Do 10 Sept: Is Jesus Welkom?

Lees Openbaring 3: 19 – 22

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan…”(20)

Holman Hunt se skildery “Christus die Lig van die Wêreld”, toon Jesus, met ’n lamp in sy reg­ter­hand, terwyl Hy met sy linkerhand, aan ’n massie­we deur, met swaar panele klop. Met die onthulling van die skildery, het verskillende kuns­ken­ners met waardering hul mening daaroor uitge­spreek. Die bekendste kritiek was dié van die man wat vir Hunt gesê het: “Jou skildery is nie volledig nie. Die deur het nie ’n knop nie.” “Dit is volledig,” het die skilder geantwoord. “Dit is die menslike hart se deur, wat ek geskilder het. Die knop is aan die binnekant. Dit kan net van binne af oopgemaak word.” Jesus breek nie in die hart in nie. Hy klop lank en aanhoudend, maar ’n mens moet vir hom opmaak.

As Jesus na u huis sou kom, om daar ’n ruk te bly;
As u heel onverwags van Hom so ’n besoek moes kry –
Dan wonder ek wat u sal doen, wat u presies sal sê;
En of u spyt of bly sal wees om Hom as Gas te hê

En – as Hy aanklop, sal u Hom verwelkom by die deur?
Met wyd oop arms Hom ontvang en bly wees oor die Heer? –
Ek wonder, as die Heiland dan so vir ’n dag of twee
By u tuisgaan, of dit u dalk ongerief sal gee.

Sal u nog soos elke dag dieselfde doen en sê?
Sal Jesus oral saam kan gaan waar u besoek aflê?
Sal u ook sterk begeer dat Hy u vriendekring ontmoet?
Of sal u angstig poog om dit tog liewer te verhoed?

Ja, dit sal goed wees om te weet wat u sal doen as Hy,
Persoonlik, vir ‘n dag of so by u aan huis kom bly.
Sou u verlang dat Hy maar voorts sy tuiste daar moet maak,
Of sal u as Hy gaan, ’n sug van groot verligting slaak?

In sommige huise hang ’n muurprent met die woorde: Christus is die Hoof van hierdie Huis, Die Onsigbare Gas by elke Maaltyd, Die Stille Luisteraar by elke Gesprek. Waar Christus regeer is daar vrede en orde. Hy gee seën waar Hy woon. Daardie huismense dra die aangenaamheid van Christus se teenwoordig­heid met hulle saam na die wêreld daar buite toe uit. Ander word deur hulle lewens geseën.

“Here, vandag verwelkom ek U hartlik. Ek wil alles in my lewe inrig om u te behaag.”