Lees 2 Timoteus 3:1-9
“…mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”
(5).
’n Jong predikant het een oggend ’n eenvoudige, maar treffende en verstaanbare
boodskap gebring. Sy teks was Jesus se woorde aan die gemeente Efese in
Openbaring 2: 4: “Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos
in die begin nie.” Die predikant hou ’n skulp op. “Pêrels word in skulpe gevind,”
sê hy ernstig. “Hierdie is ’n egte skulp.” Hy klop teen die skulp. “Hoor, hy klink
soos ‘n skulp. Kyk, hy lyk soos ‘n skulp. Want hy is ‘n skulp.” Hy skud die skulp.
Hy draai hom om en krap met sy vinger in die skulp. “Maar hierdie skulp het sy
pêrel verloor. Nou is dit net ‘n dop.” Toe gaan hy aan om die toepassing te
verduidelik. So was die gemeente van Efese. Hulle het ‘n wonderlike struktuur
gehad. Hulle was ywerig. Hulle leer was suiwer. Maar hulle het die Here Jesus
verloor. Hulle het Hom nie meer liefgehad nie.
In ons geestelike lewe kan ons die pêrel verloor. Ons doen nog alles wat van ‘n
Christen verwag word - lees Bybel, bid, gaan kerk toe, gee bydraes - maar die
omgang en gemeenskap met Jesus het verlore geraak. Die Heilige Gees verheerlik
die Here Jesus in die hart. In ‘n hart vervul met die Heilige Gees is daar ‘n
sterk liefde vir Jesus. “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die
Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom.5:4). Hy is die pêrel van die
geestelik lewe, want die Heilige Gees maak Jesus ‘n werklikheid in die hart.
“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy…My verheerlik, want wat Hy van
My ontvang, sal Hy aan julle verkondig”
Die Christen se stiltetyd, of binnekamer, is baie belangrik. Wanneer ons so by
onsself in ons binnekamer, afgesluit van ander dinge wat ons aandag vra, die Here
se Woord lees en oordink, sy aangesig in gebed soek, dalk ‘n geestelike boek
lees, maak die Heilige Gees Hom vir ons ‘n werklikheid en leef die Persoon van die
Here Jesus in harte. Iemand het gesê vir al ons daaglikse belange het ons tyd:
tyd om te eet, tyd om te werk, winkel toe te gaan, iemand te bel, TV te kyk, maar
vir Bybellees en bid moet ‘n mens tyd maak. “…maar dié wat op die Here wag, kry
nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende, hulle hardloop en word nie
moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jes.40: 31)
“Here, vandag soek ek Uaangesig.”