Lees Daniël 6: 17 – 25
“My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit…” (23)
George Cutting het eens ’n klein bussie gehuur om hom en ‘n paar Christenvriende van Penzance in Cornwall na Land’s End, vir ’n kerkkonferensie te neem. Hy het voor by die bestuurder gesit. Dié wys na ’n ou, wit kerkie in die verte. “Ons gaan netnou by daardie kerkie verby ry. Maar voor ons by hom kom, sal ons hom nege keer uit die oog verloor.” Die pad het kronkelend, bult op en bult af, geloop. Toe hulle die eerste bultjie opry, kon hulle die kerkie nie sien nie. Na ’n rukkie het die kerkie weer in sig verkyn. So het dit die hele vier of vyf kilometer, wat hulle gery het, gegaan. Cutting het getel en dit was regtig soos die busbestuurder hom dit vertel het. Die kerkie het nege keer verskyn en verdwyn. Cutting het die ervaring in sy boodskap by die konferensie by Land’s End gebruik. “Hoeveel keer het die kerkie op en af gegaan?” het hy vir sy gehoor gevra na hy die storie vertel het. “Nie één keer nie. Dit was óns wat op en af gegaan en na links en na regs geswenk het.”
In ons geloofslewe verloor ons ook soms ons geloofsoogkontak met die Here. Ons voel ver van die Here af. Hy is nie vir ons ’n werklikheid nie. Dit is nie Hy wat verskyn en verdwyn nie. Ons gemoedstoestand verander. Soms ondervind ons verhewe tye van geloofsbelewing en ons sien die Here en sy koninkryk helder en duidelik. Ander kere is daar weer laagtepunte en ons verloor die Here uit die oog. Die prediker, Spurgeon, het een oggend, voor die aanvang van sy preek, aan sy gemeente bely: “Ek vóél vanoggend onbekeerd. Maar gelukkig is die evangelie nie afgehanklik van my gevoel nie.” Christus en sy verlossingswerk is onveranderlik en die boodskap van die evangelie bly waar. “Want ons wandel deur geloof en nie aanskouing nie” (2 Kor.5:7).” …ek weet op wie ek vertrou, en dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het…in stand te hou” (2 Tim.1:12).
“Here, vandag vertrou ek in u krag om my in stand te hou.”