Lees 1 Johannes 2:12-17
“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie” (15).
William Feather, die skrywer, vertel in Florida Baptist Witness, ’n jongman tel op ’n dag sommer ’n groot dolargeldnoot in die straat op. Daarna loop hy altyd op die grond en kyk as hy rondbeweeg. Na verloop van jare het hy 29,516 knope, 54,172 spelde en 12 muntstukke opgetel, ’n krom rug gekry en ’n gierige geaardheid ontwikkel. William Feather skryf: “He lost the glory of the sunlight, the sheen of the stars, the smiles of his friends, tree blossoms in the spring, the blue skies, and the entire joy of living.”
In ons geestelike geloofslewe, waar die waardes van die aardse lewe, gedurig in konflik is met die waardes van God se hemelse koninkryk, gebeur dit, soos meeste van ons dit al ervaar het, maklik en ongemerk met ’n mens. ’n Wêreldse element skuif die Here Jesus Christus en sy belange, op die agtergrond. Nie net in ons hedendaagse omgewing nie, maar ook in die Bybel het ons waarskuwende voorbeelde. In sy tog saam met Abraham na die beloofde Kanaän toe, lees ons van Lot: “Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos ‘n tuin van die Here, soos Egipte…en Lot het in die stede van die Jordaanstreek gewoon; tot by Sodom het hy gaan tent opslaan’ (Gen.13:10-12). Aan die jong evangeliedienaar, Timoteus, skryf Paulus ’n hartseer en waarskuwende sinnetjie: “…want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek.”(2 Tim.4:10). Die Satan het selfs Jesus se oë aardswaarts probeer trek. Hy het Hom al die koninkryke van die wêreld gewys en Hom dit aangebied as Hy sou neerkniel en Satan aanbid. Die Here Jesus is ons metgesel en helper in tye van versoeking en ons kry van Hom aanmoediging: “… laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Heb.12:1,2).
“Here, vandag hou ek my oë stip op U.”