Lees Jesaja 40: 9 – 11
“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms… Hy sorg vir die lammerooie” (11).
Eerw. R. I. Williams het sy plaaslike koerant, die Norfolk Ledger Dispatch, gebel om die tema van sy preek, vir die komende Sondag, te verstrek. “Die tema is ‘Die Here is my Herder’,” sê hy vir operateur in die koerantkantoor. Die man vra: “Is dit al?” Eerw. Williams antwoord: “Dit is genoeg.” Die Saterdagoggend kondig die koerant eerw. Williams se preektema toe ook so aan: “Die Here is my Herder – dit is genoeg.” Die leraar was so in sy skik met die verlengde tema van sy preek, dat hy dit in die Sondagoggenddiens in die Fairmount Park Methodist Church net so gebruik het. Die kern van sy preek was: As die Here ons Herder is, is dit genoeg. Ons het nie ander hulp nodig nie!
Jesus het Homself, in Johannes 10, die Goeie Herder genoem. “Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit…(hulle) sal in en uit gaan en weiding kry…Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape…Ek ken my skape, en my skape ken My.” Ons het nie méér beskerming en versorging as dít nodig nie! Dit is vir ons waarlik genoeg!
“Here, vandag soek ek by U my versorging.”