Lees Markus 10: 13 – 16.
“Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (14).
’n Jong koerantuitgewer, Robert Raikes, stap op ’n dag deur een van Gloucester, Engeland, se agterbuurtes, om ’n nuwe tuinier te soek, vertel Robert J. Morgan. Baie kinders woel om hom rond. Hy is geskok om te hoor hoe hulle op mekaar skreeu en vloek. Selfs as hulle speel vloek hulle en gebruik die Here se Naam as vloekwoor. Robert Raikes is diep ontroer in sy binneste toe hy dié dag teruggaan na sy mooi en rustige tuiste. Hy neem hom voor om iets aan die saak te doen. En hy hét iets gedoen. Hy het ’n nuwe soort skool begin, ’n nuwe bediening. Hy het skool in die kerk op ’n Sondag begin. Op Sondae lok hy die kinders op allerlei maniere na sy nuwe skool. Daar het hy hulle van die Here geleer en hoe om vir die Here te lewe. Dit was die begin van die geseënde instelling wat ons tot vandag toe Sondagskool noem. In ons kerke het die naam Sondagskool plek gemaak vir die kerk se kategese, en ons praat van kategeseskool. Die kinders word van die Here, sy Woord en die geloofsleer van die kerk geleer.
Die vrug en seën wat gevolg het op Robert Raikes se besorgdheid oor die geestelike welvaart van die kinders sal nooit bepaal kan word nie. Sommige kinders groei op in ‘n huis soos dié van Timoteus oor wie Paulus skryf: “Ek dink aan jou opregte geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is” (2 Tim.1:5). Ander kinders het nie so ’n voorreg nie en hierin vervul die Sondagskool ’n geseënde bediening. Die opdrag van die Here Jesus: “Laat die kindertjies na My toe kom,” word hierin nagekom. Laat ons bid vir ons kinders en vir ons kerke se werk onder die kinders.
“Here, vandag bid ek vir my eie kinders en kleinkinders en ook vir die baie kinders om ons en in die wêreld.”