Wo 28 Okt: Koning of Eerste Minister

Lees Markus 12: 35 – 37

“Die Here het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand…’ Dawid self noem Hom Here…” (36)

Eerw. G. W. Moore vertel in een van sy boeke van ’n man, wat aan die einde van een van die jaar­likse, geestelike Keswick-konferensies in Engeland, getuig het van die groot geestelike seën wat hy ont­vang het. Die leier van die getuienis­diens wou hê die man moet meer spesifiek wees en sê hoe­danige seën hy ontvang het. Hierop het die man dit soos volg verduidelik: “Ek was reeds ’n Christen voor ek na Keswick toe gekom het. Christus was my koning. Maar hy was net ’n konstitusionele koning en ek was steeds die eerste minister in my lewe. Ek het besluit wat ek doen en hoe ek lewe. Christus was die koning op die agtergrond en moes net sy stempel van seën op my doen en late plaas. Hier het ek na die predikers geluister wat, soos die Nuwe Testament dit leer, oor volkome oorgawe aan Christus gepreek het. Ek het ’n nuwe ontmoeting met die Here gehad. Deur die krag van die Heilige Gees het ek Hom nou absolute koning in my lewe gemaak. Hy regeer nou oor my en ek dien Hom. Dít is die seën wat in my lewe ingekom het.”

In Markus 12 (bo) wys Jesus die skrif­geleerdes daarop dat koning Dawid die Messias, Christus, Here noem. Dawid het Christus se gesag bo sy eie koningskap verhef. As gelowiges behoort ons aan die Here en ons glo in Hom en dien Hom. Daar is egter ’n Christenskap wat dieper loop as net geloof. Dit is oorgawe aan die Here. So ’n Christenskap word dissipelskap genoem. In Calvary Church News word ’n onderskeiding tussen gelowig wees en dissipel wees, gemaak:

Om ’n gelowige te wees, kos niks. Om ’n dis­si­pel te wees is duur. “’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle:… ’Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie’”(Luk.14:25-27). Christenskap beteken ge­loof in Christus, maar dis­si­pelskap is die uit­leef van hierdie geloof. Ek glo in Christus se verlossingswerk aan die kruis vir my, maar dis­sipelskap is die resultaat van sy verlossing in my lewe.

Gelowiges stel hulleself eerste, dissipels stel Christus eerste. Gelowiges word aan hulle woorde geken, dis­sipels word aan hulle vrugte geken. Geloof red my siel, maar dis­si­pelskap verheerlik Christus. Gelowiges word soms weens hulle gedrag en taal nie as Christene geken nie, maar dissippels is as Christene bekend. Gelowiges gaan hemel toe; dissipels ontvang daar beloning. “Julle moet baie versigtig wees sodat julle die hele beloning kan ontvang wat God beloof het. (2 Joh. vrs 8 Lew.Byb).

“Here, vandag wil ek u dissipel wees.”