Ma 21 Sept: Die Rede

Lees Galasiërs 2: 17 – 21

“Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê”(20).

’n Indiaanse opperhoof het by ’n sendeling die evan­gelie van Christus se liefde en redding ge­hoor. Hy het tot bekering gekom. Die lig wat in sy donker hart ingekom het, het hom met blyd­skap oor Jesus laat praat. Met hom het gebeur waarvan 1 Petrus 2:9 praat: “Julle (is) die volk…wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig”.

Een van sy vriende vra hom: “Hoekom praat jy so gedurig van die bleekgesigte se Jesus?” Hy het nie geantwoord nie, maar begin om droë bla­re en houtjies in ’n sirkel te pak. Daarna neem hy ’n rus­pe en sit dit in die middel van die sirkel neer. Steeds stilswyend steek hy sy sir­kel houtjies aan die brand. Hy en die vriend hou die ruspe dop. Toe droë gras en houtjies goed vlamvat, begin die rus­pe vinnig rondkruip om uit­komplek te soek. Soos die vuur hoër brand, raak die ruspe benouder. Die hulpelose ruspe lig sy kop op so hoog as wat hy kan. Die op­per­hoof buig af, steek sy hand tus­sen die vlamme in, na die ruspe toe. Dadelik kruip die ruspe teen sy vinger op. Hy sit die ruspe sag­gies op die groen gras, weg van die vuur af, neer. “Dít het Jesus vir my gedoen,” sê die opperhoof sag. “Ek was in son­de verlore. Ek was vas. Jesus het afgebuig na my toe en my uit my ellende van sonde en verlorendheid gehaal. Hoe kan ek anders as om Hom lief te hê en altyd daarvan te praat?”

Hoe dieper ’n mens se sondebesef en gevoel van verlorendheid voor sy bekering was, hoe groter is die bewussyn van Christus se liefde vir hom. Sommige van ons ken ook daardie duistere put waar­uit God ons gered het. Ander van ons het matiger, maar nét sulke, werklike bekeringe gehad. Ons aanvoeling van Christus se redding is dan soms ook nie so heftig nie. Party van ons het aan moedersknie die Here gevind en opgegroei in ’n atmosfeer van Chris­­telike beskutting. Ons het nie ’n dramatiese be­kering gehad nie, en daarom is ons ge­loof­se­ker­heid ook soms nie helder nie. Nie die gevóél van geredheid nie, maar die wéte: Jesus Christus het vir my gesterf en ek het Hom as my Verlosser ver­trou en aangeneem, is die fondament van ons geloofsekerheid. Die Heilige Gees bevestig dit in ons hart: Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep:’Abba!’ Dit beteken, Vader. Hierdie Gees ge­tuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom.8:15,16). Luister met die be­lof­te van Christus se redding in die hart, na die Heilige Gees se innerlike versekering van u redding.

“Here, vandag luister na van u Gees in my hart en ek weet ek ek vertrou in Jesus as my Saligmaker.”