Ma 7 Sept: Elkeen se deel Belangrik

Lees Nehemia 4: 15 – 20

 “…elkeen na sy werk toe…dié wat boumateriaal moes aandra…dié bouers…die ramshoringblaser…”(16,17)

 Eerw. Fearing het dikwels aan die vrug op sy ar­beid getwyfel. Hy het gevoel hy werk tevergeefs vir die Here. Die resultaat was so gering. Hy het vir John Wesley gesê: “As ek soos jy kon preek sou ek tevrede gewees het.” Wesley het hom geantwoord: “Ons bou God se tempel. Gaan lees Nehemia 3 en 4 en leer daaruit dat dié man wat die Vullispoort herstel het, net so veel eer ontvang het as die man wat die Fonteinpoort herstel het (Nehmia 3:13,14). Elkeen het sy deel gedoen en elkeen se deel was so belangrik as die ander een se deel. En ons, my broer, kan nie meer as óns deel doen nie.” “Wat sy kon het sy gedoen…” (Mark. 14:8).

’n Vrou het voor ’n indrukwekkende katedraal, wat pas voltooi was, gestaan en die gebou be­won­der. Sy hoor iemand agter haar sê: “Ons het darem ’n voortreflike stuk werk hier verrig.” Sy draai om. Agter haar staan ’n man in ’n gewone oorpak. “Sê my asseblief wat jou aandeel was?” Trots ant­woord hy: “Ek het vir twee jaar oorkant die straat die beton gemeng.” In vergeleke met die vakmanne wat aan die katedraal gewerk het, was sy aandeel skynbaar gering en onbeduidend. Maar hoe sal ’n ge­bou sonder die betonmengers opgerig kan word? Wat sal gebeur as hierdie nederige manne se be­ton by ’n gebou ontbreek? Dit sal nie gebou kan word nie.

Die probleem is nie hoe belangrik of hoe onbeduidend ’n mens se taak is nie. Die vraag is: “Hét ek die deeltjie wat ek moes doen, wel gedoen? Van die dienskneg wat een goue muntstuk ontvang het, in Jesus se gelykenis in Matteüs 25:14, het die man net so verslag gevra as van die dienskneg aan wie hy vyf goue muntstukke toevertrou het.

As tulpe verdroog, of een se stam of wortels kry seer en hulle begin doodgaan, sal hulle almal afbuig ondertoe en later op die grond val. Dis dieselfde met ’n voël. ’n Lewendige voël oorwin die aarde se swaartekrag en dit lyk of hy so maklik vlieg en sweef, maar as ‘n voël iets oorkom terwyl hy vlieg, bv. geskiet word of iets, val hy soos ’n klip af grondtoe.”

Dit is ook die geheim van ons geestelike oorwinning. “Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Rom.8:9)”. ’n Christen het ’n oorwinnende geestelike lewe, ’n lewe na die wil van God, deur die Heilige Gees wat in hom woon en werk. Solank die Heilige Gees in ons die botoon voer, lewe ons vir die Here. “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie” (Gal.5:16). Kom daar geestelike droogte in die hart, omdat ons die Hei­lige Gees deur ongehoorsaamheid bedroef, of ons ver­waarloos ons omgang met die Here, sodat ons nie gedurig vernuwe word nie, soos ’n tuin wat gereeld besproei moet word nie, tree daar dadelik verval in en kry die wet van die sonde in die menslike natuur oor ons die oorhand. Ek het eendag in ’n versorgde tuin ’n bedding blomme gesien met kelke wat almal slap grond toe hang. Toe gebeur ’n wonderwerk voor my oë. Die man van die tuin maak die water na hierdie bedding toe oop. Binne minute, daar voor my oë, lig die blomkelkies op en ryk son toe. Soms is ons moeg en bedruk en ons voel swak, en dan het ons ’n ontmoeting met die Here – miskien in ’n kerkdiens of biduur, of in die binnekamer, of deur ’n boek wat ons lees of ’n gesprek wat ons met iemand voer en dadelik is daar nuwe lewe en nuwe krag in ons geestelike lewe.

“Here, vandag wil ek herleef sodat ek volgens u wil kan lewe.”