Lees Lukas 19: 1 – 10
“Daarop sê Jesus: ‘Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (10).
Die beroemde prediker, George Whitefield, het ’n broer gehad wat in sy geestelike lewe afvallig geraak het. Onder een van George Whitefield se preke is die broer se hart aangegryp en het hy tot besef van sy afvallige toetand gekom. Hy het egter in ’n toestand van diepe bedruktheid verval. Een van sy kennisse, die gravin van Huntington wat self ’n blymoedige Christin was, het probeer om hom tot gelowige vertroue in Christus aan te spoor. Maar alles tevergeefs;. “Ek weet wat u sê is waar, die genade van God is ewig,” het hy bedruk geantwoord. “Ek sien dit duidelik. Maar, ag! Daar is geen genade vir my nie. Ek is ’n ellendeling, vir ewig verlore.” “Ek is bly om dit te hoor”, het Lady Huntington geantwoord. “Ek is bly jy is ’n verlore man.” “Bly?” vra hy verbaas. “U is bly ek is verlore?” “Ja, mnr. Whitefield,” het sy bevestig, “regtig bly, want Jesus Christus het in die wêreld gekom om te red wat verlore is. Dit gee my hoop.” “Dank God!” roep hy met verhelderende gesig uit. “Dankie vir daardie woorde. Ek voel daar is krag in daardie woorde! Jesus Christus het in die wêreld gekom om te red wat verlore is. Dit gee my hoop. Baie hoop. Ek glo dit!” Skielik voel hy benoud. Hy gaan uit om lug te skep. Na ’n rukkie kom hy in die vertrek teruggestrompel. “Ek voel skielik baie siek,” kreun hy. Hy sak inmekaar en sterf daar voor Lady Huntington se oë. God se genade het hom gespaar totdat hy sy geloof in Christus gevestig het. Die Here wil nie hê ons moet verlore gaan nie, maar gee vir ons geleentheid op geleentheid om vir ons redding in Hom te vetrou.
“Here, vandag glo ek U vir my redding.”