Lees Jakobus 3: 5 – 12 – Lewende Bybel
“Uit dieselfde mond stroom … lofliedere en vloeke” (10)
’n Jongman was ’n groot vloeker, maar dit het hom nie gehinder nie, skryf Keith L. Brooks. Hy trou toe met ’n pragtige Christenmeisie. Daarna begin hy sy vloekgewoonte in ’n ander lig sien en probeer hy om dit af te leer. Een Sondagoggend, voor hulle sou kerk toe gaan, staan hy en skeer. Hy sny hom raak. Voor hy homself kon keer roep hy ergerlik uit: ”God!” Toe eers sien hy hoe sy vierjarige dogtertjie, pop in die arms, vir hom staan en kyk. Sy sit haar pop neer en kyk met vonkelende ogies rond in die badkamer. “Is God hier?” vra sy opgewonde. Die man word rooi in die gesig en skaam vra hy: “Hoekom vra jy so?” “Ek het gedink God is hier want ek het gehoor Pappa praat met Hom.” Sy sien die ontnugterde uitdrukking op sy gesig. “Roep Hom weer, Pappa. Ek weet Hy sal kom as Pappa Hom roep.” Die kindjie se woorde sny diep in sy hart in. Hy tel haar op in sy arms en met ’n snik druk hy haar teen hom vas en vir die eerste keer roep hy regtig tot God, om hom te vergewe en hom sy kind te maak en hom te help om soos ’n Christen te lewe. In daardie oomblik het hy vry geword van sy vloekgewoonte. Saam met sy vrou het hy ’n toegewyde Christen geword.
As ’n vloekwoord in ’n gesprek uitglip, is dit soos wanneer ’n mens ’n brief skryf en elke nou en dan is daar ’n klad. Die ergste vloekwoorde is seker wanneer ons die ewige en almagtige God se Naam vir ’n vloekwoord gebruik; of die Naam van die Here Jesus Christus, wat vir ons gely en gesterf het om ons te red, vir ’n vloekwoord gebruik.Die Here se woord praat met ons oor die vloekgewoonte. Dit lyk of dit onder die vroeë Christene ook ’n probleem was. In meer as een sendbrief praat die apostels oor die probleem van kwaadword en vloek: “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie…” (Ef.4:31). “Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie…” (Kol.3:8). Gelukkig gebruik Jakobus bemoedigende woorde, (vir ons) as hy oor die tong se onbedwingbaarheid skryf: “Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak…” (Jak.3:2). Ons verdere bemoediging in ons struikelinge kom uit 1 Johannes 1:9: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”
“Here, vandag wil ek versigtig wees met wat ek sê en uitroep.”