Lees Hooglied 2: 15
“Vang vir ons … die klein jakkalsies … wat die wingerde verniel …”
Dr. Thomas Lambie en sy geselskap swoeg met hul rydiere deur ’n lang, warm vallei in Ethiopië. Daarna sukkel hulle ’n steil hang uit. Met dankbaarheid verwelkom hulle die koel en verkwikkende luggie wat op die kruin van die steilte trek. Die kamp waar die ander sendelinge op hulle wag, kan nie meer ver wees nie. Die pad loop hiervandaan gelyk en effens afdraend. Die terrein is met heuphoë, droë gras, bedek. Na die moeilike pad tot hier, reis hulle opgewek verder. Hulle het te gou bly geword. Na hulle ’n endjie gery het, begin almal hewig krap. Selfs die muile begin hul pote ergerlik op die grond stamp. Hulle bekyk die grashalms goed. Saadhalmpies steek op boontoe. Die punte van hierdie halmpies het ’n menigte skerp stekertjies, almal soos bajonette gevorm. Dit steek die ontblote liggaamsdele, klou aan die klere vas en werk hul pad in na die vel toe en veroorsaak ondraaglike irritasie. Die makliker pad oor die grasveld, is vir hulle meer uitgeputtend, as die moeilike opdraende pad, waarmee hulle gekom het.
In ons daaglikse gang beleef ons ook klein irritasies, wat ’n mens se geduld en Christenskap meer beproef as groot en moeilike take. ’n Mens kan ’n steil geloofstoets oorwin en dan deur die klein irritasies sy geloofsvreugde verloor. Geduld is ’n vrug van die Heilige Gees. Maar ons het nie net geduld nodig vir die irritasies, wat uit die omgewing, of van onbedagsme mense om ons, kom nie. Ons het ook met onsself geduld nodig om nie vir ánder, uit onbedagsaamheid, irritasies te skep nie. In ’n nuwe vertaling deur prof. Hennie Stander, vir kinders bedoel, dus vir ons verstaanbaar, sê 1 Kor. 13 :4,5: “As ’n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan: sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ’n pyn gee nie…altyd gaaf wees met mense… nie oor jouself loop en praat nie… nie dink dat jy darem baie belangrik is nie…nie met ander mense lelik maak nie… nie altyd net aan jouself dink nie…nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie…nie altyd terugdink aan dit wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie.”
“Here, vandag wil ek my oë so op U hou, dat klein dingetjies my nie sal ontstel, of ek ander, om my, sal irriteer nie.