Lees Deuteronomium 33: 26 – 29
“Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou” (27).
In die Bible Expositor and Illuminator vertel die skrywer van sy vriend, wat ‘n pragtige vrou en lieflike 3-jarige dogtertjie gehad het. Donker hartseer het skielik oor die huisgesin gekom, toe die vrou een middag in ‘n motorongeluk dood is. Die aand na die begrafnis, sit die jong pa sy dogtertjie in die bed en terwyl hy met onhandige vingers sukkel om die nagklere se knope vas te maak, gaan die hele huis se ligte dood. Dadelik vermoed hy ‘n sekering het uitgebrand. Die skakelbord is in die kelder, en hy wil gaan kyk wat verkeerd is. Hy sê vir sy dogtertjie: “Lê net so stil in jou bedjie. Pappa gaan net gou die lig regmaak. Ek is nou weer terug by jou.” Verskrik wil sy begin huil, oor die gedagte om so alleen, in die donker agtergelaat te word. “Saamgaan, Pappa! Saamgaan!” begin sy kerm. Hy tel haar op in sy arms en so in die donker, begin hy deur die huis loop, versigtig af met die trappe. Sy dogtertjie wikkel haar dieper in sy arms in en druk haar gesiggie in sy nek. “Donker, Pappa,” sug sy. “Ek nie bang nie. Pappa by my.” ‘n Snik skeur uit sy hart uit en hy druk sy gesig in haar hare. “Ja, liefstetjie,” snik hy sag, “dit is baie donker, maar ek is ook nie meer bang nie. My Vader is by my en Hy hou my ook vas in sy arms, ek weet!”
Het ons ook al so ‘n pikdonker in ons lewe ervaar? Is dit nou dalk so donker? Daar is net een seker, veilige, troostende toevlug en dit is ‘n bewussyn van God en sy liefde. “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here God gekies as my toevlug” (Ps.73:28). “…my God gee lig as dit donker is om my”(Ps.18:29). Die Here Jesus Christus, as ons Hoëpriester, het vir ons die weg groot oopgemaak na God se genadetroon toe, waar ons troos en krag en vrede kan vind. “Terwyl ons dan nou `n groot Hoëpriester het…Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp…Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb.4:15,16).
“Here, vandag is dit om my donker en ek soek U lig en nabyheid.”