Lees Lukas 19: 28 – 44
“Toe bring hulle die donkie na Jesus toe…en help Jesus opklim…Hulle het gesing: Loof die Koning… wat in die Naam van die Here kom!”(35).
Henry Pollock vertel van ’n man wat tydens die Tweede Wêreldoorlog, ‘n werkswinkel van ’n wapenfabriek in Londen besoek het. ’n Man agter sy draaibank het vir hom baie na die koning van Engeland getrek. Tot sy verbasing ontdek hy, dit ís regtig die koning wat daar staan en werk. Hy hoor toe die koning kom elke dag, nadat hy sy dag se verpligtinge nagekom het, in die werkswinkel werk om saam met sy mense wapens te maak.
Vir die vakmanne en arbeiders in daardie werkswinkel moes dit ’n groot voorreg gewees het om die koning so by hulle te hê. Sou hy hulle wel toegelaat het om vrymoedig met hom te praat, hulle behoeftes vir hom te vertel, sy hulp en sy raad oor sake te vra? Ons wil graag glo dit was wel die geval. Die Koning van die hemel het ook by sy mense kom woon. “En die Woord het mens geword en onder ons kom woon …vol genade en waarheid” (Joh.1:14). Dit is steeds ons groot voorreg. Die Here Jesus het na sy hemelvaart deur die Heilige Gees na ons toe teruggekom: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe…dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly, en wan-neer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees stuur, sal hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:18,25). Deur gebed het ons gedurig, deur die Heilige Gees se inwoning in ons hart, toegang tot die Koning! Ons sien in geloof sy aangesig; ons bewonder Hom en aanbid Hom en bring ons behoeftes vrymoedig na Hom toe: “…waar die Gees van die Here is, is daar vryheid… met onbedekte gesig, soos in ’n spieël (aanskou) ons die heerlikheid van die Here …” (2 Kor.3:17,18 Ou Vertaling).
“Here, vandag vereer en aanbid ek U, my Koning en Here.”