Lees 1 Korintiërs 3:1-18
“Ons word al meer verander om aan …Christus gelyk te word,(deur) die Here wat die Gees is” (18)
Dannaker, die Duitse beeldhouer, werk vir twee jaar aan ’n beeld van Christus. Uiteindelik is hy tevrede. Hy besluit om die voorkoms van die beeld op die proef te stel. Hy roep ’n dogtertjie na sy ateljee toe. Hy wys na die beeld: “Wie is dit?” Na een kyk, antwoord sy: “”n Groot man.” Dannaker weet hy het gefaal. Hy neem egter weer sy beitel en hamer, vertel The Presbyterian. Vir ses lange jare werk hy weer aan die beeld. Toe hy tevrede is met sy werk, roep hy weer ’n dogtertjie, laat haar voor die beeld staan en vra: “Wie is dit?” Vir ’n lang oomblik kyk sy na die beeld en toe kom trane in haar ogies en sy vou haar handjies oor haar bors en fluister: “Laat die kindertjies na My toe kom.” Vir Dannaker is dit genoeg. Hy weet hy het geslaag. Daarna vertel hy wat in die ses jaar met hom gebeur het. Gedurende die vermoeiende dae van daardie ses jaar, het hy met sy Bybel in sy binnekamer, ’n openbaring gekry van wie die Here Jesus Christus regtig is. Die beeld van Christus in sy hart het hy oorgedra op die marmer in sy ateljee. “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie my liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar” (Joh.14:21). ’n Tyd later gee Napoleon Bonaparte hom die opdrag, om van die godin Venus ’n beeld vir die Louvré te maak. Dannaker weier. “’n Man wat Christus gesien het, kan sy gawes nie gebruik, om van ’n heidense godin ’n beeld te maak nie. Van nou af is my kuns ’n gewyde saak.”
Dit is die geheim van ’n oorwinnende lewe van toewyding aan Christus. Solank Hy groot en heerlik in die hart is, het die wêreld se verleidings nie ’n vat op die hart nie. Dit was die geheim van Paulus se gedurige hartlike toewyding aan Christus: “…om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde…Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding, deur aan Hom gelyk te word in sy dood…” (Fil.3:8,10).
“Here, vandag wil ek my oë stip op U gevestig hou.”