Lees Johannes 15:1-8
“Elke loot aan My…snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra” (2).
Henry Durbanville sê die tuinier het onder sy gereedskap ’n belangrike stuk: sy snoeimes. Snoeiwerk lyk na ’n genadelose vermorsing van goeie takke, maar dit is op die ou end ’n bate vir die boom. ‘n Verstandige tuinier sal net wegsnoei wat die vrugdra van die boom belemmer. Dan vertel hy van ’n mnr. Cecile, wat weens verskillende beproewinge wat oor hom gekom het, eendag diep swaarmoedig in sy tuin geloop het. Hy sien ’n pragtige granaatboom in volle drag, maar die stam het ’n keep in wat feitlik die hele stam deursny. Hy vra die tuinier daarna. Die tuinier antwoord: “Meneer, hierdie boom het so sterk gegroei dat dit net blare gedra het. Ek moes hom op hierdie manier snoei, om sy lewenskrag wat verkeerd gedwing het, te tem. Eers na ek hom amper deurgesny het, het hy so pragtig begin vrugdra.”
Die Here se aandag aan ons bring sy snoeimes. In Jesaja 5:6 lees ons hoe dit gaan as die Here iemand opgee: “Ek gaan hom tot niet maak. Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie…” Petrus 1:6 moedig gelowiges aan: “Verheug julle…al is dit nodig dat julle vir ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud wat …met vuur getoets word…” So skryf Paulus ook in Romeine 5:3: “Ons verheug ons ook in die swaarkry…ons weet: swaarkry kweek volharding,…volharding kweek egtheid van geloof …egtheid van geloof kweek hoop en die hoop beskaam nie…”
“Here, vandag dank ek U dat U my vir u ewige koninkryk vrugbaar te maak.”