Ma 30 Nov: Kyk Reg

Lees Lukas 11: 33 – 36

“Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.”

By die Narita lughawe in Japan, is ’n elektro­niese pas­poortstelsel in werking gestel, wat immigrasieprosedures vereenvoudig, deur biometriese identifikasie, wat die iris van die paspoorthouer se oë toets, skryf Neil Verwey, sendeling in Japan, na aanleiding van ’n berig in die Yomiuri-dag­blad van 7 Februarie 2005. Passa­siers maak gebruik van ’n vereenvoudigde reiskaart, wat die inligting bevat, waarmee die persoon se ken­mer­ke van die gesig en irisse van die oë, vergelyk kan word. Pas­sasiers plaas die kaart in ‘n masjien en kyk na ’n kamera. Die masjien vergelyk die inligting op die kaart, met die besonderhede wat weerkaats word deur die iris van die persoon se oog.

Die absolute individualiteit van elke mens op aarde word opnuut deur hierdie ontdekking be­klemtoon. Elkeen van ons se oë lyk anders as ’n an­der s’n en kyk ook anders as ’n ander s’n. Die grootheid van ons God se Almag word daardeur opnuut aan ons openbaar! Die He­re Jesus het ’n groot waarde toegeken aan, ’n mens se manier, van kyk, na die dinge. ’n Mens kan stiksienig wees – net raaksien wat dadelik voor oë is, of versiende wees, ander horisonne en geestelike waardes raaksien. Paulus skryf aan die Efesiërs: “ …ek bid…dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (Ef.1:17-19). Moses het sulke oë gehad: “Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van Christus het hy groter rykdom geag as die skatte van Egip­te, omdat hy na die beloning uitgesien het” (Heb.11:25,26).

“Here, vandag vra ek verligte oë van my verstand.”