Di 17 Nov: Oorwinning

Lees Johannes 20: 19 – 25

“Alhoewel die deure gesluit was omdat die dis­sipels bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’” (19)

’n Interessante verhaal word vertel hoe die nuus, van die afloop van die geveg by Waterloo, tus­sen die Engelse, onder Wellington, en die Fran­­se, onder Napoleon, in Londen bekend ge­maak is. ’n Skip het tot naby die Engelse kus gekom en met vlae die boodskap na die Win­ches­ter Katedraal toe begin sein. Die letters van die boodskap, soos die vlae dit gesein het, is een-een neergeskryf:  W-E-L-I-N-G-T-O-N  D-E-F-E-A-T-E-D…. en toe sak die mis oor die skip toe en die res van die boodskap kon nie gesien word nie. Geheel Londen was geskok oor genl. Wel­ling­ton se neerlaag teen keiser Napoleon. ’n Neer­slagtigheid het oor die Engelse neergesak. Toe lig die mis weer op en die res van die bood­skap word gesein: N-A-P-O-L-E-O-N. Dus: Wellington defeated Napoleon. Dít was ’n an­der sto­rie. Hierdie wonder­li­ke nuus het soos ’n huppelende lied geheel Engeland deurgalm.

Die heerlike nuus van die Here Jesus se opstanding en sy oorwinning oor Satan en die dood, het amper dieselfde proses deurloop. Die aanvanklike nuus van sy opstanding was somber en dubbelsinnig. Oor die twee Emmausgangers se gesprek met Je­sus, wat na sy opstanding by hulle aangesluit het, lees ons in Lukas 24:13-24: “Je­sus vra hulle toe: ‘Wat is dit wat julle so ernstig met me­kaar loop en bespreek?’ Met somber gesigte gaan hulle staan…en antwoord Hom: ‘Die dinge in ver­band met Jesus…en hoe ons Raad Hom…gekruisig het…’n paar vroue…het ons ook nog ont­stel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf …hulle het…engele gesien wat sê dat Hy lewe. Sommige van ons mense het graf toe gegaan…maar Hom het hulle nie gesien nie.” Selfs toe Jesus tussen die dissipels verskyn het, lees ons in Luk.24:36: “Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees…”

Leef ons in die oorwinning en blydskap van Jesus se opstanding uit die dood. Die Heilige Gees kan deur die Here se woord dit vir ons werk­likheid maak. “Ons het dieselfde Gees wat die ge­loof wek, en ons glo…ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon stel” (2 Kor.4:13,14). Wanneer Je­sus in sy opstandingsheerlikheid vir ons ’n werk­lik­heid geword het, word sy kruisdood vir ons ’n nu­we werklikheid. Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het, het hy vir hulle sy wonde gewys. “Jesus het gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle’…nadat Hy dit gesê het wys Hy sy hande en sy sy vir hulle…” (Joh.20:19,20). Tomas het selfs gesê hy sal nie glo voor hy nie sy vinger in die merke van die wonde gesteek het nie. “Jesus sê vir Tomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy…” (Joh.20:24,25,27).


“Here, vandag verheug ek my in u kruisdood en u opstanding vir my.”