Lees Jesaja 49: 14 – 18
“Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor haar kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie” (15).
’n Vrou, met ’n klein kindjie, het ’n tyd van beproewende omstandighede beleef. Haar dominee het haar besoek en haar in ’n diep neerslagtige toestand aangetref. Haar kindjie was aanhoudend knieserig en lastig. Haar man was siek, maar moes gaan werk om nie sy werk te verloor nie. Haar groter dogtertjie, Marí, was in die hospitaal. Die ma self, het aanhoudend hoofpyn gehad. “Alles loop met my verkeerd, Dominee. God het van ons vergeet en Hy het my verlaat.” Die verstandige dominee, wat die vrou goed geken het, het met groot simpatie gevra: “Eintlik is dit die baba, wat nou tandjies kry, wat jou met sy aanhoudende gekerm gedaan maak, nie waar nie?” “Ja, dis reg, Dominee. Ek kan dit nie uithou nie.” “Hoekom raak jy nie van hom ontslae nie? Ek sal die deur oophou en dan smyt jy hom uit.” Geskok roep die ma uit: “Nooit!” en sy druk die kindjie styf teen haar vas. “Vir niks in die wêreld sal ek só iets doen nie!” “Sal jy regtig dit nie doen?” “Dominee, u ken my. U weet ek sal dit nóóit doen nie!” Sy vee met die rug van die hand oor haar nat oë. “Hoekom dan,” vra die dominee baie teer, “dink jy dan dat God jou minder liefhet as wat jy jou baba het? Dink jy nie jy kan op God staatmaak om julle deur julle probleme te dra nie?” Stadig breek ’n glimlag deur die trane. “Natuurlik, Dominee. Ek weet Hy sal! Dankie, Dominee.”
So ’n oorweldigende donker tyd is nie vir gelowiges ’n seldsame ervaring nie. ’n Herinnering aan God se liefde vir ons bring vir ons lig. “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin” (1 Joh.4:16). Dawid het dit so beleef: “My hart krimp inmekaar in my, doodsangs oorval my, vrees en skrik oorweldig my, my hele liggaam bewe” (Ps.55:5,6). Dan vestig hy sy vertroue in God en skep weer moed: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan’n blote mens my doen” (Ps.56:54). Paulus het ook so ’n bedruktheid van gemoed geken en toe deur sy vertroue in God moed gekry: “Van alle kante af het probleme op my toegesak. Daar was argu- mente met ander mense, en in my eie gemoed was daar dinge wat my bang gemaak het. Maar hoe kan God nie ’n mens wat terneergedruk is weer moed gee nie!” (2 Kor.7:5,6 Lew.Bybel). Selfs die Here Jesus het dit geken en daarom kan hy saam met ons voel, wanneer ons in so ’n bedrukte en vertwyfelde stemming is: “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader red my uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” (Joh.12:27). Keer met verwagtende geloof na God toe. Vertel Hom u nood en behoefte en bedruktheid. Vertrou Hom! “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle”(1 Pet.5:7). Psalm 103 benadruk God se houding teenoor ons: “Soos `n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps.103:13.14 Ou Vertaling.)
“Here, vandag gee ek my bedrukte hart se las aan U oor.