is pa­the­­tically small; the number indirectly attribu­table to him must be legion.”

 “Here, vandag wil ek u getroue getuie wees.”