Di 24 Nov: Die Bekende Raaisel

Lees Jesaja 46: 3 – 5

“…julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook in die ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra.

’n Ou Griekse legende vertel van die Sfinks by The­bes, wat die lyf van ’n leeu, maar die bolyf en kop van ’n vrou gehad het. Hierdie Sfinks het buite die stad langs die hoofweg op ’n rots gelê, gereed om enigeen wat verbykom te bespring. Voor die Sfinks gespring en ’n reisiger opgevreet het, het die Sfinks die reisiger ’n kans gegee om sy reis lewend voort te sit. Die verbyganger moes ’n raai­sel be­antwoord. Niemand het reggekry om die raai­sel reg te beantwoord nie, totdat Oedipus ver­by­­ge­kom het en die Sfinks se raaisel reg kon antwoord nie. Die Sfinks het vir Oedipus ge­vra: “Wat loop in die oggend op vier bene, in die middag op twee en in die aand op drie?” Oedipus het geantwoord: ”Die mens. As kind kruip hy op  han­de en knieë; as volwassene loop hy met sy twee bene; as ou mens loop hy met ’n kierie.” Verpletter oor hierdie regte antwoord op die raai­sel spring die Sfinks van die rots af en sterf.

Vir eeue lank lê die Sfinks van die dood langs die mensdom se hoofweg van die lewe vir sy prooi en wag en verteer almal wat verbykom met sy raai­sel van die onoplosbaarheid van die proses van veroudering en sterwe. Niemand kon dit nog beantwoord nie, en almal het deur die mag van die dood vergaan. Maar Christus het die raai­sel van die dood beantwoord en die mag van die dood deur sy opstanding uit die dood gebreek. Op aarde het Jesus mense uit die dood lewendig ge­maak en met sy wederkoms sal die dood heel­te­maal vernietig word. “God…wou baie mense in die hemel inbring…daarom het Jesus ook mens ge­word sodat Hy kon sterwe…So kon Hy die mens vrymaak…op die ma­nier kon ons sondes vergewe word”

“Here, vandag skuil ek by U teen die mag van die dood.”