Lees Psalm 73: 21 – 28 Ou Vertaling.
“Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie” (25).
Een aand, net met sononder, staan ek en kyk hoe motte, deur ’n sterk neonlig aangetrek, in hul menigtes, in ’n elektriesgelaaide rooster vasvlieg en verskroei. Twee skoelapperse kom aangevlieg. Met `n jammer hart hou ek hulle dop. Sonder om eers na die aantreklike lig te kyk, vlieg hulle verby, teen die ondergaande son in. Blomme is die natuurlike liefde van skoelappers – nie ligte nie. Dit is ook wat die mens se gedrag rig – wat in die hart belangrik is en waarna die hart neig.
N. Naismith skryf hy het eendag vir ’n student gevra, watter drie dinge begeer hy die meeste. Hy het geantwoord: “Boeke, gesondheid en stilte.” Hy het dieselfde vraag vir ’n paar ander mense gevra. Elkeen het volgens sy gedragsomgewing, ander begeertes gehad. Die gierigaard (miser) se drie begeertes was: “Geld, geld, geld.” Die bedelaar het gevra: “Kos, klere, warmte.” Die dronkaard het met ’n harde skreeu sy begeertes in een woord opgesom: “Drank!” Die antwoorde uit mense in ’n skare het neergekom op: “Rykdom, plesier, roem.” ’n Handearbeider het gesê: “Meer loon, meer ontspanning, meer vermaak.” Drie jongmans het vol lag na mekaar geloer en al drie het een woord geantwoord: “Meisies!” Toe vra hy sy vraag vir ’n betreklik arm man, wat oor ’n lang tyd die gedrag van ’n toegewyde Christen openbaar het. Hy het ook een woord geantwoord, maar toe daarop uitgebrei: “Christus. Maar ek sal dit op drie maniere sê. Ek wil graag in Christus wees, soos Christus wees en met Christus wees.” “…om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee …” (Fil.3:8,9). ’n Mens is gelukkig as die Heilige Gees hierdie gesindheid in die hart opgewek het, want dit is nie `n natuurlike, menslike behoefte nie. “So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het…Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee…” (Ef.2:3-6).
“Here, vandag verlang ek waarlik om nader aan die Here Jesus te lewe"