Gebed 1:
Hemelse Vader, ek aanvaar en weet dat ek U wette oortree het en dat dit
skeiding tussen U en my gebring het. Ek verklaar vandag, nou op hierdie
moment, dat ek innig jammer is oor my oortredings, sondes en
afvallighede. Ek wil nou bitter graag wegdraai van al my sondes en U
aanvaar as die Koning van my hart, lewe en hele bestaan. Vergewe my
asseblief van al my vieslike sondes en help my om sondes van nou af te vermy
en met hand en tand te weerstaan deur die genadige werking van U Heilige
Gees.
Ek glo dat U Seun, Jesus Christus, vir al my sondes gesterf het aan die
kruis en dat ek deur hierdie gesprek met U skoon gewas word van my sondes.
Dankie dat Jesus opgewek is uit die dood, sit aan U regterhand en my
gebed hoor en by U voorspraak maak vir my.
Ek nooi Jesus om die Koning van my lewe en hart en siel en gees te word.
Om van nou af my lewe en hart te regeer volgens U wil. Voorsien
asseblief die werking van die Heilige Gees om my te help om naby U te
leef, U te gehoorsaam, om die res van my lewe U wil vir my lewe, uit
dankbaarheid, uit te leef. Ek vra dit met 'n nederige hart, in Jesus
Christus se
naam. Amen
Gebed 2:
Genadige Hemelse Vader, wat my na Uself getrek het in die naam van U Seun
Jesus Christus, ek besef nou dat ek 'n sondaar is en dat Jesus Christus
die enigste Weg, die Waarheid, die Lewe en die enigste Middelaar tussen
U en my is.
Ek bely al my talle sondes. Ek glo vas dat Jesus Christus met Sy kosbare
bloed en kruisdood vir my sondes gesterf het en so met U versoening kom
bewerkstellig het. Ek glo dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit
die dode en vir my intree by U. Ek is innig en diep uit my hart
bitterlik jammer vir al my sondes wat U so affronteer en ek wil graag
wegdraai van al die sondes. Wees my, 'n sondaar, asseblief genadig. Kom
was my en vergewe my van my skuld en sondes.
Here Jesus ek wil U graag dien en eer. Help my asseblief om u Woord
beter te leer ken, U te gehoorsaam en getrou te volg van vandag af. Laat
U Heilige Gees my kom vul en voed.
Goddelike Here, ek is opreg en innig dankbaar vir hierdie wonderlike
moment van oorgawe wat U deur tyd en ewigheid bestem het, dat U my kom
red het van my sondes wat my so vieslik verstrik het. Bewerkstellig
asseblief nou deur die werking van U Heilige Gees 'n totale en groot
en besliste verandering in my lewe, sodat my handel en wandel eer sal bring vir U
Heilige naam.
Ek bely Jesus as Koning van my lewe en met my volle hart glo ek dat ek
gered is. Ek erken Jesus as my persoonlike Saligmaker en glo dat ek nou
'n wedergebore Christen is.
Dankie Jesus, dat U in my lewe gekom het en my hart en lewe kom genees
het en my gebed verhoor. Ek vra dit in die naam van my Here en Redder,
Jesus Christus. Amen
Gebed3:
Hemelse Vader, ek kom pleit by U vir genade en vergifnis van my sondes.
Ek bely met my mond en glo in my hart dat Jesus Christus U Seun is, wat
aan die kruis op Golgota gesterf het vir al my sondes, sodat ek ewige
lewe in U hemelse koninkryk mag hê. Vergewe my al my sondes.
Vader, ek glo dat Jesus opgestaan het uit die dode en ek pleit nou by U
om in my lewe te kom en die Koning van my lewe te wees. Ek gryp U aan as
my persoonlike Saligmaker. Kom asseblief in my lewe en help my om U in
erns, voluit te dien, die res van my lewe.
U Woord is waar en waaragtig en ek glo nou vas dat U my sondes vergewe
het deur Jesus se bloed en dat ek nou as vrygemaakte, skoongewaste kind
van U, wedergebore is deur die inwerking van U Heilige Gees, wat my
voortaan gaan leer, lei en bewaar.
In die wonderlike naam van ons Redder, Jesus Christus, DANKIE wonderlike,
genadige, almagtige Vader. Amen
Gebed 4:
Almagtige Hemelse Vader, wees my, 'n sondaar, asseblief
genadig. Ek glo in U en dat U Woord, die Bybel, waar is. Ek glo dat Jesus
Christus die Seun van die lewende God is. Ek glo dat Hy aan die kruis
gesterf het vir al my sondes, sodat ek volle vergifnis van al my sondes
ontvang en die ewige lewe kan verkry. Vader, ek glo U het Jesus uit die
dood opgewek. Ek weet sonder U in my hart, siel en gees, is alles, wat ek
uit eie krag probeer, sonder ware betekenis.
Here Jesus, U alleen is my Middelaar. Vergewe my asseblief
vir al my sondes. Hulle is menigvuldig en sonder die afwassing van U
bloed, verdien ek die dood. Jesus Christus, vergewe my asseblief en kom
woon in my hart. Word asseblief my persoonlike Saligmaker, my God en my
Redder.
Ek buig nou in aanbidding neer en gee my lewe
totaal oor aan U. Neem asseblief volle beheer oor vanaf hierdie moment.
Ek bid dit in Jesus Christus se Heilige naam. Amen
Gebed 5:
Here Jesus, ek het U nodig. Dankie dat U aan die kruis vir
my sondes gesterf het. Ek maak nou die deur van my hart en lewe oop en
nooi U in as my Redder en Here. Dankie dat U al my menige sondes vergewe
en dat U die ewige lewe aan my skenk. Kom maak my die persoon wat U wil
hê ek moet wees. Amen
Jesus is ons Redder en Saligmaker
Gebede of woorde kan nie red nie. Net Jesus en u volle en ernstige
oorgawe aan Hom as u Redder en Saligmaker kan dit doen. As u in
opregtheid berou het, gebid het en na die Hemelse Vader gegaan het in die naam van
Jesus Christus, lees gerus
wat die Bybelboek van Romeine sê. Daar staan:
As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom
uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons
tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif
sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. (Romeine 10:9 tot
11)
Ek het gebid en Jesus in my hart geneem en my lewe aan Hom gegee. Wat
nou?
- Voorstelle hoe om die geloofspad nou verder te loop
- Lees ook gerus by Geestelike beginsels