Lees 1 Timoteus 3:14-16
“En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is…”(14)
Die kerkvader, Augustinus, het eendag langs die see geloop. Diep besorgd loop hy en peins oor die leerstelling van die Drie-eenheid van God. Hy kan dit nie verstaan nie en hy is ongelukkig daaroor. `n Endjie vorentoe skep ‘n seuntjie met ’n groot skulp water uit die see, hardloop dan na ’n gat toe wat hy in die sand gegrawe het en gooi die water in die gat. Augustinus hou hom ’n rukkie lank dop. “Wat is jy besig om te doen, Grootman?” vra hy die oudjie. “Oom ek is besig om die see in die gat wat ek gegrou te gooi,” roep hy uitasem en hol alweer see toe om nog ’n skep water te gaan haal. Met ’n verligte hart draai Augustinus om. “Dit is wat ek besig is om te doen,” sê hy vir homself. “Ek staan op die kus van die tyd en ek probeer in hierdie nietige verstand van my dinge van die ewigheid in kry.”
Ons verstaan nie eers God se natuurskepping heeltemaal nie, hoe wil ons sy ewigheidskepping verstaan? Sommige dinge, die meeste van God se dinge, verstaan ons nie. In die Skrif en in die Persoon van sy Seun wat mens geword het, het God Homself aan ons bekend gemaak en die Heilige Gees verklaar dit aan ons in ons hart in die mate wat Hy wil hê ons God moet verstaan. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak…”(1 Kor.2”9,10). Hoe meer ons die Bybel lees en bepeins, hoe meer sien ons God se dinge raak. Die orde word in ’n paar mooi Engelse woorde vir ons gegee: “Eerste: information (kennis deur die lees van die Bybel); dan: meditation (oordenking van wat ons lees); dan: revelation (die openbaring wat die Heilige Gees in ons gee); dan: dedication (die toewyding wat in ons hart kom).
“Here, vandag lees en oordink ek u Woord.”