Geloofspad
Ek het gebid en Jesus in my hart geneem en my lewe aan
die Here gegee. Wat
nou?
As jy nou met geloof in volle oorgawe jou hart aan die Here gegee het, verwelkom die geloofsvriende jou nou in die Christelike familie.
Dalk het jy iets meer verwag van hierdie moment? Flitsende ligte, singende engele of dalk selfs 'n aardskudding. Liewe vriend, moenie bekommer en dink daar het niks gebeur nie. Die Bybel, wat die waaragtige Woord van God is, sê dat die hemelwesens juig as 'n sondaar hom/haar bekeer. Ons kan die belangrikheid daarvan volkome glo. Iets baie besonders en van ewigheidswaarde het beslis gebeur.
Tydens werklike berou oor sondes en bekering en oorgawe
aan God, word die sondaar gereinig van alle ongeregtighede en sondes.
Deur die geloof in Jesus Chistus as Redder, word ons 'n nuwe skepsel en
die Heilige Gees is in ons hart. Die ou gevolge mag
dalk nog daar wees. Geldelike probleme, hartseer, eensaamheid, siekte of
een van 'n tienduisendtal ander dinge, want ons lewe nog in 'n gebroke
wêreld, maar anders as voorheen, is God nou in beheer van jou
hart en lewe. Hy is Almagtig en sal bemoeienis maak met al die bekommernisse
en jou lei en help om rondom of deur die sake te kom. Sy wil sal Hy nou
tot volvoering bring in jou lewe. As gelowige kan ons ook peil trek op
die belofte in Romeine 8. nl. "En ons weet dat vir hulle wat God
liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep
is." (Romeine 8:28)
Die Bybel, Gods Woord, deur die werking van die Heilige
Gees, leer mens alles wat noodsaaklik
is om te leef en die geloofspad in oorgawe te loop.
Soos ons, God se kinders, daagliks na Hom toe gaan in
gebed en ook Sy Woord lees, sal Hy Homself al hoe meer aan ons openbaar.
Daar leer ons Sy liefde, blydskap, vrede en oorwinning oor sondes ken.
Die werking van Sy Heilige Gees in en deur ons lewens word al hoe meer
'n werklikheid. God is nie meer doer ver iewers, of die ou oupatjie wat
belaglik is en niks kan doen en sy skepping vergeet het nie. Sy
Almagtigheid word al hoe meer vergestalt. Hy word 'n vaste realiteit, wat
ons daaglikse bestaan skep en ons dade beïnvloed.
Enkele belangrike sake om op te volg na jou oorgawe aan die Here, is die volgende:
- Lees die Bybel en bid gereeld
- Vertel ander mense
- Word gedoop
- Sluit aan by 'n gemeente
- Soek ander Christelike geselskap
- Gesonde leesstof
Lees die Bybel en bid gereeld
Leer meer van die Here deur elke dag Sy Woord te lees.
Dit kan vir so kort as slegs 'n kwartier op 'n slag wees, maar getroue
Bybelstudie sal jou nie net in staat stel om andere te help nie, maar sal
jou help om met vaste tred en met oortuiging op die geloofspad van
Christenskap te bly. 'n Daaglikse getroue besoek aan die Here in jou
gebedskamer versterk jou persoonlike verhouding met die Here. Daar by Sy
voete leer mens wat Sy wil is, wat Hy vir ons voorberei en wat ons moet doen.
Vra God om jou geloof te versterk en jou insig te gee in Sy Woord. Die
Heilige Gees sal jou kom leer en vertroos en lei.
Talle geloofshelde soos Daniël en Job het getrou gebid en God het groot wonders in hul lewens gedoen. Die krag wat ontketen word as ons bid, moet nie onderskat word nie. Baie het al getuig van groot wonders wat plaasgevind het na innige en volgehoue gebed tot God.
Vertel ander mense
Vertel andere van jou bekering en nuwe geloofspad. Nie alleen vra God dit in Sy Woord dat ons moet uitgaan en praat oor Sy genade en geskenk nie, maar deur dissipelskap te beoefen groei die geloof, insig en dankbaarheid oor hierdie wonderlike gebeurtenis en geskenk wat ons ontvang het.Word gedoop
Die Bybel sê: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die
nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die
Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel
het." (Matthéüs 28:19)
Jesus het self ook gegaan om gedoop te word. Daardeur wou
Hy aandui dat Hy in volle gehoorsaamheid aan die Vader optree.
As jy nog nie gedoop is nie, gaan besoek 'n
Christen-leraar by jou plaaslike gemeente of Chisten-vriende en vra wat
jy moet doen om gedoop te word.
Sluit aan by 'n Christelike gemeente
Word deel van 'n Christen-kerkgemeente. 'n Ware Christelike kerkgemeente waar God en Sy gebod gedien word met eer, vorm deel van die uitdra van Gods Woord. Daar kan jy 'n belangrike bydrae maak en self ook nog baie leer, ondersteun word en die liefde van medegelowiges ervaar.Christelike geselskap
Die waarde van gelowige vriende wat al 'n lang ruk die
geloofspad loop, is van groot belang. Ander gelowiges kan 'n wonderlike
ondersteuning wees in tye van nood as gebedsgenote en kan mens help om
die Bybel beter te leer ken, omdat hulle Bybelstudie-ervaring al baie
onderwerpe beslaan het. 'n Persoon wat tot bekering gekom het voel nie
meer tuis in geselskap waar die Here se Naam ydelik gebruik word of waar
geskinder, vuiltaal en gevloek en geswets word nie.
2 Timótheüs 3 verse 1 tot 5 verduidelik dit soos volg:
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die
mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters,
trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar,
onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers,
bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos,
verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat
'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.
Keer jou ook van hierdie mense af."
Moet dus nie die Heilige Gees
bedroef deur deel te wees
van geselskapsgroepe waar die Here mishaag word nie. Dit eer Hom nie en
sal net tot jou nadeel strek.