Lees Psalm 121.
“Hy wat jou beskerm slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie’(2,3).
Charles Garret het eenkeer gepreek oor die vraag: Hoekom is daar in die Christen se lewe steeds moeilikhede? “Die Christen word nie van moeilikheid gevrywaar nie,” het hy in sy preek gesê. “Daar is mense wat na hulle bekering meer moeilikheid belewe as voor hulle bekering. Ek ken Christene wat letterlik omring is met moeilikhede. Moeilikheid voor hulle, moeilikheid agter hulle, moeilikheid aan die linkerkant, moeilikheid aan die regterkant.” ’n Man van diep in die sewentig, wat ’n leeftyd van Christenskap agter hom het, luister met sigbare genoë. Hy val die prediker hardop in die rede: “Aan God die eer! Bóóntoe is dit altyd oop.” Met ’n groot glimlag voeg Garret by “Jy is reg, my broer. Daar is een oog wat dag en nag kyk; een oor wat dag en nag luister; een hart wat dag en nag voel.”
Psalm 102 word genoem: “Gebed van ’n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here.” Onder die baie bemoedigende tekse in die Psalm verseker vers 20 ons: “Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur… Drie vermoëns van ons ewige God en Vader verseker vir ons, as ons kinders van God geword het, ’n veilige posisie. Die eerste is: Hy het ons lief soos ’n pa sy kind lief het… Tweedens: Hy is alwys. Ons kan met ons kinders soms onverstandig optree en vir hulle dinge gee, wat liewer weerhou moes word. Ons hemelse Vader weet watter weerstande en ook uitdagings vir ons karaktervorming en toename in geesteskrag beste is: “…moenie mismoedig word as die Here jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet. Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders” (Heb.12:5-7). En dan, ons hemelse Vader is almagtig: Hy kán dit wat ons nodig het vir ons doen en vir ons gee. “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik..” (Mat.19:26). God skik die verloop van sake en omstandighede om ons gebede te verhoor of Hy doen ’n wonderwerk. ”Ek sal vir hulle uitkoms gee…hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie” (Jer.31:13).
“Here, vandag bring ek met geloof my nood na U toe.”