Lees Johannes 1: 35 – 51
“Andreas…was een…wat Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek…hy het hom na Jesus toe gelei” (40).
Die bekende prediker, D. L. Moody, vertel van ’n baie mooi prent wat hy gesien het en ook gekoop het. Iemand word uit die donker water getrek, terwyl hy aan die kruis vasklem. Dit was vir hom ’n duidelike uitdrukking van die evangelieboodskap: redding deur die kruis van Jesus. ’n Rukkie later, loop hy ’n soortgelyke prent raak, wat vir hom ’n beter uitdrukking van die evangelie was. Dit toon ook iemand wat uit die donker water getrek word. Met een arm klem hy aan die kruis vas en met die ander arm klem hy ’n ander drenkeling vas, wat hy saambring. Dit is hoe ons die evangelie moet beleef en uitleef: self gered, maar gedurig besig om ook ander na Christus toe te bring. “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Mat.4:19). “…weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red…” (Jak.5:20).
“Here, vandag wil ek soek om iemand na U toe te lei.”