Lees 1 Petrus 1: 1 – 10
“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word…selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets…” (6,7).
Die Christenskrywer Baxter, deur wie se boeke baie van ons al in ons geestelike lewe aangemoedig is, skryf oor homself, dat hy, toe hy gesond was, geen gedagte gehad het om boeke te skryf nie. Sy diens aan God, as prediker van die evangelie, het hom heeltemaal bevredig. Toe doen hy ’n kwaal van ernstige, inwendige bloeding op. Hy skryf: “When I was left solitary in my chamber at Sir John Cook’s, in Derbyshire, without any acquaintance, but my servant about me, and was sentenced to death by the physicians, I began to contemplate most seriously on the everlasting rest, which I apprehended myself to be just on the borders of … I began to write something on that subject … and it enlarged to the bulk in which it is published.”
So ’n skrywer se skryfwerk het ’n diep loop in die leser se hart. Sulke manne se boeke is geseënde leesstof. Dit is tot ons voordeel dat die Here oor hom so ’n beproewing gebring het. Dit is dieselfde met Dawid. Die Here het hom deur pynlike ervaringe en beproewinge gelei en hy het vir ons, deur die Heilige Gees, die Psalms geskryf wat vandag vir ons so baie werd is. Met Paulus was dit dieselfde. As Paulus nie in die tronke van Sesarea en Rome beland het nie, het ons nie sy sendbriewe gehad nie. Die toetse en beproewinge wat vir ons dikwels teleurstellend en swaar is, is baie keer die Here se manier om ons juis skerp te maak, om vir Hom bruikbare instrumente tot seën vir ander te maak. “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God” (Heb.12:11).
“Here, vandag wil ek verstaan dat U my met ’n doel tugtig.”