Lees 1 Konings 19: 1 – 8
“…Elia het…’n dagreis ver die woesyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood”(4)
Die bekende Engelse prediker en skrywer, Martyn Lloyd-Jones skryf: “Ek twyfel altyd bietjie as ’n Christen voorgee, hy of sy ervaar nooit neerslagtigheid nie. Ek betwyfel die woorde van die koortjie: ‘And now I am happy all the day’. Daar is dae wanneer ook die Christen ongelukkig voel. (Sy eie woorde): There are these states and conditions of the soul, and the sooner you learn to deal with them and how to handle them, the better it will be for you and for those with whom you live and work.” A. Naismith, wat in sy boek hierdie woorde van dr. Lloyd-Jones aanhaal, skryf so (ook sy eie woorde): “Experience confirms the words of dr. Lloyd-Jones, for there are very few people indeed who never feel out of sorts, who are always ‘on top of the world’ and never ‘under the weather’; who never have ‘a touch of the blues’ because they are always ‘in the pink’.” Dr. Lloyd-Jones het gemoedsgenesing gevind deur die lees van ’n boek deur Dr. Sibbes: The Bruised Reed, The Soul’s Conflict. Hy sê: “Die lees van die boek was balsem vir my siel, op ’n tydstip in my lewe, toe ek oorwerk en oormoeg was en onderworpe was aan die aanvalle van die duiwel op buitengewone wyse. “That book quietened, soothed, comforted, encouraged and healed me.”
Dawid het hierdie gemoedsdroefheid geken: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” (Ps.42:6). Paulus het dit geken: “…ons het geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge. Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook opgebeur…”(2 Kor.7:5). Die Here Jesus self het dit geken: “Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud…”(Mat.26:37,38). Daarom is die Here Jesus vir ons so ’n troosvolle toevlug as ons bedruk en benoud voel: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie… (Heb.4:15). In Psalm 103:13 & 14. verduidelik Dawid hierdie meegevoel van God met ons as mense: “Soos `n vader hom ontferm oor oor sy kinders, so ontferm die Here oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons stof is.”
“Here, vandag kom ek met ’n bedrukte en bedroefde hart na U toe. Help U my, asseblief.”