Lees Jesaja 57: 14 – 21 – Ou Vertaling
“Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes (15).
Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, vertel die storie van die groot en geliefde vors, wat by sekere geleenthede, die bedelaars en armes van die stad in sy paleis onthaal het. Rondom hom by die feestafel het sy howelinge gesit, geklee in fyn, spierwit hofklere. Aan dieselfde tafel het die bedelaars gesit, geklee in verflenterde, vuil klere. Dit was altyd ’n feestelike geleentheid en almal was bly, want hulle was lief vir hulle goeie koning. Hy het geen onderskeid gemaak tussen die ryk howelinge en die verarmde bedelaars nie.
Eendag op pad na so ’n maaltyd toe, kom een van die koning se howelinge ’n ongeluk oor en smeer sy wit kleed vuil. Met skok bekyk hy homself Hy kon onmoontlik só sy plek tussen al die wit en ryk geklede howelinge gaan inneem. Maar hy kon die gedagte nie verdra om van die maaltyd uitgesluit te wees en vir ’n volgende keer te wag nie. Toe kom die gedagte by hom op: As die koning sy feesmaal hou, sal sommige as wit geklede howelinge kom en met hulle pragtige klere, hul geëerde plekke inneem. Ander gaan met vuil klere en vodde opdaag, maar hulle gaan by die koning net so welkom wees. Hy besluit: “Solank ek net my koning kan sien, gaan ek vandag my plek tussen die bedelaars en armes inneem, en net só met vuil klere en al aansit, en ek weet ek sal net so welkom wees, asof ek die witste klere aan het.”
Nou skryf Spurgeon: “Wanneer my vrymoedigheid en die kentekens van my verlossing dof was, het ek dit ook al dikwels gedoen,. Ek raai u aan: Doen dit ook. As u nie as heilige na Jesus toe kan kom nie, kom dan net só, met vuil klere as sondaar. Kom vrymoedig, met verootmoediging en geloof. Baie gou sal u weer sy vrede en vreugde, sy vergifnis en reiniging, in u hart ervaar.”
Johannes moedig ons ook aan: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh.1:7-9). Jesaja moedig ons nog verder aan: “So sê die Here: ‘Ek slaan ag op die mens in nood, op die een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord’” (Jes.66:2).
“Here, vandag kom ek na U toe net soos ek is.”