Lees 2 Korintiërs 12: 1 – 10
“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis in volle werking wanneer jy swak is” (9)
Die Sjinese Christenleier, Ni To-sheng, beter bekend as, Watchman Nee, het vir net meer as 20 jaar in die kommunistiese tronk in Sjina deurgebring. Self het hy net een boek geskryf en laat publiseer. Sy preke, lesings en korrespondensie het egter bewaar gebly. Daaruit het A. I. Kinnear, self ’n sendeling in Indië en persoonlike vriend van Nee, verskillende boeke, sommige ook aan ons bekend, saamgestel: The Normal Christian Life, Changed into His Likeness, Love not the World, Table in the Wilderness en nog ander. Table in the Wilderness is ’n dagboek. In 4 Junie se dagstukkie skryf Watchman Nee, hoe hy die Here gevra het om ’n moeilike beproewing weg te neem. Soos Paulus het hy in sy hart ook God se antwoord: “Nee” ontvang. Saam met die wete, die Here gaan nie sy probleem wegneem nie, kom in sy hart die beeld van ’n rivierboot, wat nie in ’n nou stroom, tussen twee hoë walle, kan deurvaar nie. In die middel van die nou stroom, rys ’n meter hoë rots op van die bodem af. As die rots nie verwyder word nie, watter ander oplossing bly oor? “Dieper water”, kom die antwoord in sy hart. Dan kan die boot oor die rots vaar. Christenskap, skryf hy, is nie ’n saak van rotse wat verwyder moet word nie, maar van dieper vaarwater.
Van so ’n man kan ons so ’n boodskap aanneem, want ten spyte van al sy swaar beproewinge, het hy oorwinnend gesterf. Oor `n brief, wat hy so kort voor sy dood, aan sy suster geskryf het, skryf Kinnear: “He concludes on a note of joy, and those who knew him will feel this is wholly in character. There is no self-pity, for his concern, is for the letter’s recipient, that the inward joy he is experiencing may be her experience also.”
Hoe kry ons dieper vaarwater, sodat ons ook oorwinnend bo-oor die versperrende rotse kan vaar? Die Here Jesus het self so ’n weg gevolg: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied” (Lukas.22:42). Die Here Jesus moes bo-oor sy versperring vaar. Hy het dit oorwinnend gedoen: “Dit is volbring!…Vader, in u hande gee Ek my gees oor”(Joh.19:30 & Luk.23:46). Uit die Skrif leer ons God se beloftes en die openbaring van sy hart ken, soos Christus ons dit kom leer het en soos die Heilige Gees dit in ons hart vertolk, As ons tyd neem om deur gebed die Here se aangesig te soek, met Hom om te gaan en in die hart na Hom te luister, neem die Heilige Gees van ons hart besit en gee ons Christus se opstandingsoorwinning.
“Here, vandag soek ek biddend uit u Woord dieper vaarwater.