Vry 11: Die Totale Straf

Lees TITUS 2: 11-15

“Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen” (14)

Zeleucus, koning van die outydse Locri, het ’n nuwe wet uitgevaardig. Die straf vir oortreding sou wees, altwee oë van die oor­treder moes uitgesteek word. Een van sy eie seuns het die wet oortree. Die ernstige misdaad moes nou volgens die eis van die wet gestraf word. Die koning was diep geskok en ontroer, oor wat nou met sy kind gaan gebeur. Die jongman sou vir die res van sy le­we blind wees. Hoe graag sou hy hom wou vryspreek. Die eis van die gereg het hom egter gebind en verplig om die straf toe te pas. Hy het beveel die straf moet, soos die wet eis, volvoer word, maar hy het ook beveel, dat één van die seun se oë en één van sy eie oë, uitge­steek moet word. Die reg van die wet is, volgens sy be­skou­ing, uitgevoer, maar sy liefde vir sy seun het ook ge­seë­vier, want die seun sou nie blind wees nie. Dit het die koning ’n persoonlike prys ge­kos om sy seun te beskerm. Dit is gedeeltelik ’n beeld van die verlos­sings­weg wat God uit liefde vir die sondaar be­­werk het. Het Zeleucus albei sy eie oë laat uitsteek, en sy seun geheel ongedeerd laat gaan, het hy gedoen wat God gedoen het.

Sonde moet met die dood gestraf word, maar om­dat God ons lief het, het Hy die straf ook vir Hom­self ’n eie saak gemaak. In Christus het God self ons sondestraf gedra. “God het die wêreld so lief ge­had dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Christus het nie die helfte van die straf gedra, en die sondaar dra self die ander helfte nie. God se liefde is, Hy het in sy Seun die hele straf van die son­daar gedra, sodat die sondaar geheel vryge­spreek word.

Christus wat in goddelike heerlikheid in die hemel ge­woon het, het soos ons ’n mens geword. Hy het in ar­moe­di­ge omstan­dig­hede kom woon. Hy het haat, ver­vloe­king en verwerping kom beleef. “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Hom­self verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens ver­skyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was ge­hoor­saam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (Fil.2:6-8). Hy is tussen twee misdadigers gekruisig en sy bloed het tot in die stof van Golgota gedrup. Hy het die ly­ding van die verdoemenis beleef toe Hy deur God verlaat is en moes uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat.” Hy is dood in ’n graf gelê en sy gees het die om­gewing van die doderyk self gesmaak “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skul­di­ges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig” (1 Pet.3:18,19).

Na Hy die volle prys vir sonde betaal het, het Hy uit die dood opge­staan, want Hy was sterflike mens, maar ook lewende God. Deur sy opstanding het Hy aan ons ook die nuwe le­we gebring, sodat ons nie op die ou end tog maar ’n deel van ons straf moet dra om te sterf en die ewige dood in te gaan nie. In Christus se kruisdood is ons sondeskuld ten volle be­taal, en uit sy opstanding ontvang ons deur God se liefde die ewige lewe. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Chrstus Jesus ons Here” (Rom.6:23).

“Here, vandag is ek vry, want U het my straf geheel gedra.”