Lees Matteus 14: 22 – 32
“Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy geroep: ‘Here, red my!’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?’” (Mat.14:30,31).
‘n Gids het ’n groepie toeriste langs ‘n steil pad na ’n waterval toe gelei. Die laaste endjie moes hulle oor ’n nou, wankelrige hangbrug oor ‘n diep afgrond loop. Een vrou het net halfpad gekom. Toe sy afkyk en die diep afgrond sien en die beweging van die brug onder haar voete voel, kon sy nie ‘n tree verder gaan nie. Die gids het gesien sy word paniekerig. Sy het met albei hande die bruggie se reling vasgegryp en vir lewe en dood daaraan geklou. Met ’n rustige glimlag steek hy sy hand na haar toe uit. “Jou hand in die gids se hand,” sê hy vriendelik. Met een hand los sy die reling en sit dit bewerig in die gids se hand. Met die ander hand bly sy steeds styf aan die reling vasklou. Sy wil nie ‘n voet versit nie. Die gids sien hulle sal nie vorder nie. Steeds glimlaggend, rustig, maar ferm sê hy vir haar: “Albei jou hande in die gids se hand.” Stadig laat sy met die ander hand die reling los en sit dit ook in die gids se sterk hand. Tree vir tree lei hy haar oor die wiegende bruggie na die anderkant toe.
Dikwels vorder ons nie in ons geestelike lewe nie. Soveel vrese in ons hart, die afgrond van ons sondigheid ontmoedig ons, soveel onsekere beweging onder ons geloofsvoete. Ons sit ons een hand in Jesus se hand, maar ons klou nog aan die reling van ons gevoelens en struikelinge en omgewingsbedreiginge vas. Albei ons hande moet in sy hand geplaas word. Volle oorgawe, volle vertroue. Die Heilige Gees help ons om met volle vertroue albei ons hande in Jesus se hand te plaas. Stadig word ons bewus van sy krag. Stappie vir stappie vorder ons op die weg van geestelike groei, geestelike krag, geestelike sekerheid. Ons bemoediging is die Here Jesus se groot liefde vir ons: ”…Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar…As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê. En Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”
Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, skryf: “No one knows the love of Christ at all if he does not know it to be real, and no one has felt it in his soul at all, unless it becomes so real as to constrain him and move him into actual activity. The word ‘realise’ has been forced into the language of Christian experience, and can never be forced out again; we must realise, or make real to our hearts the love of Christ. We should know the inmost secrets of the Redeemers’s love; its doings and sacrifices which are the apparent part of it…” As ons in die Skrif Hom van naby aanskou, maak die Heilige Gees sy liefde vir ons ‘n werklikheid, en dan het ons ons hande in sy hand geplaas en vrede en gerustheid neem van ons hart besit.
“Here vandag plaas ek albei my hande in u hande.”