Lees 2 Korintiërs 4: 1 – 6
“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom” (9,10)
In die dae voor elektriese straatligte, moes die gas- of parafienlampe, met sononder een vir een, deur ‘n lampaansteker aangesteek word, en die volgende oggend, weer gedoof word.
Die Sunday School Times vertel van so ‘n lampaansteker, ‘n onverskillige jongman, wat een aand, op sy rondte om die lampe aan te steek, by die heilsleër (salvation army) se opelugdiens verbyloop, die evangelie hoor en tot bekering kom. Sy geestelike lig is dié aand deur God aangesteek. Een van sy vriende, ‘n drinking pal, het hy hom genoem, spot later met hom, omdat hy nou so godsdienstig geword het, dat hy nie meer met die gang wil uitgaan en jolyt hou nie.
“Jy weet wat my werk is,” sê Jesus se nuwe volgeling vir sy vorige maat. “Soggens voor sonop, begin ek straatop gaan om lampe dood te maak. Dan lê die straat, soos ek vorder, donker agter my. Dit is hoe my lewe eers was, ‘n donker verlede. Kyk ek vorentoe, sien ek ‘n lang ry skynende ligte voor my. Dit is hoe my toekoms nou lyk, na ek Jesus in my lewe laat inkom het.” “Dis goed en wel,” antwoord die vorige maat, “maar dis nie lank nie of jy maak die laaste lamp ook dood en dan is dit ook maar weer donker. Waar is jy dan met jou danige Jesus?” “Dis waar,” antwoord die lampwerker, “maar dan kom die son op en ek het nie meer lampe nodig om vir my lig te maak nie. Jesus is nou die lig in my lewe en na my laaste dag, op aarde, gaan ek na Hom toe in sy ewige hemel.”
Die Nuwe Testament beklemtoon hierdie bemoedigende waarheid. “Die volk wat in duisternis woon, het ‘n groot lig gesien…vir hulle het die lig opgegaan” (Mat.4:13-16). “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is” (Ef.5:8). Dit is elke geredde mens se verwagting van die ewige hemel: “Die stad het nie die son en maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig en die Lam is sy lamp” (Op.21:23). Op `n dag, doof elkeen van ons, se lewenslig. Vir elkeen in wie se lewe die Here Jesus as Verlosser ingekom het, kom die son van ewige lig dan op.
“Here, vandag kyk ek weg van die aardse donker en ek verlang na Jesus se lig in my lewe en my toekoms.”