Skrifdeel: 1 Johannes 3:11-17
“Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê” (16)
Die Preachers’ Promptuary of Anecdotes vertel, hoe die dak van die Bridgenorth Church herstel is. Met etenstyd het die werkers hulle werk verlaat. Twee seuns van ’n naburige skool, klouter in die afwesigheid van die werkers, op die dak en speel heerlik tussen die balke. Toe dit amper tyd is vir die werkers om terug te keer, gee die twee pad, maar hulle hardloop oor ’n swak stuk plafon wat onder hulle padgee. Die jongste van die twee was voor. In sy val gryp hy ’n balk stewig vas. Die ouer seun val agter die jonger een aan en gryp dié se voete vas. Daar hang die twee en wens die werkers wil terug kom. Na ’n ruk voel dit vir die ouer seun, wat sy maat se voete vasgegryp het, sy maat se greep wil gly. “Kan jy nog ’n rukkie hou…as ek jou voete los.” “Ja,” fluister die ander een van bo af. “Sê vir my ma ek was nie stout nie. Ek is lief vir haar. Totsiens!” en daarmee los hy sy maat se voete en val met ’n dowwe plof op die vloer, ver daar onder. Die werkers keer terug. Hulle kry die seun wat aan die balk hang en die een wat dood op die vloer lê.
Die ouer seun het geweet hy gaan hom dood val, maar hy wou sy maat se lewe red. Dit ontroer ons en dwing ons bewondering af, wanneer ‘n persoon sy kosbare lewe prysgee ter wille van iemand anders. Dit is die wonderlike fondament waarop Christus se verlossing staan. Hy het sy lewe prysgegee, sodat ons kan lewe. Dit is die evangelie. Jesus het self verklaar: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh.13:15). Dit is ’n waarheid wat Paulus verstom het: “’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie…ja, tog vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin, dat Christus vir ons gesterf het, toe ons nog sondaars was” (Rom.5:7,8). Het u Jesus se kruisdood al in hierdie lig gesien? En ú hart het oopgegaan vir hierdie groot wonder en u het met oorgawe Christus se liefde vir u erken en dit aangeneem met geloof in Hom as u Verlosser? “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring…” (1 Petrus 3:18).
Here, vandag sê ek dankie: U het u lewe vir my gegee om my te red.”