Lees Lukas 8: 22 – 25
“Maar hulle was verskrik en verbaas en sê vir mekaar: ‘Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water en … hulle gehoorsaam” (25)
Napoleon het in sy uur van glorie vir dié rondom hom gesê: “Wat ek nou doen, sal in hierdie geslag duisende volumes vul. In die volgende geslag slegs een volume. In die derde geslag ’n paragraaf. En in die vierde geslag, een sin.”
Hoe anders is dit met die eniggebore Seun van God, Jesus Christus, ons Here. Twee duisend jaar na Hy op aarde geleef het, word steeds miljoene volumes oor Hom gevul. Die rede: Hy het nie gesterf, soos baie ander merkwaardige persone nie. Hy lewe. Hy is die lewe. Hy is steeds by ons. Hy belowe sy dissipels: “Ek kom weer na julle toe…Ek lewe en julle sal lewe… wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:15,18,24). “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het…as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie” (Joh.21:25)
’n Indiese Christen, P. V. George, het ’n boek geskryf met die titel: “The Unique Christ … In die boek beklemtoon die skrywer die besondere en buitengewone plek wat Jesus in hierdie wêreld se geskiedenis in-neem. In die Franse Nuwe Testament, word die woord in Johannes 3:16, “sy enigste Seun” “eniggebore Seun” (Ou Vert.), only-begotten Son (Eng.Vert.), vertaal met “son fils unique”. Hy is uniek! Iemand het oor Hom so geskryf: “His Story is history, and history is His Story.” Horace Bushnell verklaar: “His character forbids possible classification with other men.” En die uitgesproke Franse filosoof en historikus (en ongelowige) Ernest Renan, getuig oor Jesus se unieke plek in die wêreld: “He is the incomparable man to whom the universal conscience has decreed the title of the Son of God, and with justice.” Tog het die wêreld Hom verwerp. Jesaja se profesie is letterlik vervul: “Hy was verag en deur die mense verstoot…iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.” “Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie” (Joh.1:10). Hy word steeds verwerp. Die hart wat deur die wêreld beheer word, verwerp Jesus. Bekering en redding beteken, iemand word deur die werk van die Heilige Gees, met die krag van die evangelie, bevry van die Satan se greep op sy lewe. Jesus word Here en Koning van sy lewe. In die hart waarin Jesus plek kry, verheerlik die Heilige Gees, toenemend, die Here Jesus as Koning en Here.
“Here, vandag kom vereer ek U in my hart as my Here.”