Lees Filippense 2:1-4
…moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (3,4)
In Parys staan twee standbeelde, skryf die Berean Senior Quarterly. Die twee manne het dieselfde naam gehad: Louis. Die een was die vors van Frankryk, Louis XIV, die absolute monarg. Die ander een was die weldoener aan die mensdom, Louis Pasteur, ontdekker van die werking van kieme in die menslike liggaam en teenmiddels teen kieme. Hy het ook ander wetenskaplikes geïnspireer om teenmiddels teen kieme te ontwikkel. Louis XIV word vandag onthou vir sy selfverheffende uitroep: “Ek is die staat.” Oor hom skryf die Berean Senior Quarterly “His philosophy of life was that the whole nation and the world, in so far as he could compel it, should serve him.” Oor Louis Pasteur skryf die Berean Senior Quarterly “…the servant of humanity and servant of God…his life of unselfish, devoted research conferred immeasurable benefits upon all humanity in all the years to come through overcoming disease and suffering.” Die twee standbeelde weerspieël die twee manne se lewensbeleggingsterreine: Louis XIV – homself; Louis Pasteur – sy medemens. Louis XIV se standbeeld, met indrukwekkende uniform, swaard en kroon, is volgens die tydskrif “…nothing more than a piece of sculpture”, Pasteur se baie eenvoudiger standbeeld, ’n paar blokke weg van Louis XIV s’n af, is volgens die tydskrif “…a shrine, where pilgrims from all over the world bow in grateful homage”. Dan maak die Berean Senior Quarterly die slotopmerking: “It is the uncrowned servant of mankind who wears the real crown of men’s love and honor.”
Van die begin van die skepping af is dit vir die mens die groot versoeking: om sy eie grootsheid na te streef. Selfs onder Jesus se dissipels was dit elkeen se strewe om die belangrikste te wees. Met die laaste avondmaal, lees ons in Lukas 22:24 “…het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie as die belangrikste beskou moet word.” Uit Johannes 13 weet ons dit het eintlik gegaan oor wie die voetewaswerk moet doen. Jesus het hierdie gesindheid beantwoord deur te sê: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas… maar by julle moet dit nie so wees nie…die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien…Ek is in julle kring soos die een wat dien.” Daarna het Jesus, volgens Johannes 13, omdat Hy geweet het “…dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan…van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak…en begin om sy dissipels se voete te was…”
“Here, vandag wil ek ander se belange my doelwit maak.”