Lees Romeine 8: 31 – 39
”Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging,
honger of naaktheid, gevaar of swaard?…in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat vir ons lief het” (35,37)
George Matheson was ’n blinde Skotse predikant. Die Vrydagnag van 6 Junie 1882 was
hy, op 40-jarige ouderdom, alleen in sy pastorie by Innelan. Die volgende dag
sou dit sy suster se troudag wees. Die hele familie was weg Glasgow toe waar die
huwelik sou plaasvind en waar hulle sou oornag. Weens sy blindheid kon hy nie
saamgaan nie. Hy was nog ’n jong teologiese student toe hy deur sy geneesheer ge
waarsku is, dat hy besig is om blind te word en dat dit nie verhoed of genees
kan word nie. Hy was verloof aan ’n ander kollegestudent. Hy het gevoel dit is sy
plig om haar van sy naderende blindheid te vertel. Na sy oor die skok van sy
bekentenis aan haar gekom het, het sy vir hom gesê: “Ek wil nie die vrou van ’n
blinde prediker wees nie.” Die nag so alleen in sy woning, terwyl die opwinding
van sy suster se troue oor hom en by hom verby gegaan het, het ’n diep
neerslagtigheid Matheson oorval. Dit kon die herinnering van sy eie liefdes
teleurstelling gewees het wat met geweld na hom toe teruggekom het. Oor sy
belewenis die nag skryf hy: “Something happened to me, which was known only to
myself, and which caused me the most severe mental suffering. The hymn was the
fruit of that suffering. It was the quickest bit of work I ever did in my life. I
had the impression of having it dictated to me by some inward voice rather than of
working it out myself. I am quite sure that the whole work was completed in five
minutes.” Hy het geskryf:
“O Love that wilt not let me go, I rest my weary soul in
Thee; I give Thee back the life I owe, that in Thine ocean depths its flow may
richer, fuller be. Die lied wat ons ken en sing en wat getoonset is deur Albert L.
Peace klink so:
O Liefde, diep oor my begaan, neem my met al wat my vermoei!
Sien my tog in genade aan – en laat, o Bron van my bestaan,
U krag in my ook vloei.
O Vreugde, selfs in leed en pyn, vir U ontsluit ek nou my hart;
Die reën laat die boog verskyn, gewis daag, na die nag verdwyn.
Die môre sonder smart!
“Here, vandag leun ek met my hartseer teen u bors.”