Lees Psalm 121
“Die Here sal jou bewaar vir elke onheil.” (7).
‘n Inwoner van die stad Mizuho, Japan, bel die polisie en vertel opgewonde van ‘n krokodil wat straataf loop, berig die Yomiuri-nuus. Baie vinnig arriveer ‘n polisiemotor op die toneel en die polisiemanne is verstom oor wat hulle sien. ‘n Krokodil loop werklik met sy eienaardige lyfswaai bewegings in die straat af. Met al die aandag om hom, maak die krokodil hom blitsig uit die voete. Hy storm ‘n rysland langs die straat binne. Dit neem die polisie darem net 10 minute om die ongedierte in die hande te kry. Die polisie stel vas die vyf kilogram, een meter lange krokodil, is ‘n troeteldier, wat vroeër die dag van sy eienaar ontsnap het en pad gevat het.
Hieroor maak Neil Verwey, sendeling in Japan, wat vir ons die storie gestuur het, die opmerking: “Soos ons deur die strate van die lewe wandel, weet ons nooit watter verrassings daar op ons mag wag nie. Daarom behoort ons elke dag, die dag saam met God in te gaan. ‘Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie’” (Spreuke 27:1).
Dit is ‘n vertroostende verwagting, die almagtige God, aan wie ons deur die Here Jesus Christus behoort, beskerm ons voetstap vir voetstap: “Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie…die Here is jou Bewaarder, die Here is jou skaduwee aan jou regterhand” (Ps.121:3,5). Soms word ons geloof op die proef gestel, maar ons vertroue in God se onfeilbaarheid gee ons weer oorwinning. Dit is tot God se eer as ons bly vertrou, al lyk dit of sake nie wil regkom nie. Daniël is gedreig, lees ons in Daniël 6, en is werklik in die leeukuil gegooi, maar hy getuig na sy redding: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie… (Dan.6:23). Deur ons te beproef, maak Hy ons geloof sterker en beter.
Here, vandag vertrou ek in U verskerming.”