Vry 20 Nov: Geloofsgroei

Lees Hebreërs 5: 11 – 6: 3

“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)

Wanneer geloof in die siel begin, is dit klein soos ’n mosterdsaadjie, waarvan Christus gesê het dat dit die kleinste van alle soorte saad is. Maar die Heilige Gees bedou dit met sy genade en dit ontkiem en groei en word soos ’n groot boom. Só groei ons geestelike lewe:

In die begin kan geloof net na Jesus KYK. Selfs dan is daar so baie wolke van twyfel en dofheid van oë, dat ons die Heilige Gees nodig het om sy lig op die kruis te skyn, voordat ons dit kan sien. Dan kry geloof  krag om na Jesus te KOM.

   Na ’n mens na Jesus gekom het, vorder geloof ’n bie­tjie verder en KLEM aan Christus vas. Geloof begin Chris­tus aansien in sy voortreflikheid en aanvaar Hom en neem Hom aan en beskou Hom as ’n ware Ver­losser en is oortuig van sy volkome vermoë om te red.

Nou gaan geloof nog verder en dit LEUN op Chris­tus. Die laste van sorge, droefheid en kwelling word op sy geseënde skouers gelê.

Geloof kan nou nederig, maar vasbeslote, alles wat Christus is en alles wat Hy bewerk het, TOEëIEN.

Eindelik, terwyl dit slegs vertrou in Christus en sy verlossingswerk, styg geloof op tot ’n VOLLE SE­KER­HEID. Dit is ’n geseënde toestand van die geloofs­le­we.

“Deur Christus het julle … die evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom … In Christus het die Heilige Gees … julle as die eiendom van God beseël” (Ef.1:13). “Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid …Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb.10:22). “En  verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei …”(1Pet.2:2 Ou Vertaling).

“Here, vandag verlang ek na die werking van die Heilige Gees in my hart om my te laat groei tot die volle sekerheid van geloof.”