Lees Handelinge 26: 12 – 18
“Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het…(vir) die heidennasies na wie toe Ek jou stuur…jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle…tot God kan bekeer…” (16,17,18)
William Carey was ‘n sieklike kind en as tienderjarige het hy hom aan ‘n onverskillige lewe oorgegee. Weens sy swak geleerdheid kon hy nie ander werk kry as om vakleerling in ‘n skoenmakerswinkel te word nie. ‘n Ander vakleerling, John Warr, wat reeds daar gewerk het, was ‘n Christen en vasbeslote om waar hy kon vir Christus te getuig. Aan die begin kon hy met die skraal, losbandige William Carey geen hond haaraf maak nie. Op ‘n dag word Carey betrap waar hy ‘n nagemaakte muntstuk in die geldlaai vir ‘n egte muntstuk probeer omruil. In sy vernedering wend hy hom tot John Warr om vir hom te bid dat hy nie afgedank of vervolg sal word nie. John Warr se getroue getuienis vir Christus het op Carey indruk gemaak.
Op die Sondag, 10 Februarie 1779, oorreed John Warr vir Carey om saam met hom kerk toe te gaan. Die prediker se teks is Hebreërs 13:12-14: “Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en (sy) smaad dra…want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” Na die diens het John Warr vir Carey, toe sewentien jaar oud, gehelp om die Here Jesus as sy Saligmaker aan te neem en hy het Christus se vurige dissipel geword. John Warr sou daardie dag nie kon besef watter groot belegging hy in Christus se koninkryk gemaak het nie.
‘n Tyd daarna lees Carey ‘n boek: Captain Cooke’s Voyages. Dit maak hom bewus van die groot heidenwêreld daar buite. In daardie jare het net die Hernhut Morawiërs sendingwerk gedoen. Carey het intussen lekeprediker en Christenwerker in die omliggende gemeentes geword. Hy begin ernstig by die predikante en gemeentes pleit om iemand na die heidenlande te stuur. Daardie tyd het die Protestante kerke geglo Christus het sy sendingopdrag slegs aan sy apostels gegee. Carey skryf ‘n boek, Obligations of Christians for the Conversion of the Heathens. Dit verskyn op 12 Mei 1792. Op 31 Mei 1792 spreek hy ‘n predikantesamekoms in Nottingham toe oor die kerk se roeping om die evangelie na die wêreldnasies te neem. Op 2 Oktober 1792 word ‘n Sendingraad deur die kerke gevorm. Uiteindelik hét Carey Indië toe gegaan. Hy het nooit verlof geneem nie en nooit weer na Engeland toe teruggekeer nie. Hy het 41 jaar in Indië gewerk. Hy is daar op 73-jarige ouderdom dood. Hy het die hele Bybel in 6 tale en dele van die Bybel in 29 ander tale vertaal. Mense moet die Bybel kan lees, het hy geglo. Hy het meer as 100 skole in die Indiese platteland opgerig. Hy het die Serampore College, waar daar nog steeds predikante opgelei word, gestig. Hy het woordeboeke en taalboeke in 5 verskillende tale opgestel. Onder sy invloed is die gebruik, om ‘n man se weduwee na sy dood te verbrand, afgeskaf.
Die kort geskiedenis van hierdie vrugbare dienskneg van die Here se lewe word met die volgende woorde afgesluit: Most important, he launched the modern era of missions and laid the foundation for the modern science of missiology. One biographer, Mary Drewery, wrote: “The number of actual conversions attributed to him is pathetically small; the number indirectly attributable to him must be legion.”
“Here, vandag wil ek u getroue getuie wees.”