Do 3 Des: Die Versoeking

Lees Jakobus 1:12-18

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly…” (12,14)

In Sunday School Times vertel dr. Francis E. Clark van ’n vriend wat as seun graag sirkus toe wou gaan. Die toegang was 50c. Hy het 35c ge­had. Elke dag het sy ouers vir hom 15c vir sy bus­geld skool toe gegee. Die dag voor die sirkus het die buskondukteur nagelaat om sy kaartjie te vra. Nou was dit die versoeking om dieselfde kaartjie die volgende dag te gebruik en die 15c wat hy dáár­­die oggend vir ’n buskaartjie sou kry, by sy 35c te voeg en dan sirkus toe te gaan. Heeldag het hy teen die versoeking gestry. Dr. Clark be­skryf sy versoeking so: “All day the elephant sta­red at him out of the pages of his Latin grammar, and the giraffes craned their long necks over the tough problems in algebra. All day and all night he fought his battle.” Die volgende dag skeur hy egter sy buskaartjie op, en koop met sy pa se 15c ’n an­der kaartjie en verbeur sy geleentheid om sir­kus toe te gaan. Dr. Clark eindig die storie met die op­merking. “Now as he looks back over a long and honoured life, he tells his friends, that that was the day of his greatest battle and his greatest victory”,.

Ons ken ook ons plekke en momente van ver-soeking. Dit was vir ons ’n moment van neerlaag wat ons geestelike lewe skade berokken het en waar­aan ons met skaamte terugdink, of dit was vir ons ’n moment van oorwinning wat ons geestelike le­we sterker gemaak het en wat ons vrymoe­digheid gee in ons omgang met die Here. ’n Neerlaag in versoeking kan egter in oorwinning omskep word, as dit openhartig aan die Here bely word, soos met Dawid gebeur het toe hy met Batseba owerspel gepleeg het. Psalm 51 is Dawid se belydenis van vernedering en neerlaag en sonde. In die moment van versoeking het ons met Satan te doen wat ons wil vernietig, maar ons het die Here ook naby wat ons help: “Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Kor.10:13).

“Here, vandag wil ek waak en bid om nie in versoeking te kom nie.”