Lees Johannes 14: 15 – 25
“…die Vader…sal vir julle…stuur…die Gees van die waarheid…Hy sal by julle bly en in julle wees…” (16,17).
In die St.Peter’s Church in Cologne hang twee eenderse skilderye van Petrus se kruisiging. Ons weet uit oorlewering Petrus is onderstebo gekruisig, omdat hy homself nie waardig geag het om soos Christus, in ’n regop posisie, aan die kruis te hang nie. Die bestaan van die tweede skildery, wat ’n kopie van die eerste een is, word deur Herbert Lockyer in The Heritage of Saints soos volg verklaar. In die begin van die 19de eeu het Napoleon die stad Cologne in sy seevierende optog geplunder. Hy het die kerk ook geplunder en die oorspronklike skildery van Petrus se kruisiging saamgeneem. Nadat die kerk herstel is, het dieselfde kunstenaar, wat die eerste Peterusskildery geskilder het, weer ’n skildery, so na as moontlik aan die eerste een, geskilder. Die oorspronklike skildery is later gevind en aan die kerk terug besorg en langs die kopie van die skildery opgehang. Kunskenners sê daar is so min verskil tussen die twee skilderye dat die oorspronklike nie van die kopie onderskei kan word nie. Herbert Lockyer maak van hierdie insident gebruik om aan ons ’n geestelike waarheid tuis te bring. “Jesus is in heaven. But the Holy Spirit is here, and He is die master Artist and in die absence of the Original, He is painting the likeness of Jesus, upon the unworthy canvas of your life and mine.”
God se bedoeling met sy kinders op aarde, die gelowiges, is om die Here Jesus Christus se beelddraers te wees: “…dié wat Hom lief het, dié wat volgens sy besluit geroep is…het Hy ook bestem om gelykvorming te wees aan die beeld van sy Seun…(Rom.8:28,29). Uit onsself het ons nie krag om Jesus se voorbeeld te volg en deur ons lewe Hom aan die wêreld bekend te maak nie. “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle” (Rom.8:8,9). Dit is hoe Jesus sy dissipels kort voor sy kruisdood bemoedig het: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur…om by julle te wees…die Gees van die waarheid…julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees….daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle”(Joh.14:16-20). Deur die Heilige Gees woon Christus in ons en deur ons verhouding en gemeenskap met Hom, kleur die Heilige Gees, soos ’n kunsskilder, ons lewe in, met Christus se lewe en dit verskyn in ons gedrag, ons houding, ons woorde, ons gesindhede.
“Here, vandag leef ek my Christen lewe uit U krag in my.”