Wo 30 Des: Eerste Liefde

LEES: 1 Johannes 4: 10 – 19

“Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

'n Klein dogtertjie het in die sitkamer, op die vloer, met haar pop gesit en speel, vertel Indian Christian, terwyl die ma by die tafel druk met haar agterstallige korres­pon­den­sie besig was. Uitein­de­lik is die ma klaar en sit haar pen neer. “Jy kan nou kom, Alice, ek is klaar met wat ek vanoggend wou doen.” Die kind hardloop na haar ma toe, klouter op haar skoot, ter­wyl sy uitroep: “Ek is so bly, want ek wou heel môre al Ma so lief hê.” Die ma antwoord, in die hart geraak: “Maar dit het vir my gelyk jy is so te vrede met jou klein Dolly.” ”Ja, Ma, maar ek het moeg geword. Sy kan my nie terugl iefhê nie.” “Is dit hoekom jy my liefhet, omdat ek jou terug­ liefhet,” sê die ma terderlik en druk haar teen haar vas. “Dit die een hoekom, maar nie die eerste en beste hoekom ek Ma so liefhet nie.” “Wat is dan die eerste en beste hoekom?” Die dogtertjie ant­woord met `n sag­te stemmetjie: “Omdat Ma my liefgehad het, toe ek te klein was om Ma lief te hê.” Die ma se oë word vol trane en sy fluister: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

As die Here ons nie eerste liefgehad het nie,  terwyl ons met ons rug na Hom toe lewe en met ons eie dinge aangegaan het, sou ons nooit by die Here uitgekom het nie. “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons lief­gehad het en sy Seun gestuuur het as `n versoe­ning vir ons sondes.” (1 Joh.4:10). Gelukkig het die evangelie na ons toe gekom en Johannes kan skryf: “En ons het die liefde wat God tot ons het leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom…”

“Here, vandag dank ek U, dat U my eerste liefgehad het.”