Do 10 Des: Verdiende Reaksie

Lees 1 Petrus 3: 8 – 12

“Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, daartoe is julle geroep…” (9).

In die Benoni gemeente se maandblad van Fe­bruarie 1973, het ek destyds ‘n kinderlike storietjie geskryf, wat ek nou die dag weer gelees het en wat my besonder getref het. In Spreuke skryf Sa­lo­mo presies wat in die storietjie gebeur.

Martie se ouers het op ‘n plaas, wat met berge om­ring is, gaan woon, begin die storie met `n goeie bood­skap. Sy het die werf en verder gaan ver­ken en in ‘n kloof afgekyk. Bruisend van le­wens­lus, gooi sy haar arms in die lug en roep: “Haai!” Tot haar groot ver­ras­sing hoor sy ‘n dogter­tjie roep te­rug: “Haai!” “Wat is jou naam?” skreeu Martie. “Wat is jou naam,” kom die stem terug. “Ek het eeeerste gevra,” skreeu Martie weer. “Ek het eeeer­ste gevra,” antwoord die stem. “Jy’s ‘n nare kind!” roep Martie boos. “Jy’s ‘n nare kind,” kom die stem boos terug. Martie huil van woede. Sy hard­loop huis toe om by haar ma te gaan kla. Haar ma besef da­delik dit is die ego (weerklank) in die kloof. Martie hoor haar eie stem. “Gaan nou weer,” sê haar ma. “Praat vriendelik en jy sal hoor hoe vriendelik antwoord sy jou terug.”

Salomo skryf in Spreuke: “Haat verwek twis; lief­de kan enige aanstoot oorsien” (10:12). “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam” (15:1). “Kalmerende woorde bring lewe, skyn­heilige woorde breek mense” (15:4). “’n Humeurige mens soek skoor; ‘n ver­draag­­same mens maak rusies uit die wêreld” (15:18). Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens” (16:24).

“Here, vandag wil ek aangenaam met ander praat.”